Nou ja – wanatu jy ook al op pad is – danatu, soontu, annerkantu, boontu – die Wanatu- e-taxidiens kry jou daar … in Afrikaans.
Vir diegene in Centurion en Pretoria wat van ubers gebruik maak, is daar deesdae ‘n nuwe app beskikbaar.
Die privaat e-taxidiens, Wanatu (Waarnatoe), is in Oktober 2024 begin en het reeds meer as 30 000 lede wat op die app ingeteken is. Wat hierdie taxidiens uniek maak, is dat die bestuurders Afrikaans behoorlik magtig moet wees – bygesê, jy as passasier hoef nie noodwendig Afrikaanssprekend te wees nie, want die app funksioneer ook in Engels, maar as Afrikaans jou moedertaal is, kan jy en die bestuurder heerlik in Afrikaans gesels. Jy is ook verseker van ‘n gladde en veilige rit, want hierdie diens gebruik net hibried-elektriese Toyota Corolla Cross-sportnutsvoertuie. Die diens is ook beskikbaar vir skool- en lughawevervoer.
Addisionele veiligheidsmaatreëls wat ingestel is om te verseker jy kom veilig by jou bestemming uit is:
- Paniekknoppies op die app
- ‘n Tweerigtingradiostelsel en kontrolekamer wat elke rit monitor
- ‘n Volgtoestel
- ‘n Kamera op die instrumentpaneel wat net die bestuurder wys en nog kameras wat die binneruim en buitekant van die motor monitor
- Die vermoë om jou eie bestuurder te kies, want alle bestuurders is slegs in voltydse diens by Wanatu.
Judith van der Walt, uitvoerende hoof van Wanatu, sê in ‘n artikel op Netwerk24 (Dagsê! Dié taxidiens praat Afrikaans) dat Wanatu vir almal toeganklik is, ongeag kultuur, ras of geslag. “Wanatu is vir mense wat nie net ‘n rit wil hê nie, maar ‘n ervaring en vir wie veiligheid van die uiterste belang is. Ons is daarom gefokus om luukser, ruimer motors te hê. Die bestuurder kan te alle tye vanuit die beheerkamer dopgehou word. Die veiligheid van ons passasiers is ononderhandelbaar.”
Lees die volledige artikel hier: Dagsê! Dié taxidiens praat Afrikaans | Netwerk24