Resep deur: Karla Janse van Vuuren
Winter en sop is vir my sinoniem, dis my trooskos wanneer die koue kom aanklop. Ek is een van daardie mense wat nie ’n liefhebber is van ’n dun, waterige soppie nie. Nee, gee my ’n lekker dik, vullende sop waarin my lepel sommer kan regop staan! Vandag deel ek die resep vir my oranje-sop – dit word gemaak met drie verskillende oranje-groentes, en gegeur met lekker speserye vir ’n bietjie woema. Omdat ek die groente eers rooster voordat ek dit in ’n sop omtower, het dit ’n wonderlike, intense smaak wat jy nie kry as jy net die sop ‘kook’ nie. Dit is dalk so ’n klein bietjie ekstra moeite en nog ’n bak om te was, maar glo my, dit is die moeite werd.
As jy hou van ’n bietjie hitte, voeg ’n knypie gedroogde rissievlokkies by wanneer jy die sop versap, op drup ’n paar druppeltjies rissie-olie oor die sop nadat jy dit in bakkies geskep het. Ek geniet dit altyd om ’n bietjie feta of fyngerasperde parmesaan bo-oor te sprinkel, en natuurlik is ’n sny varsgebakte brood of ’n lekker sagte broodrolletjie ononderhandelbaar saam met sop. Klik hier vir my lekker tuisgebakte broodresep. Die sop kan vir tot vier dae in die yskas gebêre word – die smaak verbeter eintlik as dit so ’n paar dae in jou yskas vertoef. As jy dit met groenteaftreksel maak is dit geskik vir streng vegetariërs (sonder enige kaas natuurlik), en as jy dit vir vleisliefhebbers maak kan jy dit ekstra-lekker maak deur bietjie brosgebraaide spekblokkies bo-oor te strooi.
Afrikaans.com se sopliefhebbers moet beslis hierdie probeer:
Oranje-groentesop
Bestanddele:
1 middelgroot botterskorsie (butternut), geskil, pitte verwyder en in blokkies gesny
3 groot wortels, geskil en in stukke gesny
2 groot oranje patats, geskil en in blokkies gesny
2 middelgroot uie, in kwarte gesny
3-4 groot heel knoffelhuisies, geskil
’n paar takkies vars tiemie
Olyfolie
Sout en varsgemaalde swartpeper
2,5 ml fyn komyn
2,5 ml fyn koljander
2,5 – 5 ml matige kerriepoeier
500 ml – 1 liter hoender- of groenteaftreksel
Feta of parmesaankaas, vir voorsit en tiemietakkies vir garnering
Varsgebakte brood
Metode
- Voorverhit die oond na 200°C. Plaas die botterskorsie, patats, wortels, uie en knoffelhuisies in ‘n groot oondvaste bak wat met kleefwerende kossproei bespuit is. Sprinkel olyfolie, sout en peper oor die groente en meng deur. Druk nou die tiemietakkies hier en daar tussen die groente in.
- Plaas die bak in die warm oond en rooster tot gaar – sowat 40 minute. Roer na 20 minute deur, en hou dop dat veral die uie nie brand nie. As die groente na 40 minute nie sag is nie maar dit lyk asof dit plek-plek té donker begin word, bedek die bak met foelie en los vir nog 20 minute in die oond. Toets dan of die groente gereed is en haal die bak uit die oond.
- Plaas ’n groot kastrol oor matige hitte en giet olyfolie in. Gooi nou die speserye in en roerbraai ’n minuut of twee tot geurig (oppas dat dit nie brand nie). Verwyder die tiemie-takkies uit die groentebak, en tiep dan die gaar groente in die kastrol. Roer sodat dit met die speserye bedek word.
- Giet die warm groente- of hoenderaftreksel by en laat prut teen lae hitte vir sowat 20 minute. Jy kan meer of minder aftreksel gebruik afhangende van hoe dik jy die sop verkies.
- Laat die sop effens afkoel, en versap dit dan met ’n stokmenger of in jou voedselverwerker tot so glad soos jy verkies (ek hou daarvan dat dit nog lekker tekstuur het).
- Sit die sop voor met feta of parmesaankaas bo-oor gestrooi, en garneer met vars tiemie. Dit is heerlik saam met enige brood van jou keuse!







