Ons lesers ken reeds die talentvolle jong Suid-Afrikaanse ekspat, Niamh Beatrix, wat onlangs as finalis aan die Junior Eurovision-kompetisie in Ierland deelgeneem het. Soos altyd het Niamh nie stilgesit nie en haar talente ingespan en kan ons uitsien na haar spesiale lied vir Suid-Afrikaners regoor die wêreld hierdie Kerstyd. Niamh se eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, Kersfees in die Vreemde, is onlangs vrygestel.
Alhoewel Niamh duidelik ‘n diep liefde vir Ierland het, het sy nie haar Suid-Afrikaanse wortels vergeet nie. Kersfees in die Vreemde, is vrygestel ten bate van Reach for a Dream Suid-Afrika. “Niamh se Kersliedjie is ‘n eerste in sy soort en versmelt Keltiese en Suid-Afrikaanse klanke op ’n baie unieke manier,” sê die vervaardiger van Kersfees in die Vreemde, Riaan Steyn van Traxtudio, Kaapstad. Die liedjie waarin die Suid-Afrikaanse Jeugkoor ook sing, beeld uit hoe Kersfees anders en tog dieselfde is vir mense regoor die wêreld. “Dit gaan oor hoe Kersfees, soos musiek, mense bymekaar bring – ongeag kultuur, land of taal,” sê Niamh oor die liedjie wat sy gekomponeer het. “Ek het Reach for a Dream gekies omdat die liefdadigheidsorganisasie ‘n onvergeetlike verskil maak in die lewens van kinders met lewensgevaarlike siektes – kinders wat baie dikwels Kersfees in die ‘onbekende’ moet deurbring,” verduidelik die jongeling. Die liedjie en fondsinsameling is ook geïnspireer deur ‘n baie spesiale 10-jarige meisie, Carla van Eeden, van Kaapstad, wat al meer as ‘n jaar teen kanker baklei. “Carla is die dapperste en liefdevolste kind wat ek ken en sy verdien om oor en oor genoem te word.”
“Niamh is ‘n toonbeeld van hoop en haar moed om voort te gaan om haar en ander se drome ‘n werklikheid te maak, is inspirerend,” sê Natalie Lazaris, besigheidshoof by Reach for a Dream. “Ons is dankbaar dat sy gekies het om Reach for a Dream Foundation te ondersteun d.m.v. haar musiek, aangesien dit diegene wat hul grootste stryd veg sal help om hul drome te verwesenlik. Ons is ten volle agter Niamh en sien daarna uit om haar deur hierdie ongelooflike reis te ondersteun.”
Vroeër vanjaar het Niamh twee liedjies vrygestel ten bate van Make-a-Wish Ireland. Sedertdien, is haar musiek meer as 50 000 keer gestroom. Om verdere momentum by haar fondsinsamelingspogings in Ierland te voeg, het Niamh ook aan ‘n oorspronklike Engelse Kersliedjie, Christmas All Year, gewerk. Geskryf en gekomponeer deur Niamh en in samewerking met Niamh Noade, ‘n 14-jarige sanger van Noord-Ierland, ook bekend as The Girl with the Harp, sal Christmas All Year, kort na Kersfees in die Vreemde op alle groot platforms vrygestel word.
So … sal Niamh en haar gesin hierdie Kersfees in die buiteland deurbring? “Ons kom vir die eerste keer in vyf jaar huis toe vir ’n somer-Kersfees!” deel Niamh opgewonde.
Afrikaans.com wens Niamh en haar gesin ’n heerlike en vreugdevolle Kerstyd in Suid-Afrika toe.
Suid-Afrikaners kan Niamh Beatrix se Kersfees-enkelsnit, Kersfees in die Vreemde, ten bate van Reach for Dream Suid-Afrika vanaf alle groot platforms stroom.
Die liedjie kan hier gestroom word. https://artists.landr.com/064837111766
Lees meer oor die wonderlike werk wat die Reach for a Dream Foundation al reeds 35 jaar lank doen. Klik hier About Us – Reach for a Dream