Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Foto: Netwerk 24
“Ek breek my ma se hart daagliks … van (want) ek is ’n dief. Ek is ’n kleptomaan. Is waar ek vandaan kom wat maak laat ek so moet steel en die agste gebod keer op keer breek. Julle kan my nie kwalik neem nie. Nie as die mense in die Noord-Kaap lopende gedigte en kortverhale is nie. Hier lê stories en gedigte in onse Afrikaans. Ek maak my ore groter as ek hier is. Ek word stiller en ek luister net. Die taal wat hier (in die Noord-Kaap) gepraat word, die woorde wat gebruik word, maak my die mens wat ek vandag is. My bestaan lê vasgevang in die Afrikaans wat hulle hier praat.” Uittreksel uit rubriek op PEN Afrikaans – Die agste gebod deur Lynthia Julius
Lees ’n mens bostaande uittreksel is dit maklik om te verstaan hoekom dit juis die digter en skrywer Lynthia Julius is wat met die 2024 Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs vereer is. Die Afrikaans van hierdie veelsydige skrywer is gesetel in haar komvandaan – Springbok, haar geboorteplek, ofskoon sy in Kimberley grootgeword het. Lynthia skryf in Gariep-Afrikaans, want dit is wat sy ken en wat haar so na aan die hart lê. “Jy kan nie vir my sê ek moet in Kaaps of enige ander variant van Afrikaans skryf nie … Gariep-Afrikaans is wat ek ken vandat ek my verstand gekry het, begin praat het.”
Lynthia vertel in ‘n gesprek op Op en wakker (RSG: 15 Januarie 2024) dat hierdie eer wat haar te beurt geval het, haar verder aanspoor om in Gariep-Afrikaans te skep en die literatuur van hierdie variant uit te brei – juis omdat daar nie genoegsame voorgeskrewe werk vir leerders in die variant bestaan nie. Leerders, soos sy ook in 2011 in haar matriekjaar moes doen, moet voorgeskrewe werk wat byvoorbeeld in Kaaps geskep is, lees en vrae beantwoord, maar hulle ken dit nie – en verstaan nie altyd wat hulle lees nie. Sy noem ook dat Nama vir haar pragtig is, maar ongelukkig nie aan haar oorgedra is nie. Tog verstaan sy baie goed as haar ma haar in Nama slegsê, want daardie woorde ken sy!
Die beurs van R500 000 gee haar die ruimte en tyd om vir ’n jaar lank te fokus op ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans – ’n projek wat uiteindelik op publikasie gerig moet wees. En dit is presies waarop Lynthia haar vanjaar gaan toespits: haar eerste roman. Lynthia gee so bietjie weg in die gesprek en noem dat die verhaal oor ’n Nama-medisyneman handel …
Lynthia, ons kan nie wag nie!
- Luister gerus na die potgooi van die gesprek op RSG (Op en wakker) op 15 Januarie 2024: Lynthia Julius wen Jan Rabie-Marjorie Wallace-beurs – Op en Wakker – Omny.fm
- Lees die onderhoud van Naomi Meyer op Litnet: Die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs 2024: ’n onderhoud met Lynthia Julius – LitNet
- Doen jouself ’n guns en gaan lees die volledige rubriek op PEN Afrikaans: Die agste gebod – Lynthia Julius | PEN Afrikaans
- Lees meer oor Lynthia se debuutdigbundel, Uit die kroes: Lynthia Julius: ‘Ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie’ (klyntji.com)