Dié maklike mousse word met jogurt in plaas van room gemaak, wat steeds ’n heerlike romerige tekstuur verseker, maar minder ryk is. Jy hoef ook nie met eierwitte te sukkel wat eers styfgeklits en ingevou moet word nie. Die groot geheim? Goeie gehalte sjokolade en kakao vir ’n smullekker donkersjokolade-smaak.
Lewer 4 porsies
120 g (1½ standaard blok) goeie gehalte donkersjokolade, grofgekap
90 ml (6 e) goeie gehalte kakao
60 ml (¼ k) kookwater
25 ml (5 t) heuning
15 ml (1 e) vanieljegeursel
375 ml (1½ k) dubbelroom jogurt
granaatpitte of enige seisoensvrugte en eetbareblomme
- Plaas ’n glasbak, met die sjokolade, oor liggies pruttende water. Die bak moenie aan die water raak nie. Die water moet net prut en nie kook nie – as die sjokolade te warm word kan dit hard en krummelrig word. Roer tot gesmelt en laat effens afkoel.
- Klits die kakao en kookwater tot glad en roer die heuning en vanielje by. Roer die sjokolade by die kakaomengsel en meng deeglik tot ’n gladde mengsel. Laat effens afkoel.
- Roer die helfte van die jogurt by die sjokolademengsel tot goed gemeng. Vou die res by tot ‘n gladde mengsel.
- Verdeel die mousse tussen 4 klein koppies, glase of bakkies en verkoel vir 1-2 ure. Sit met granaatpitte of enige seisoensvrugte, soos druiwe, mango, perskes, pere, bessies of aarbeie voor.
Resep uit Maak vyf deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Verkoel die mengsel in ’n glasbak as dit die vorige dag gemaak word. Roer liggies deur as dit dalk vog uitgestoot het. Verdeel tussen die opdienbakkies, garneer en sit voor.
- Roer ongeveer 0,6 ml (⅛ t) gemaalde kaneel of kardemom of na smaak, by die kakaomengsel vir ’n interessante geurkinkel.