Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Jou kind se sosiale en emosionele welstand in die 21ste eeu
Sosiale en emosionele welstand het in die 21ste eeu ekstra ondersteuning nodig Volgens die Mental Health Million Project ervaar jong volwassenes wêreldwyd ’n mate van sosiale isolasie wat tot emosionele spanning lei. Kinders en jongmense spandeer toenemend minder tyd saam in mekaar se geselskap, terwyl hulle meer tyd aanlyn spandeer. Dit lei tot ’n gebrek aan spontane, alledaagse geleenthede om sosiale en emosionele vaardighede te oefen. Die gevolg is dat kinders sukkel om ’n realistiese selfbeeld te ontwikkel.
Daar is ook ’n afname in verhoudingsvaardighede, konsentrasie en emosionele veerkragtigheid. *In die literatuur word na hierdie verskynsel verwys as “die afname van die sosiale self”.
Digitale interaksie kan fisiese kontak nie suksevol vervang nie
Kinders moet in lewende lywe met ander sosialiseer om te leer hoe om sosiale situasies op te som, spontaan te reageer, gevoelens van ontoereikenheid te hanteer en gesigsuitdrukkings en liggaamstaal te lees. Hierdie vaardighede vorm die grondslag vir die ontwikkeling van empatie en sosiale insig.
Sosiale- en emosionele vaardighede is breingebaseerde vaardighede
Kommunikasienetwerke word slegs uitgebrei in dele wat gereeld gebruik word. Kinders moet dus letterlik sosialiseer en oefen om konflik te hanteer en probleme op te los – net soos iemand ‘n sportsoort net met gereelde oefening kan bemeester ’n Gebrek aan oefening op sosiale gebied lei tot agterstande in selfregulering, emosionele intelligensie, en die vermoë om goeie verhoudings te bou en saam te werk. Dis ironies dat sosio-emosionele vaardighede – wat deesdae om toenemend afgeskeep word – juis in die 21ste eeu meer belangrik is as ooit tevore.
Hierdie is nie boekekennis nie
Kinders wat in ideale omstandighede grootword internaliseer die ingesteldheid en gedrag van rolmodelle wat beleefd, verdraagsaam en empaties optree. Hulle boots die gedrag na in sosiale interaksie met ander kinders, en oefen dit só in.

Twee komponente dra by tot sukses
(1) Goeie verhoudings met gerespekteerde volwasse rolmodelle waarby die kind veilig voel, en (2) Gereelde interaksies met ander kinders waar die deelnemers fisies teenwoordig is.
Wat is die leeruitkomste?
Emosionele geletterdheid: Kinders wat hul eie emosies kan benoem, verstaan en reguleer, is meer veerkragtig. Dis ook vir hulle makliker om ander se emosies ook te lees en hanteer. Lees gerus meer oor die vyf pilare van emosionele intelligensie via hierdie skakel.
Sosiale geletterdheid: Kinders leer mettertyd om op nuwe maniere met ander kinders te speel. Lees meer hieroor via diè skakel.
In die 21ste eeu kyk ons deur ’n wyer lens na mylpale in sosiale ontwikkeling. Speel bly die vertrekpunt, maar ons skenk ook meer formeel aandag aan progressiewe mylpale in terme van: emosionele geletterdheid, respek, empatie, samewerking, aanpasbaarheid, goeie maniere in groepsverband, selfvertroue in groepe, en die bou van vriendskappe.
Hierdie artikel is met vergunning van die AON geplaas. Vir meer inligting, besoek hul webtuiste: https://aonetwerk.co.za/







