Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Wanneer Dodo Nyoka sy mond oopmaak en sing, hoor jy meer as net ’n mooi stem, jy hoor ’n lewensreis. Van sy geboorte in die Demokratiese Republiek van die Kongo tot sy grootwordjare in Suid-Afrika en sy naam-maak as een van die varsste stemme in Afrikaanse musiek, dra Dodo se verhaal iets besonders: hoop, vasbyt en ’n liefde vir ’n taal wat mense bymekaarbring. Met sy aansteeklike energie, country-klanke en liedjies soos Foto’s en Country Girl van Bloem wat lank ná die laaste noot by jou bly, is hy besig om nie net gehore se harte te wen nie, maar ook persepsies te verander.
“Musiek is my stem. Dit is vir my makliker om ’n storie te vertel met musiek en kuns, as net met woorde. Met my lirieke en musiek, kan ek regtig uit my hart uit praat,” vertel hy.
Dodo vertel aan Afrikaans.com dat hy as kind ’n ernstige spraakgebrek gehad het, waaroor hy vreeslik gespot is. “Ek het baie gehakkel, en ek onthou dat ek eenkeer vir ses maande nie ’n woord gepraat het nie as gevolg van al die gespottery. Ek het gevoel ek wil wegkruip, en dat ek nie goed genoeg is nie. My ma het by die huis altyd Hillsong-liedjies gespeel, en eendag toe speel hulle een van die liedjies by die skool. Ek het begin saamsing en het glad nie gehakkel nie. Dit is toe ek besef het, musiek kan my taal wees.”
Dodo is gebore in die Demokratiese Republiek van die Kongo naby die grens met Rwanda, maar hy het as baba saam met sy ouers Suid-Afrika toe gekom en aanvanklik in die Oos-Kaap gebly. Sy gesin het later na Benoni verhuis, waar sy pa steeds bly. Dodo self bly tans op ’n plaas naby Heidelberg. “Ek kan nie kreatief wees in ’n plek wat te besig is en wemel van mense nie. Op die plaas kan ek naby aan die natuur wees en my batterye herlaai. Dit is lekker om daar te ontspan, weg van mense wat my moontlik kan herken.”
Dodo is ook baie lief vir perdry, en op die plaas in Heidelberg is daar twee perde waarmee hy dikwels die veld invaar.
“Ek het in graad sewe vir die eerste keer op ’n perd se rug geklim, en die gogga het behoorlik gebyt. Ek kan sê ek is amper net so lief vir musiekmaak as wat ek is vir perdry! As ek dit elke dag kan doen, sou ek beslis.”


Suid-Afrikaners het die eerste keer van Dodo gehoor in 2022 toe hy die naaswenner was van Die Kontrak, met Karlien van Jaarsveld as sy mentor. “Dit was my idee om in te skryf vir die kompetisie. Ek het ’n beurs gehad om siviele ingenieurswese by Tukkies te studeer, maar die Covid-pandemie in 2020 het daardie plan in die wiele gery. Dit is in die grendeltyd wat ek besef het, musiek is my roeping. Dit het gevoel asof dit regtig die Here is wat met my praat en my in die rigting van ’n musiekloopbaan stuur. Die Kontrak was ’n ongelooflike groot platform wat vir my soveel deure oopgemaak het in Afrikaanse musiek. Ek wil ook graag ’n verskil maak met my musiek en mense se lewens aanraak.”
Die vraag is natuurlik, hoekom Afrikaanse musiek?
“Ek voel baie tuis in die Afrikaanse musiekbedryf. Ek het van jongs af besef dat Afrikaans ’n baie sterk taal is en dat jy nie soveel woorde soos in Engels nodig het om jouself uit te druk nie.”
“In Engels hakkel ek nog baie, maar nie wanneer ek Afrikaans praat nie.” Sy doel met sy musiek is juis om mense bymekaar te bring. “Baie mense vergeet deesdae van ubuntu met al die verdeeldheid in ons land. Ek wil ook hê mense moet onthou dat ek nie net ’n Afrikaanse sanger is nie, ek skryf ook country en ander Engelse musiek. Ek het net gevoel die Here wil hê ek moet in Afrikaans begin met my loopbaan, om vir die wêreld te wys ons is dieselfde, ons almal se bloed is rooi.”
Optredes voor massiewe gehore soos by Afrikaans is Groot, bly vir hom as ’n self-erkende introvert steeds ’n groot uitdaging. “Ek warm altyd my stem op, en dan bid ek en vra vir die Here om my te help. Ek kan dit nie sonder sy hulp doen nie. Ek kan nie op my eie krag staatmaak as ek voor 30 000 mense moet sing nie. Ek wil die bewondering wat ek van die gehoor kry, terugreflekteer na Hom.”
Met sy liedjies dra Dodo sy hart op sy mou. Een van sy groot treffers, Country Girl van Bloem, het ’n baie persoonlike storie. “Ek het die liedje geskryf net na hoërskool toe ek uitgemaak het met ’n meisie. Dit was aanvanklik baie hartseer en ek het die verlede vorm was in die lirieke gebruik, maar ek glo dat ’n mens altyd iets slegs en hartseer kan verander in iets moois. Daarom het ek besluit om dit positief te maak en eerder die teenwoordige is te gebruik in die lirieke en dit ’n lekker upbeat ritme te gee.”
Een van sy nuutste enkelsnitte, Jannaman, is opgedra aan sy pa.
“Hy is iemand wat nooit opgee nie, hy is ’n man wat nooit einde het nie. As ek soms voel asof ek wil opgee, kyk ek vir hom en sien hoe hy die lewe benader – hy werk hard en is altyd positief. Dit is waaroor die liedjie gaan. Ek het dit vir hom geskryf as ’n verjaarsdaggeskenk, want dit is ook ’n geskenk wat aanhou gee. Ek koop altyd vir hom skoene vir sy verjaarsdag, en teen die volgende verjaarsdag is dit op,” lag hy. “Hierdie keer het ek vir hom iets gegee wat gaan hou.”
Dodo is tans besig met ’n Engelse country-album, en hy het pas teruggekeer van Amerika waar hy saam met ander kunstenaars aan die liedjies gewerk het. Saam met die album gaan hy ook sy getuienis en meer van sy agtergrond deel. Nog ’n groot droom van hom is om ’n duet op te neem saam met die Nederlandse sangeres Hannah Mae. “Ek voel net dit is een van daai dinge wat ek moet doen – dit sal fantasties wees as ons dit kan laat gebeur.”








