Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Afrikaans.com se boekwurms wat ook belangstel in Suid-Afrikaanse geskiedenis, moet ’n plan maak om Bethulie: My lewe in die kamp deur Rensche van der Walt aan te skaf. Die boek word op 3 Julie deur Jonathan Ball Publishers uitgegee en sal teen R360 in aanlyn en fisiese boekwinkels beskikbaar wees. Die boek is ’n heruitgawe van Rensche se dagboek wat in die 1960’s verskyn het, en ’n hele nuwe generasie mense kan nou lees van haar ervaringe in die Bethulie-konsentrasiekamp. Sy is in April 1901 deur Britse soldate gevangene geneem, en het op Oujaarsdag in 1902 na Reddersburg in die Oranje-Vrystaat waar sy vandaan kom, teruggekeer. Sy was net 23 jaar oud toe haar lewe deur die Anglo-Boereoorlog omvergewerp is en sy, haar ma en drie susters Bethulie-kamp toe gestuur is. Twee van haar broers was op kommando, maar is later gevangene geneem.
Rensche het dagboek gehou van haar ervarings in die kamp, en lesers van die 21ste eeu kan nou deur haar woorde weggevoer word na ’n plek van ondenkbare swaarkry, maar ook volharding. ’n Mens beleef ook die kommer oor haar pa en broers, en die hartseer daarvan om byna daagliks geliefdes en kennisse aan die dood af te staan. Die dagboek is uit die oorspronklike Nederlands vertaal deur Daniel Hugo, en Rensche se storie word verder verryk deur bydraes van geskiedkundiges, onder andere dr. Johan van Zyl van die Oorlogsmuseum. Van Zyl en dr. Fransjohan Pretorius gaan ook by die Stellenbosch Woordfees (3-11 Oktober) ’n gesprek oor die boek met Esté Kotze voer. Dit vind op 8 Oktober om 10:00 plaas – vir meer inligting of kaartjies, besoek https://woordfees.co.za/en/program/bethulie-my-lewe-in-die-kamp/








