Skrywer: Anja van den Berg
Party noem dit ‘n multidoelwitvoertuig. Ander sê mikrobus. Die meeste van ons praat van ‘n kombi. Ek noem dit die kwintessensiële metafoor vir Die Gesinslewe. Die korporatiewe identiteit vir Voortplanting Inc. Prakties. Funksioneel. Ruim. Alles wat ’n tweesitplek-kabriolet nié is nie. Met ’n prysreeks van tussen R700 000 en R2.6 miljoen is dit beslis nie ’n winskopie nie! Maar as geld gekoppel is aan status, en status aan aantreklikheid, bewys hierdie voertuig evolusie verkeerd.
Om in genoemde voertuig te klim is soos om vriendelik-verplig te gaan koek-en-tee by daai tannie met die oorgroot, geblomde rokke en oorgroot, geblomde bo-arms. Ja, sy is gul en ruimhartig. Sy sny teen wil en dank vir jou nóg ’n stuk tuisgemaakte Cremora-tert terwyl sy haar sewe hondjies van die tafel af voer. Sy’s ’n goeie siel, betaal haar belasting en koop kaas in grootmaat vir die vrieskas. Sy’s fluks in die gemeenskap en speel elke Dinsdag kaart saam met die oumense. Jy kan haar nie miskyk nie, selfs al wil jy.
Voor jy kan keer, gooi sy nog tee in jou koppie. Haar rusbank kraak onder jou boude, want jy kan net nie jou sit kry op die praktiese plastiekoortreksels nie. Sy laai graag die spasie propvol koeitjies en kalfies, osse en jasse, kinkels en kabels. Maar julle het net byna niks in gemeen nie. Jy hou van soesji, sy eet graag afval. Jy kyk CNN, sy kyk Sewende Laan. Jy lag vir stand-up- komedie, haar gunstelingfliek is “Oh Shucks, it’s Schuster”.
Teen dié tyd is daar seker ’n paar mense wat my graag oor die skoot wil trek. Hoe durf ek ’n ikoniese voertuig so oor die kole haal?! Op hierdie punt wil ek graag ’n belangrike kantnota maak. Ek’s ’n baba van die vroeë tagtigs en my opinie oor ’n mikrobus is ongelukkig tydens my vormingsjare ingeprent.
’n Mikrobus was dikwels die voorkeurvoertuig vir ouers wat oorgegee het aan verpligtinge, verantwoordelikhede, KFC en kinders.
In 1995 kon die stilhou by ’n vulstasie op enige gegewe tyd my punt staaf.
’n Lewensmoeg, middeljarige pa met ’n boepens en ’n bril wat dateer uit die tagtigs swaai die deur oop. Mamma, met ’n bokknieë-sweetpakbroek en ’n neon T-hemp, is ’n kort koppie agter. Al twee is op pad na die geriefswinkel. Pappa mik vir ’n Coke en sigarette, en mamma vir ’n Mills & Boon-boek (uit die Christelike reeks, natuurlik, ná die dorp se onlangse Vinkelvroue-vergadering).
Vier orrelpypies borrel by die skuifdeur uit. Met ’n stofstorm skarrel die hele gesinnetjie by Wimpy in. Hulle is óf heeltemal onbewus van hul uitwerking op die res van ons wat ons hamburger in vrede wil eet, óf hulle geniet wat my graad twee juffrou ‘negatiewe aandag’ sou noem.
Die afstammelinge stop hulle kieste vol kaasbroodjies en gooi mekaar met suikersakkies terwyl Pappa bulder dat hulle moet stilsit en hulle milkshakes drink voordat hy hulle een-vir-een foeter! Mamma eet ’n romerige sampioenburger – maar troos haarself met ’n slaaitjie langs die kant – en wiks halfhartig een se boud wat bo-op ’n stoel staan om die TV te verstel.
In decrescendo daal daar stilte op die restourant neer toe die sirkus uiteindelik soos ’n vals blaasorkes buitentoe paradeer. Kelners trek skrapnel van korsies en platgetrapte tamatie van die vloer af. Mense bestel links en regs drinkgoed om die halfgekoude knoppe in hul kele te kan afsluk.
Met ’n Ventertjie kort op hul hakke, vertrek die geselskap soos ’n JOOL-vlot. More begin die week, en Mamma bestuur die buurt se netbal-saamryklub. Pappa woon elke tweede Dinsdag die skool se beheerliggaamvergadering by. Soos gewoonlik, is die kinderoppasser geboek vir Donderdag se date night; die sekretaresse bestel elke week namens Pappa vir Mamma blomme. Hulle sal na die gewone plek toe gaan, die gewone eet, praat oor die gewone goed en dan, soos gewoonlik, die voorspelbare sendelingposisie inneem.
So, toe my man nou die dag die hipotetiese idee van ’n kombi voorstel, kon geen skokbreker my gemoed stabiliseer nie.
Ek gooi paniekerig die groot prysetikette in die gesprek. Maar hy slaan my bekommernis sommer vinnig vir ’n ses: dis ’n tweedehandse model wat hy by ’n vriend kan koop. Die enjin is oorgedoen, maar die bakwerk is klassiek 1980’s. Daar sal oorgenoeg plek wees vir die kinders se tasse, fietse, speelgoed en daarmee saam kan die kampeertoerusting (wat ons nog nie besit nie) ook nog inpas!
Ek’s naby aan ’n paniekaanval, maar ek haal diep asem en tel tot tien. Goed dan, sê ek. Kom ons doen dit! Ek sal dan sommer die wit-en-rooi geruite koffiefles uit my ma se argief opdiep en ’n bak vol frikkadelle, hardgekookte eiers en koue hoenderboudjies inpak. Hy kan ’n ou PT-broekie en Aviators uit my pa se kas leen. Solank hy net ’n plan sien om oor die banke te klim wanneer die Groot Honger of die Groot Mors sy bestuurskedule onderbreek.
Ek sal solank vooruitry met my hipotetiese Porche 911 Targa.