Dit is weer daardie tyd van die jaar, wanneer ’n mens se nerwe aan ’n dun draadjie hang, daar nog ’n magdom van goed is wat moet klaarkom voordat jy jou kantoordeur kan toetrek en die bling van Kersfees jou laat sidder. Tog is dit ook goed om te gaan stilsit en oor die hoogtepunte van die afgelope jaar te dink. Ons hier by Afrikaans.com het ’n bedrywige jaar agter die rug, en het gedink ons verdien eintlik ’n pluimpie vir wat ons vanjaar ten spyte van uitdagings, reggekry het. Daarom lig ons graag ’n paar hoogtepunte van die Afrikaanse leefwêreld van 2023 uit … en ja, ons spog ook ’n bietjie.
Hier is ons top 10, maar blaai gerus deur die res van die webtuiste
– daar is talle voorbeelde van hoe ons ons taal vier en verken en veral die bydrae wat ons lewer deur die ondersteuning van moedertaalonderrig.
#1 – Ons splinternuwe Leerhulpafdeling. Dit was nou nie ’n maklike taak nie, maar met die hulp en bystand van uitstekende medewerkers en kundiges, en veral goeie spanwerk, is ons trots op die blad en kan lesers uitsien na nog meer en nog beter inhoud in 2024. Ons is veral opgewonde oor die ontwikkeling wat plaasgevind het ten opsigte van die vroeëkinderontwikkelingsfase, ons Matriekklaskamer en van die ander grade. Ons fokusareas was: voorskool, graad 1-4, graad 8 – 9 en graad 12 en ons teikenmark bly deurgaans ons leerders, onderwysers en ouers. Die beste van alles – dit is kurrikulumgebaseer, aflaaibaar en GRATIS. Gaan kyk gerus hier Leerhulp – Afrikaans.com
#2 – Baba & Kleuter-Erfenisplakkaat. Dit was nou voorwaar ’n fees om saam met ons vennote, die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) deel van hierdie inisiatief te wees. ‘n Pragtige alfabetplakkaat wat ons unieke Suid-Afrikaanse erfenis vier, is ontwerp en as deel van die September-uitgawe van die Baba&Kleuter-tydskrif versprei. Ons het ook as kennisuitbreiding ’n artikel op die web geplaas. Gaan kyk hier https://leerhulp.afrikaans.com/2023/08/01/baba-kleuter-plakkaat-kennisuitbreiding/
#3 – Deel XVII van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) tot by T is in 2023 voltooi en die verwagting is dat Z teen 2028 klaar moet wees. Wat ’n taak! En watter groot prestasie! Gaan lees gerus meer oor hierdie woordeboek in ons artikel waar van die belangrikste mylpale in die geskiedenis van die woordeboek uitgelig word. Klik hier Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – ’n geskiedenis van woorde – Afrikaans.com Ons het ook pragtige Woordryk- en Idiomeplakkate saam met die WAT ontwikkel. Dit kan gratis afgelaai word en is ’n aanwins vir enige klaskamer.
#4 – Moedertaalonderrig was soos altyd een van ons hooffokusse. Dit is ook hoekom ons nou saamwerk met die onderwyskundiges van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, Die MOS Inisiatief ondersteun en glo dat die instandhouding van ’n volhoubare Afrikaanse onderwyspyplyn noodsaaklik is vir die toekomstige leersukses van ons leerders. Lees meer oor die belangrikheid van moedertaalonderrig hier.
Lees ook wat sê ons oor die onderwyspyplyn hier.
#5 – Die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette (die Bela-wet) en die veranderinge wat dit aan die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) sal meebring, asook die uitwerking wat dit op vele vlakke sal hê, veral ten opsigte van die magte van skoolbeheerliggame, is steeds in die nuus. Ofskoon die ANC- en EFF-LP’s onlangs hul meerderheid in die parlement se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys gebruik het om die wet goed te keur, en dit nou na die Nasionale Vergadering verwys is vir oorweging, het talle organisasies besluit om die saak hof te neem. Lees meer oor wat dr Theuns Eloff oor die Bela-wet gesê het hier.
#6 – Niamh Beatrix. Dis altyd lekker om te sien hoe ons eie oorsee presteer en dis veral lekker as dit boonop in Afrikaans is. Die 12-jarige Niamh (uitspraak: Neave) Beatrix Smith het vier jaar gelede saam met haar gesin Ierland toe verhuis. Vandag maak sy ons trots deur haar sang en haar liefdadigheidswerk vir instansies soos Make-a-wish, Ierland en Reach-for-a-dream Suid-Afrika. Sy was ook onlangs ’n finalis in die Eurovision-jeugsangkompetisie in Ierland. En as jy gewonder het? Die gesin praat steeds Afrikaans by die huis. Lees meer oor hierdie inspirerende jong dame en verlustig jou in die pragtige weergawe van “Klein Tambotieboom”, hier: Niamh Beatrix straal deur haar sang in Ierland – Afrikaans.com
#7 – Die Kokertoekennings 2023. Die Afrikaanse Taalraad het op 2 Desember 2023 vanjaar se wenners van Kokers bekendgemaak. Hierdie toekennings word in verskillende kategorieë toegeken. Ons eie projekbestuurder, die bekende skrywer en spreker, Milanie Vosloo, het vanjaar weggestap met ’n Koker vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans, nie net deur haar skryfwerk en reklameagentskap nie, maar ook in die groot rol wat sy deur haar leiding en insig by Afrikaans.com speel. Gaan lees hier.
#8 – Leesbegrip. Kommerwekkende statistiek toon dat ons graad 4-leerders nie behoorlik en met begrip kan lees nie en dit het tot gevolg dat hulle nie optimaal kan leer en presteer nie. Vir ons is dit daarom steeds prioriteit om ons onderwysers en leerders by te staan om leesbegrip onder die knie te kry. Onderstaande skakels na vorige artikels op ons Leerhulpblad gee broodnodige insig en strategieë oor die onderrig van leesbegrip.
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 1 – Die onderrig van leesbegrip – Afrikaans.com
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 2 – Die voor-leesfase – Afrikaans.com
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 3 – Tydens-leesfase – Afrikaans.com
Vir ons onderwysers: Leesbegrip: Artikel 4 – Na-leesfase – Afrikaans.com
#9 – SBA-stories. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het ’n projek geloods waar hulle verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika besoek het om die storie agter die storie te hoor. Die bekende aktrise Sandra Prinsloo gesels met mense vanuit alle uithoeke van ons land en hulle praat saam oor hul geskiedenis. Gaan kyk en luister saam na stories van die Suid-Kalahari-mense, die Griekwas, die Namas, die Koue Bokkeveld-mense, die mense uit die Cederberge, die Strandlopers, Platfontein en Verlorenvlei se mense, die Kosmopolitaanse Kalkbaaivissers, die Korana en laastens die stories uit Melkhoutfontein. Klik hier SBA-stories – Afrikaans.com
#10 – Resepte. Suid-Afrikaners hou mos van eet en kosmaak. Ons Kook dit-afdeling is daarom nommerpas vir elkeen wat op soek is na iets lekker en vinnig om te maak. Die resepte is vingerleklekker, maklik en gesond en sal menige fynproewer langs jou tafel beïndruk. Gaan prikkel jou smaakkliere hier. Afrikaans kook behoorlik!
Nou ja, op daardie heerlike noot: Dít is ons tien hoogtepunte vir 2023 in ’n neutedop en net ’n paar van die redes hoekom ons trots Afrikaans is en bly en hoekom jy ons webtuiste gereeld moet besoek. Afrikaans leef!
Dankie dat jy elke dag saam met ons aan die toekoms van Afrikaans skryf.