Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Erik Holm leef met passie, kreatiwiteit en deursettingsvermoë
Ons kom almal een of ander tyd voor uitdagings te staan en min mense kan sê dat die lewe elke dag maanskyn en rose is nie. Tog, is daar mense wat ongeag hulle omstandighede uitstyg, weier om te gaan lê en die vermoë het om ander te inspireer. So ’n mens is die akteur en kunstenaar Erik Holm. Afrikaans.com het heerlik met Erik gesels oor sy siening van die lewe, die liefde van sy hart, die uitleef van sy kreatiewe kant en natuurlik ook die dag, 17 jaar gelede, toe sy lewe dramaties verander het.
Erik het grootgeword in Hartbeespoort. Hy vertel dat sy voorsate uit Duitsland gekom het en hulle hier in Suid-Afrika kom vestig het. As die jongste van drie kinders – hy het twee susters – was sy grootwordjare in die klein dorpie vir hom heerlik en sorgvry. Dis veral Hartbeespoort se kleindorpiementaliteit, wat hy terloops as positief beskou, wat dit vir hom heerlik maak om steeds daar te woon. Verlede jaar is hy getroud met Colleen – ’n ontwerper en kunstenaar. Hy vertel dat hulle ontmoeting eintlik toevallig was en dat sy ’n woonplek by sy ouers op die plaas gehuur het. Na hulle ontmoeting, sê Erik, het hy enige verskoning moontlik uitgedink om saam met haar koffie te drink. Aanvanklik het sy hom gehelp met die ontwerp van sy webtuiste vir sy onderneming (maar soos Erik erken – eintlik was dit maar net nog ’n verskoning om meer tyd in haar geselskap deur te bring). Op die ou end het hy toe maar met die sak patats vorendag gekom en vir haar gesê hy hou baie van haar – gelukkig vir hom het Colleen dieselfde gevoel. Tydens ‘n kort vakansie op Zanzibar, het hy daar op ’n strand die ja-woord gevra. “Ek het myself uit my rolstoel gegooi en op die een knie gegaan (ek is ’n sucker vir romance!) en die groot vraag gevra. En toe sê sy ‘ja’. Ons troue was klein en intiem, maar pragtig en presies wat ons albei wou hê. Sy het soos ’n reënboog gelyk – van haar kop tot by haar tone. Dit was wonderlik!”
Die dinamika van ’n verhouding tussen ’n liggaamsgestremde en niegestremde persoon bied baie uitdagings, maar Erik reken dat hulle verhouding werk omdat hulle mekaar regtig op alle gebiede help waar hulle kan. “Colleen het my situasie (met die rolstoel) eenvoudig aanvaar. Daar is goeters in jou lewe en kompleksiteite wat jy nie kan ignoreer nie, dit is immers die realiteit, maar as jy gelukkig genoeg is om iemand te kry wat bereid is om dit deel te maak van hul lewensvisie en net eenvoudig kan sien wat is reg en verkeerd, regverdig en onregverdig, maak dit ’n hengse verskil. Ek was gelukkig genoeg om my engel te kry wat gewillig is om dit te doen. Sy laat my nooit voel dat dit vir haar moeite is nie.”

Jy kom uit ’n kreatiewe familie. Hoekom dink jy is dit belangrik om kreatief te lewe?
Erik vertel dat die Holm-familie altyd bekend was vir hul kreatiwiteit en kunstigheid en onderwysers wou altyd weet met watter kunsvorm die betrokke Holm wat op daardie tydstip in die skool was, goed was. Erik lag en sê dat dit altyd vir hom snaaks was, want hy was nooit regtig goed met enige kuns nie en het eers later in sy lewe by houtwerk betrokke geraak. As tiener kon hy homself nie vinnig genoeg uit die voete maak as sy pa (’n kranige skrynwerker wat al die meubels in hulle huis self gemaak het – twee keer boonop nadat hulle huis afgebrand het) hom gevra het om hom in die werkswinkel te kom help nie. Vandag, is dit vir hom ’n vreugde en voorreg om met hout te kan werk, sê hy. “Handwerk en kuns is ’n groot voorreg.”
Oor sy ongeluk
Erik was destyds, in 2007, besig met die verhoogproduksie van Fiela se kind, toe hy sy nek gebreek het en sedertdien ’n kwadrupleeg is. Hy vertel ons meer oor daardie eerste gewaarwording toe hy besef het: “Hier’s moeilikheid!”
“Ek het ’n eenmanstuk, Blou-Blou, oor die ongeluk geskryf waarin ek oor die ongeluk en die tydperk daarna, vertel het. Ek onthou, ek het nog in die water gelê toe ek geweet het hier is iets groot fout – al was ek nie op daardie oomblik seker presies wat dit was nie. Hoewel ek steeds alles onthou, word die herinneringe tog al hoe vaer. Nou, 17 jaar later, is dit nie meer iets wat so sentraal in my lewe staan nie en beslis nie iets waaraan ek dink wanneer ek aan my lewe dink nie. Ja, dit het gebeur en was ’n ongelooflike gatslag, maar dis nie meer die belangrikste of grootste ding wat in my lewe gebeur het nie. En dit is dié gewaarwording wat vir my spesiaal is.”
Affekteer so iets jou geestesgesondheid?
“Ja beslis – ek het altyd gedink die ergste is dat jy nie kan beweeg nie, maar dis die minste – dit kan jy oorkom met ’n goeie rolstoel. Die grootste probleem is dat jy regtig weer jou menswaardigheid moet vind. Jy word vir baie lank soos ’n stuk vleis behandel, want jy het geen beheer daaroor nie. Jy is afhanklik van ander, want jy kan nie self draai nie, self badkamer toe gaan nie … en dit is die goed wat aan jou vat. Ons is mos maar eiewys oor ons eie lywe en ewe skielik is jou lyf nie meer joune nie. En dit is moeilik. Om te besef: Wag so bietjie, ek is nie meer wie ek gedink het ek is nie – ek is nie meer die sterk man wat my meisie kan beskerm as iemand haar wil aanval nie. En om dan weer jou manlikheid te vind – dít was my grootste uitdaging.”
Voel jy soms “Hoekom ek?” Hoe bly jy so positief?
“Ek voel nie regtig ‘Hoekom ek?’ nie. Dis vreemd, maar ek veronderstel dis my persoonlikheid – ek voel eerder ‘Hoekom die wêreld?’ Ek vra meer hoekom daar pyn in die wêreld is. Ek sien dit eerder as ‘Hoekom níé ek nie?’.”
Jou fynmotoriesevaardigheid is deur die verlamming geraak – tog doen jy onder andere houtdraaiwerk.
Hoe kry jy dit reg?
“’n Maatskappy, BlackLine Tool Company, het ’n spesiale beitel verskaf wat ek gebruik en waarsonder ek nie sou kon doen wat ek doen nie. Houtwerk is my saligheid en ek is daarom baie dankbaar vir hierdie beitel en my spesiale draaibank. En natuurlik … waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.”
Houtwerk is nie al waarmee die talentvolle Erik woeker nie. Sy hars-en-hout- en ook gietysterontwerpe en nou ook ’n reeks ringe, is maar net van die items wat op sy aanlyn winkel of op bestelling, beskikbaar is. Erik en Colleen het aanvanklik begin om houttafels te maak en toe sommer enige iets waarvoor mense gevra het. “Moenie hierdie tingerige vroutjie van my onderskat nie – sy toor met ’n kettingsaag! Ons besigheid, House of Erco, spog eintlik met ’n absurde hoeveelheid vreemde items, van wynhouers tot ringe – ons sien kans vir amper alles! Gaan loer gerus by www.houseoferco.com of op my Facebookblad, Erik Holm.”
Gesels ’n mens so met Erik is jy verstom oor wat hy alles regkry. Voor sy ongeluk was hy ’n kranige kitaarspeler en musiek is steeds een van sy groot liefdes. Vir lank na die ongeluk kon hy egter nie meer kitaar speel nie, totdat sy ouers die bekende kitaarmaker, Mervyn Davis, genader het om ’n kitaar te maak wat spesifiek vir ’n kwadrupleeg kon werk. En dit is presies wat Davis gedoen het. Volgens Erik het hierdie “chord slammer” – soos wat Davis die kitaar genoem het – sy lewe verander. In Erik se woorde: “Mervyn bou van die beste kitare in die wêreld. Om my kitaar te bou was ‘n lang proses en hy het patent na patent gemaak – absoluut ongelooflik! Hou in gedagte, moderne elektronika kan ’n kitaar namens jou speel, maar ek wou juis nie dit gehad het nie, maar wou ‘n instrument hê waar ek ’n vaardigheid moes aanleer om die instrument te speel en wat ek met oefening nog beter kon speel. Ek wou nie net ’n knoppie druk nie. Mervyn het geluister na my versoek en die wonderlikste kitaar gebou – ’n instrument wat volgens my in elke terapiesessie in die land beskikbaar behoort te wees. Dis ongelooflik om musiek te kan maak en beteken soveel vir iemand soos ek.”

Wat maak om met jou hande te werk so spesiaal?
Wat beteken dit vir jou as mens?’
“Handwerk is so eie aan my en my saligheid. Ek kan nie my lewe daarsonder indink nie. Daarom wil ek ander aanmoedig om vas te stel wat vir hulle werk en sin maak binne hulle eie beperkinge. In my geval was daar baie uitdagings wat saam met die rolstoel gekom het, maar deur dit alles was ek steeds dieselfde mens. Die mense en die wêreld om jou verander nie omdat jou persoonlike omstandighede verander het nie. Jy bly afgesien van die daaglikse uitdagings, steeds dieselfde mens met dieselfde insigte. Hoe jy oor die weg kom, het eintlik nie veel te doen met jou manier van lewe nie. Daardie lewenskwessies, vrae en alledaagse bekommernisse is universeel – dit bly dieselfde vir almal en dit laat jou op die ou end deel van die wêreld voel.”
’n Mens wonder mos maar dikwels hoe ’n mens iemand in ’n rolstoel moet behandel, veral as jy die persoon nie ken nie. Erik sê dat hy eerlik vir mense sê hoe hy behandel wil word en dat hulle dit eintlik verwelkom, want hulle is onseker en bang hulle doen die verkeerde ding. “Daarom help ek hulle maar, want hulle weet nie altyd wat hulle kan of mag nie.”
Oor Binnelanders
Erik vertolk reeds amper 15 jaar lank die rol van Rian Malherbe. Die eens gematigde Rian het oor die jare verander in die “baddie” en hy is beslis nie altyd die gaafste mens nie. Sê Rian: “Ek geniet dit so. Elke dag is ’n vreugde. Ek het soveel liefde en respek vir die Starks, die Binneland-span en Rika Sennet. Ek verkies Rian die baddie. Dalk omdat dit so lekker is om iemand te speel wat so anders is as jou eie ervaring van jouself. Rian kan goed doen wat ek in die regte lewe nooit sal doen nie.”
Wat maak jou gelukkig?
“My vrou. Sy is die wonderlikste mens wat daar is.”
Beskryf jouself in ’n paar woorde.
Rian skerts en sê dat ’n paar woorde nie genoeg is om homself te beskryf nie. “Ek weet nie of jy ‘arrogante klein bliksem’ mag skryf nie.”
Het jy ’n emmerskoplys?
“Nie juis iets spesifiek nie. Ek het al so baie dinge gedoen nadat ek my nek gebreek het, van skubaduik tot valskermspring. Miskien pa word. Dit sal nogal spesiaal wees.”
Oor Afrikaans en moedertaal
Erik beklemtoon dat jou moedertaal beslis belangrik is. Hy noem dat hy self soms skaam is omdat hy sy taal so meng en selfs met tye sukkel om homself in Afrikaans uit te druk. “Daar’s so baie mooi en ’n ryke kultuur in die taal verweef. Ons kan nie toelaat dat dit net verdwyn of onder politiek versmoor word nie. Afrikaans is ’n beeldskone taal.”
En sy gunsteling- Afrikaanse woord?
Gatjieponner … (Vir diegene wat nie die woord ken nie – ons ken so ’n persoon as ’n Dopper – iemand wat lid is van die Nederlands Hervormde Kerk.)
*Afrikaans.com bedank Erik Holm vir sy tyd om met ons te gesels en ons lesers so ’n klein kykie op sy menswees en talente te gee. Erik, jy is voorwaar inspirerend.