Skrywer: Nicolette Kritzinger
Ek het nie kinders nie. En na Januarie twyfel ek baie sterk of ek wel kinders wíl hê.
’n Week na die skole open, kry ek ’n vriendin vir koffie. Haar gesig lyk of Januarie al drie jaar lank is. Ek weet klein Frikkie is ’n paar dae terug graad 2 toe, maar ek het gedink sy sou verheug wees. Op die derde dag van die vakansie het Frikkie ’n gat in die opblaasswembad gebyt en sy suster se Barbie heel ingesluk.
Op Kersdag het hy voor kerk twee sjokolade-Kersvaders opgeëet, net om tydens die diens op die verhoog te hardloop, Baba Jesus uit sy krip te gryp en gillend straataf te hardloop. Hy het in die proses die Dawidster in die hande gekry en gedreig om die dominee te steek as hy te naby aan hom kom.
“Jy sal nie glo hoeveel goed ons vir Frikkie vir skool moes koop nie. Kyk hier!”
Sy pluk twee A4-bladsye uit.
Ek sou nou nie vir Frikkie uitskel as ’n akademiese reus nie. Iets in my dink nie hy gaan al hierdie goed nodig kry nie.
Hoe verder ek lees, hoe meer geskok is ek. Die meeste van ons betaal nog af aan daardie stuk gammon wat jou op Kersdag vyf kilo’s laat optel het en die fake tan wat na die eerste brander op Hartenbos se strand afgespoel het.
En dan kry jy nou in Januarie hierdie bederfie: R2 000 se skryfbehoeftes voor jou kind sy boude op ’n skoolbank mag sit.
So besluit ek om navorsing te doen. Dit kan tog nie só erg wees nie. Ek nader drie ma’s vir hul kinders se skoolbehoeftelysies. Net drie.
Skielik word ek op geheime WhatsApp-groepies gevoeg waar ma’s onder skuilname gal braak oor die items op hul skoolkinders se lysies. Voor ek my oë uitvee, ontmoet ek vreemdelinge op straathoeke, word ek na ondergrondse vergaderings genooi en ontvang ek anonieme oproepe waartydens ma’s koorsig hul kinders se skryfbehoeftelysies aan my voorlees.
Almal se opdrag is dieselfde: Ek sal vir jou my kind se lysie gee; moet net nie my naam noem nie.
So vandag deel ek graag met julle van my gunstelingitems op hierdie lysies. Anoniem natuurlik.
’n Skoolbaadjie (moet ten alle tye in die skoolgebou saam met jou pull-over gedra word) – sodat jou kind in Februarie, in die warmste maand van die jaar, kan sweet soos ’n moordverdagte voor ’n vonnisoplegging.
Ek onthou die skoolklere wat my ouers altyd vir my gekoop het. 10 mates te groot. Jy het altyd eers die skoolrok gesien en dan die kind. My vriende het in graad 7 vir die eerste keer my gesig en my knieë gewaar. Voor dit het hulle my net aan my stem geken. En die duur items was altyd die grootste. Os du Randt sou gemaklik in my graad 8-skoolbaadjie kon pas en nog genoeg beweegruimte hê om te sak vir ’n skrum.
’n Volledige meetkundestel. Frikkie kan nog nie eers tot drie tel nie, maar hy moet ’n wiskundestel op sy eerste dag van skool saamneem. Ek dink dis net ’n kwessie van tyd voor klein Frik ’n ander kind met daai passer in die nek steek en dan het ons nou vir jou ’n reeksmoordenaar op hande.
Drie liniale. Almal 30 cm. In my totale bestaan van 31 jaar kon ek dit nog nie regkry om drie liniale op te gebruik nie.
Vier bokse tissues en twaalf toiletrolle. Om wat mee te maak? My trane af te vee nadat ek die rekening vir alles op hierdie lys betaal het?
Agt buisies Pritt. Daar gaan my pensioen.
Op een skool se lysie word daar aangedui dat space cases verbied word. Leerders moet ’n pennesakkie met die skool se wapen op bestel en elke kind se naam moet in “royal gold” op die sakkie geborduur word asof hulle ’n afstammeling van Prins Charles homself is.
Dis waansinnig.
Waarop gaan jy nou in Tippex jou crush se naam skryf?
By party skole moet alle handboeke nuut gekoop word. Onthou jy nog toe ons aan die begin van die jaar al ons boeke by die skool gaan afhaal het? Aan die einde van die jaar neem jy daardie selfde hopie boeke terug. As jy op een of meer van die bladsye gekwyl het, of jy het jou rooi koeldrank daarop gemors, dan moes jou ouers dit betaal.

Ek onthou nog hoe ons kon lag vir die gekrabbel in die handboeke … potloodnotas deur verveelde kinders wat oor geslagte heen oorgedra is. So het ons geweet dat Kobus en Marie in 2004 ’n 62% kans gehad het om te kys, dat meneer Gouws en juffrou Swanepoel vibe en dat die snoepietannie eintlik ’n man is.
Vier oranje regterhandskêrtjies. Wie het vier regterhande? Is jy ’n seekat? En ek dog ons het nou al bevestig dat daardie highlighter oranje nie ’n kleur is wat by enigiemand se gelaat werk nie.
Vier uitveërs. En moenie dink jy gaan deurglip met ’n goedkoper Pep-nommertjie nie. Nee, detensie vir jou as daai uitveër nie ten minste iemand se geheue kan uitwis nie.
En dan … my gat se deksel: drie pakke lekkers. Vir wat? Sodat meneer Van der Merwe by die huis vir sy vrou kan sê hy is op ’n dieet terwyl hy skelm pouses Quality Street-sjokolades uit sy onderste laai grou?
En hierdie skryfbehoeftelysie is maar net die begin.
Dan kom die uitstappies, die hokkiestokke, die lyfroom vir juffrou Potgieter se verjaarsdag, die fondsinsameling vir die heining om die tennisbane, ’n R20 sodat jou kind sy gewone klere skool toe kan dra, ’n kostuum vir Frikkie se debuut as ’n boom in die jaarlikse skoolkonsert.
Of jy is een van die uitverkorenes wat per ongeluk ’n Celine Dion gebaar het en nou by elke sangkompetisie in die land moet wees. Of ’n Eben Etzebeth wat elke twee weke nuwe toks nodig het.
En wat kry jy as ouer daarvoor? ’n Medalje? ’n Prys as die beste ouer van die jaar?
Nee. Kom ek sê jou wat jy kry.
’n Vieslike maagvirus twee dae na die skool begin het omdat ’n maatjie pouse op Frikkie genies het. Dís wat jy kry.
Ja, ouerskap bly ’n ondankbare werk.
Maar dan wonder ek … gaan daar nie ’n dag kom wat jy terugkyk en daardie klein lyfie mis wat opgewonde na jou toe hardloop met ’n vetkryt-meesterstuk wat hulle vandag by die skool geteken het nie?
Die blink ogies wat jou in detail vertel van hul skooluitstappie na die akwarium, of die kyk in hulle oë as hulle omdraai om seker te maak jy het die drie gesien.
Ek dink op daardie oomblik gaan jy wonder hoekom ’n skryfbehoeftelysie of ’n skooluitstappie op ’n tyd so groot gevoel het.
Of dalk nie. Dalk gaan jy dan juis bly wees dat ’n PNA-lysie nooit weer sy weg na jou toe vind nie. En dit, liewe ouer, is ook oukei.







