Persverklaring
“Groen” – ‘n Liefdesbrief aan twee tuistes
Die opkomende Afrikaanse sangeres, Niamh Beatrix, het vandag (6 Desember 2024) haar splinternuwe liedjie, “Groen”, vrygestel. Hierdie besondere snit is die vrug van ‘n unieke samewerking met die ikoniese Afrikaanse komponis en liriekskrywer, Hunter Kennedy, bekend as ‘n lid van die gewilde band Die Heuwels Fantasties.
Niamh, wat tans in Ierland woon, het die musiekwêreld op hol gehad toe haar emosiebelaaide weergawe van “Klein Tambotieboom” vroeër vanjaar die top van Suid-Afrika se treffersparades bereik het.
“Groen” vertel die verhaal van Niamh se lewensreis as ‘n jong, Afrikaanse ekspat in Ierland. Die lied weerspieël haar verlange na Suid-Afrika, maar ook haar diep liefde vir haar huidige tuiste, Ierland. Die lirieke vang die unieke emosies vas van ‘n mens wat trots is op beide hul kulturele erfenisse en wat glo dat liefde en taal geen grense ken nie. “Dit was vir my ongelooflik spesiaal om saam met Hunter Kennedy te werk,” sê Niamh. “Hy verstaan hoe ek voel oor my Afrikaans-wees, maar ook hoe ek Ierland as deel van my hart aanvaar het.
Ek hoop dat dit ‘Groen’ mense sal inspireer om te sien hoe ons identiteit deur onsliefdes en ervarings gevorm word – en hoe dit ons sterker maak.”
Kennedy, wat bekend is vir sy treffende lirieke en meesterlike melodieë, beskryf die projek as ‘n kreatiewe reis vol emosie en trots. “Niamh het iets spesiaals – haar stem dra soveel siel en haar kinderlike eerlikheid weerklink diep,” sê hy. “’Groen’ is ‘n lied wat oor veel meer as net verlange gaan; dit is ‘n viering van hoe ons, selfs oor kontinente heen, met mekaar verbind bly.”
Die liedjie is vanaf vandag beskikbaar op alle groot musiekplatforms, insluitend Spotify, Apple Music en YouTube.
Luister na “Groen” en ervaar die krag van taal, liefde en identiteit wat wêreldwyd weergalm.
Vir meer inligting of om onderhoude met Niamh Beatrix te reël, kontak:
E-pos: alda@woobl.net
Webwerf: www.niamhbeatrix.com
Einde.







