Artikel deur Maroela Media
Ken jy die betekenis van hierdie woorde? Die verklaring en betekenis hiervan is op Maroela Media se taaltoffies gedeel en is ʼn waardevolle bron van inligting.
Ambidekster
ʼn Ambidekster verwys na ʼn persoon wat albei hulle hande ewe goed kan gebruik, met ander woorde ʼn dubbelhandige persoon. Dit kan ook volgens die WAT figuurlik verwys na ʼn persoon wat baie handig is en alles om hom in ʼn ommesientjie kan regruk.
Polvy
Die hak van ʼn skoen. Sy loop heel gemaklik met haar hoë polvye.
Die oorsprong van hierdie woord is baie interessant en volgens die Etimologie-woordeboek van Afrikaans is dit afgelei van die Nederlandse woord pollevij. Hierdie taal het dit weer ontleen aan die Spaanse polevi. Dit is ontleen aan Frans pont-levis wat ophaalbrug beteken. ʼn Ophaalbrug is ʼn brug waarvan die loop- of ryvlak opgehys kan word. Die vorm van ʼn polvy herinner dus aan so ʼn brug.
Prang
Prang is ʼn argaïese woord wat volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal in formele taal gebruik word. Dit beteken om vas te klem of te druk. Sy skoene prang hom, want hy het dit te klein gekoop. Dit kan ook figuurlik gebruik word om na iets wat kwel of benoudheid veroorsaak te verwys. Die naderende eksamen sorg vir ʼn geprangde gemoed.
Rompslomp
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beskryf rompslomp as ʼn omslagtige, vervelige gedoente of beslommering. Amptelike rompslomp word beskryf as ʼn oordrewe verkleefdheid aan formaliteite en regulasies deur die amptenary. Die rompslomp wat deel is wanneer ʼn mens ʼn nuwe onderneming registreer, maak baie mense moedeloos.
Snars
Die woord snars dui op ʼn geringe hoeveelheid – selfs niks nie. Dit word hoofsaaklik in uitdrukkings soos geen snars nie gebruik. Die woord is afkomstig van die Nederlandse woord snars. Aanvanklik het dit teug of sluk beteken soos in die sin geen snars proeven. Mettertyd het die betekenis daarvan ontwikkel na byna niks of ʼn baie klein bietjie – ʼn woord wat algemeen in Afrikaans gebruik word.’
Besoek https://maroelamedia.co.za/kategorie/afrikaans/taaltoffie/ om jou taalkennis op te knap.