Skrywer: Alita Steenkamp
Eerskomende Maandag (15 Januarie 2024) is dit reeds 40 jaar sedert Koos du Plessis in die vroeë oggendure in ʼn tragiese ongeluk gesterf het. Om sy lewe en sy musiek te gedenk, bied RSG op Sondag 14 Januarie ʼn spesiale huldeblykkonsert aan. Jannie du Toit met sy medekunstenaars Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon) gaan hulle besonderse Koos du Plessis-program, Doep is nie dood nie, voor ʼn gehoor aanbied en dit word dan direk op lug uitgesaai. Hierdie is een van Jannie du Plessis se gewildste konserte en beslis iets om na te luister.
Koos du Plessis bly een van Afrikaans se gewildste liedjieskrywers en sy musiek word gereeld deur nuwe kunstenaars opgeneem.
Koos het vanaf die laat sewentigerjare bekendheid verwerf as Afrikaanse sanger en liedjieskrywer. Koos het veral bekendheid verwerf as die skrywer van die liedjie “Kinders van die wind” wat in die televisiereeks Phoenix en Kie (1979) gebruik is. Laurika Rauch het daardie weergawe gesing.
Binne die kort bestek van minder as vyf jaar vandat hy bekend geword het tot sy afsterwe in Januarie 1984 is hy meermale deur kultuurinstansies – waaronder die ATKV – vereer vir sy bydrae tot Afrikaans. In die volksmond het hy bekend geraak as “Koos Doep” en sy musiek-oeuvre, wat uit drie van sy eie vrygestelde albums en verskillende postume vrystellings bestaan, word as sinoniem beskou met die beste van die Afrikaanse kleinkuns.
Koos het as joernalis en subredakteur ʼn lewe gemaak en het onder meer vir Oggendblad, Die Vaderland, Die Nataller en Die Transvaler gewerk. In die vroeë oggendure van 15 Januarie 1984 het sy Volkswagen Kewer van ʼn brug naby Wierdapark, Centurion, afgery. Hy en sy vrou Mornay het in Wierdapark gewoon. Vir Afrikaans en Afrikaanse musiek was dit ʼn groot slag. Skakel op Sondag 14 Januarie om 13:00 in op RSG om na die konsert van Jannie du Toit te luister. Ons is almal immers kinders van die wind.







