Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“’n Professor, ’n oudprofessor, ’n onderwyser, ’n student en ʼn uitvoerende voorsitter, en ’n skrywer wat op haar gelukkigste is wanneer sy jong kinders help om te lees, ontvang vanjaar Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad.” – ATR-mediavrystelling
Die Afrikaanse Taalraad gee jaarliks erkenning aan persone wat ’n besondere bydrae tot Afrikaans gemaak het. Vanjaar se Kokerwenners is op 2 Desember 2023 tydens ’n spesiale geleentheid in Stellenbosch aangekondig.
“Ons wil erkenning gee aan mense, jonk en oud, wat stil-stil vir Afrikaans werk,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR. “Ons mik veral op mense wat oplossings soek en op die grond ’n verskil vir Afrikaans maak. Hierdie Afrikaans verbind al sy sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat en reik uit na die sprekers van die ander inheemse tale van die land.”
Lees ’n mens so deur die nominasies en die motiverings, besef ’n mens dat elke genomineerde ’n wenner uit eie reg is. Maar … daar kan net een wenner in elke kategorie wees. Lees gerus hoe elke wenner in en deur Afrikaans werk en leef. Ons is seker jy sal met ons saamstem – met mense van die kaliber is Afrikaans se toekoms verseker. Afrikaans.com sê dankie vir die verskil wat julle elkeen maak.
Kokerwenners 2023
Lewenslange bydrae tot Afrikaans: Prof Victor Nicholas Webb
Prof Webb het diep spore in die akademie getrap. Hy verwerf in 1976 sy DLitt et Phil aan UNISA. Hy was dosent in taalwetenskap aan etlike SA universiteite en tree aan die einde van 2006 af as professor in taalwetenskap en sosiolinguistiek aan die Universiteit van Pretoria, asook as direkteur van CentRePol (Centre for Research in the Politics of Language). Die sentrum is onder prof Webb se leiding gestig en het lank die toon aangegee in navorsing oor taalpolitieke kwessies in Suid-Afrika. Vanaf 2009 – 2014 was hy as navorsingsprofessor verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum.
Prof Victor Webb kan met reg een van Suid-Afrika se bekendste taalnavorsers genoem word. Dit blyk uit sy talle navorsingsverslae (soos “The position of Afrikaans among Std 9 pupils in Pretoria” [1988], “Omgangsafrikaans in Pretoria” [1983-1986] en “Sosiolinguistiese patrone in die Afrikaans van die Port Elizabeth-streek” [1979-1982]), publikasies (verskeie boeke, bykans 85 artikels) asook referate (nasionaal en internasionaal) oor taalpolitieke kwessies, maar ook uit sy betrokkenheid by talle inisiatiewe en liggame (soos LANGTAG en PanSAT), wat gehelp het om die nuwe taalpolitieke omgewing met die oorgang na ʼn nuwe politieke bedeling in die 1990’s te verstaan en te bestuur. Sy kundigheidsterreine (die politiek van taal, taal en ontwikkeling, meertaligheid, taalbeplanning, taalpolitiek en taal in onderrig) het hom uitstekend hiervoor geposisioneer.
Hy het wyd gereis en by geleentheid by verskeie buitelandse universiteite navorsingsbesoeke afgelê. In 1999 was hy ʼn besoekende hoogleraar aan die European Centre for Minority Issues in Flensburg, Duitsland.
Hy was lank (1993-1998) voorsitter van die Linguistevereniging van Suider-Afrika (LVSA), en van 1993-1996 die internasionale voorsitter van die Languages in Contact and Conflict in Africa-program (LiCCA), wat ten doel gehad het die beskrywings van die taalpolitieke kontekste van Afrikalande – dit het tot etlike leidende publikasies gelei. In 1995-1996 was hy ʼn lid van die hoofkomitee van LANGTAG, ʼn regeringsaangestelde liggaam wat die raamwerk moes skep waarbinne ʼn omvattende nasionale taalplan vir SA ontwikkel moes word.
Bevordering van Afrikaans: Milanie Vosloo
“Ek is dankbaar! Dankbaar vir ouers wat my lief gemaak het vir my moedertaal en aangemoedig het om dit op verskillende kreatiewe maniere te gebruik. Dankbaar vir ’n reis deur die besigheidswêreld waarin ek as mens kon groei en die taal kreatief kon aanwend. Dankbaar vir die gawe van skryf en vir elke leser wat my boeke lees. Dankbaar vir die geleentheid om agt jaar gelede die Projek Afrikaans.com, danksy Trusts soos Dagbreek en TAKKE, te kon begin en vir die verskil wat hierdie projek gemaak het en steeds maak om ons dinamiese, kleurryke taal modern en inklusief te bemark. Dankbaar vir ATR se toekenning van ’n Koker.”
Milanie Vosloo, saskevrou, bekroonde skrywer en motiveringspreker, is sedert 1985 deel van die Afrikaanse reklamemark toe sy op 23-jarige ouderdom die reklameagentskap Uppe Marketing begin het. Na 39 jaar as besturende direkteur het sy onlangs die leisels as HUB oorgegee en tree nou as voorsitter op. Sy is egter steeds op uitvoerende vlak by van die groter kliënte betrokke.
Ofskoon die reklamelandskap deur die jare verander het, en Afrikaanse reklame meestal moet bes gee ten gunste van Engels, en Uppe daarby moes aanpas, is die maatskappy van meet af aan in en deur Afrikaans bedryf – een van die redes hoekom Uppe vandag een van die toonaangewende maatskappye op die gebied van landboureklame is.
Sedert 2015 is Uppe nog nouer by die Afrikaanse leefwêreld betrokke toe die maatskappy deur Dagbreek Trust genader is om Afrikaans as handelsnaam te vestig, die taal se beeld af te stof, die negatiewe persepsie oor Afrikaans te verander en opnuut ’n passie vir Afrikaans onder sy sprekers te laat ontstaan. So het Afrikaans.com ontstaan en is Milanie vanaf die begin die projekbestuurder. Afrikaans.com onder die waaksame oog en leierskap van Milanie groei steeds en bereik jaarliks nuwe hoogtes – juis weens die inisiatief en doelgerigtheid van Milanie.
Milanie is ook self deel van die Afrikaanse leefwêreld en haar bekendheid as bekroonde skrywer van Afrikaanse geestelike dagboeke vir vroue (tans reeds 23 en almal topverkopers) dra by tot die beeld van Afrikaans. Sy is ook ’n bekende gesig op televisie en word gereeld oor die radio gehoor. Haar gewilde rubrieke verskyn ook in tydskrifte soos LIG en Lééf. Hierdie betrokkenheid dra grootliks by om die beeld en persepsie van Afrikaans uit te dra en te bevorder en maak haar die ideale “gesig” vir ’n platform soos Afrikaans.com. Haar bekendheid as motiveringspreker en gerekende sakevrou speel ook ’n beduidende rol in die positiewe gesindheid waarmee Afrikaans.com bejeën word. Op die manier dra Milanie die beeld van Afrikaans nog verder uit. “Weens haar ywer en entoesiasme en die sigbare werk wat sy op ’n daaglikse basis vir die bevordering van Afrikaans doen, is sy ’n volwaardige Kokerwenner,” aldus prof Wannie Carstens.
Milanie Vosloo het die volgende gesê na ontvangs van die Koker vir die bevordering van Afrikaans:
Beskerming van Afrikaans: Prof Debra Meyer
Prof. Meyer is ʼn aktivis vir Afrikaans, haar moedertaal. Sy ondersteun projekte wat Afrikaans bevorder en dien as trustee op trusts wat Afrikaanse taal en kultuur bevorder. Sy het vir meer as 12 jaar die “Weer” in Afrikaans op SABC 2 aangebied en skryf graag wetenskapsartikels in Afrikaans om die wetenskapsinhoud meer verstaanbaar vir die gewoe Afrikaanse spreker te maak.
Prof Meyer is onlangs aangestel as adjunk-visekanselier (DVC): Onderrig en Leer by die Sol Plaatje Universiteit (SPU).
As houer van ‘n PhD van die Universiteit van Kalifornië Davis en ‘n MSc van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), is prof Meyer geen vreemdeling vir akademiese uitnemendheid en strategiese leierskap nie. In haar rol as DVC word sy getaak om die onderrig- en leer-etos by SPU te stuur, terwyl sy ook toesig hou oor navorsing en nagraadse studies.
Na voltooiing van haar PhD in Biochemie en Molekulêre Biologie, het sy haar akademiese loopbaan as ‘n dosent by RAU begin, later oorgeskakel na die Universiteit van Pretoria as ‘n volle professor en Hoof van die Departement Biochemie. Haar aansienlike bydrae tot wetenskap, leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid het gelei tot haar werwing as die Uitvoerende Dekaan van Wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg.
As die DVC: Onderrig en Leer is prof Meyer aan die stuur van die akademiese en intellektuele projekte van die universiteit. Sy het die taak om ‘n geïntegreerde studenteondersteuningstelsel te verseker en loopbaanontwikkelingsgeleenthede vir akademiese personeel te bevorder. Vir die komende akademiese jaar het prof Meyer duidelike doelwitte om ‘n omgewing te bevorder waar akademici en studente die vreugde van onderrig en leer kan herontdek. Sy streef ook daarna om ‘n belangstelling in die wetenskap van onderrig en leer (SoTL) onder akademici aan te wakker en om geleenthede te skep wat die uitbreiding van hul prestasierekords sal aanmoedig.
Prof Meyer erken ook die belangrikheid van innovasie in ‘n vinnig veranderende wêreld. Met behulp van SPU se strategiese doelwit om ‘n digitaal-bemagtigde instelling te word, beoog sy om nuwe tegnologie ten volle te omhels wat studente sal bevoordeel en ‘n meer innemende en gerieflike akademiese lewe sal fasiliteer. Dit sluit die uitbreiding van bestaande inisiatiewe in, soos die gebruik van kletsbotte in studenteondersteuning en die eties gesonde inkorporering van generatiewe KI in die skryf van nagraadse voorstelle.
Bemagtiging deur Afrikaans: Joanita Richter
Joanita skryf al sedert die ouderdom van nege, maar sy het nooit gedink dat sy wel ‘n boek sou skryf nie. Tydens ’n ernstige siekbed, het sy haar gevoelens op papier neergepen. Die uiteide was dat sy in 2022 twee boeke gepubliseer het.
Joanita is betrokke by biblioteke en bied ook haar hulp aan vir leerders wat sukkel met lees en skryf. Sy is betrokke in haar gemeenskap en help waar sy kan. Sy is ook by verskeie skryfgroepe betrokke.
In Junie 2023 het sy ʼn toekenning by Padlangs ontvang vir Beste Temadigter vir 2022. Sy het ook in Julie 2023 die AfriCAN Honoree-toekenning vir albei haar boeke ontvang. Joanita maak ’n verskil waar dit saak maak.
Jeugtoekenning: Kenan Davids
Kenan Davids is ’n derdejaaronderwysstudent aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha met Afrikaans Huistaal as een van sy metodiekvakke. Kenan leef sedert sy skooldae sy liefde vir Afrikaans in hart en siel uit. Tans is hy betrokke by die plaaslike ATKV-jeugtak in Gqeberha waar hy by verskeie projekte ter bevordering van Afrikaans in die metropool betrokke is.
As Afrikaansonderwyser in wording bied hy Afrikaansklasse aan in sy vrye tyd en het ook ’n kreatiewe skryfprojek van stapel gestuur om leerders deur middel van kletsrym hul eie gedigte te laat skryf. Kenan self skryf Afrikaanse gedigte waarvan ’n aantal op LitNet gepubliseer is. Hy hoop om eendag ’n digbundel die lig te laat sien.
In 2022 het Kenan ingeskryf vir die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek se jaarlikse kompetisie waarin studente die verband tussen Afrikaans en Nederlands visueel op film moes uitbeeld. Kenan het die eerste prys gewen met sy video getiteld “Tante-taal” waarin hy Afrikaans en Nederlands se herkoms deur middel van ’n metafoor, naamlik familiebande, ondersoek.
Kenan het ’n besondere bydrae in die lesingslokaal gelewer deur middel van sy optrede en entoesiasme vir Afrikaans en sodoende ook ander studente aangemoedig om in Afrikaans te dig en by gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Kenan is so gesog as Afrikaansonderwyser dat hy reeds ’n voltydse betrekking aangebied is vir 2025. Hierdie jong man gaan nog diep spore trap as Afrikaansonderwyser en sal ’n aanwins wees vir enige skool waar hy betrokke is en waar hy ’n liefde vir Afrikaans asook die Afrikaanse letterkunde onder leerders sal kweek.
Beste onderwyser: Carline Janse van Rensburg
Carline Janse van Rensburg is verbonde aan die International School of Cape Town in Claremont, Kaapstad. Sy word beskryf as ʼn uitmuntende taalonderwyseres, wat dien as ʼn onuitputlike bron van kennis en inspirasie aan kollegas, ouers en studente. “Haar unieke aanslag tot die onderrig van Afrikaans het nie net die taalonderrig aan ons skool herdefinieer nie, maar ook die passie vir die taal aangewakker by studente afkomstig vanaf diverse agtergronde.”
As hoof van die Moderne Vreemde Tale-departement, speel Carline ʼn deurslaggewende rol in die wyse waarop tweedetaal by die skool aangebied word. As ʼn internasionale instelling word daar voorsiening gemaak vir die taalvaardighede van internasionale studente. Voorheen is tale soos Frans, Spaans en Duits aangebied en was dit tipies ʼn eerste keuse vir studente. Sedert Carline in die pos oorgeneem het as hoof van Afrikaans, was daar ʼn jaarlikse toename in die aantal leerders wat Afrikaanse as tweede taal kies.
Die feit dat studente vanuit alle uithoeke van die wêreld kies om Afrikaans, wat nie verpligtend is nie, te omarm, spreek boekdele van haar innoverende deelnemende maniere waarop sy Afrikaans onderrig. Sou jy verby haar klas stap, is dit nie ongewoon om leerders te sien Afrikaanse TikToks maak nie; of leerders te sien wat besig is om die voorsetsels op die bekende “Cup Song” te oefen; of om Spel-Survivor te speel. Carline se lesse is kreatief, prettig, het diepte en maak Afrikaans toeganklik en ʼn genotvolle en verrykende ervaring vir almal.
Carline verteenwoordig beslis die kwaliteite van ʼn uitmuntende onderwyser wat die leerervarings van haar studente transformeer en haar kollegas inspireer. Haar impak op die onderwys by die skool is merkwaardig. Voorwaar ’n waardige wenner en ’n onderwyser duisend!
Meer oor die Kokertoekennings
Die Kokertoekennings gee erkenning aan mense wat besondere bydraes tot Afrikaans maak, naamlik in die volgende kategorieë:
- Die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook bemagtiging deur Afrikaans;
- Spesiale bydraes tot Afrikaans deur jeugdiges (tot en met 35 jaar);
- Lewenslange bydraes tot Afrikaans;
- Afrikaanse onderwyser van die jaar (nuwe kategorie).
Bron: Mediavrystelling: Die Afrikaanse Taalraad