Skrywer: Alita Steenkamp
Gerard Scholtz berig namens die direksie van die Louw-huis en -museum dat daar begin is met die herstelproses van hierdie bekende baken in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Die huis staan in Sutherland. Dié huis, waar beide NP van Wyk Louw en W.E.G. as jong seuns gewoon het, het verwaarloos en waardevolle dokumente het bloot op plekke in die huis rondgelê. Dit het onder die aandag van Gerard Scholtz gekom en hy het besef dat daar dringend hulp gesoek moet word. Die goeie nuus is dat die Rupert Historiese Huise-Stigting geld bewillig het vir die restourasieproses. Die heel eerste stap was om alle buitemure en plafonne met sand skoon te spuit. Baie van die geboue in hierdie area is oorspronklik met klip gebou en met sement afgewas. Die Louw-huis is met kalk afgewit, maar nou kon daar presies gesien word watter deel van die huis is verander en waar is daar aangebou. Afgesien van die herstelwerk aan die huis, is daar egter nog heelwat werk wat voorlê waarvoor daar fondse benodig word. Al die uitstallings moet vernuwe word voordat dit teruggeplaas word, aangesien die huis in die toekoms as ʼn literêre museum bedryf gaan word. Die direksie van die Louw-huis en -museum het onder meer ook raad ingewin en met kenners gesels hoe die museum suksesvol en volhoubaar bedryf gaan word. Nou word daar nog vir die nodige fondse gewag om dit ʼn moontlikheid te maak. Daar is al heelwat skenkings gemaak, maar dit is nog nie genoeg nie, sê Gerard. Die direksie het ʼn sakeplan en mediumtermynbegroting goedgekeur en hierdie inligting is beskikbaar aan enige voornemende donateur. Indien jy of jou onderneming betrokke wil raak by die finansiering van die uitstallings of met die befondsing van die bedryfkoste van die museum, kontak Japie Gouws by japie.gouws@mweb.co.za of Gerard Scholtz by diebeiteltjie@louwhuis.co.za