Skrywer: Alita Steenkamp
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans, VivA, het oor die afgelope tien jaar van krag tot krag gegaan. Alhoewel dit aanvanklik net ʼn navorsingsprojek sou wees wat oor vyf jaar strek, het die waarde daarvan gou geblyk en tans is VivA totaal onmisbaar. Dit fokus veral op die drie hooffunksies: die beskrywing en bestudering van Afrikaans, die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddels en platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans en dan die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste deur middel van tegnologie.
Taalnavrae
Indien jy enige taalnavrae het, is daar maklike maniere om antwoorde op jou vrae te kry. Die heel maklikste manier is bloot om op VivA se webblad te gaan kyk waar daar ʼn lys is van die mees algemene taalnavrae wat ontvang word. Dit sluit temas soos idiome en vaste uitdrukkings, leestekens, sinskonstruksie, spelreëls, woordeskat en woordkeuse en vele ander in. Dalk kan jy sommer daar jou antwoord kry. Die ander twee opsies is om ʼn WhatsApp te stuur na 062 126 0295. Jy kan ook ʼn e-pos stuur om so ʼn antwoord op jou navraag te kry. Stuur dit aan taaladvies@viva-afrikaans.org. Om toegang tot die gratis inligting op die tuisblad te kry, moet jy eers ʼn profiel skep en registreer.