Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Jy onthou daardie lysie wat jy op Oujaarsaand met groot bravade vir almal uitgelees het? Ja, daardie een waar jy binne die volgende jaar 30 kg gaan verloor, ten minste drie keer ’n week gaan oefen en elke maand geld gaan wegsit vir daardie oorsese kostoer. Einste … jou Nuwejaarsvoornemens. Wees eerlik, jy doen dit elke jaar en dan? Teen Maart-April is dit vergete en gebeur die lewe en stel jy uit (natuurlik met werklike verskonings oor hoekom dit nie moontlik is of was nie) en uiteindelik … soos almal weet, van uitstel kom afstel en volgende jaar maak jy maar weer so. Afrikaans.com het koppe bymekaargesit en besluit: Vanjaar gaan ons jou help om by jou Nuwejaarsvoornemens te hou – indien dan nie 100% nie, darem ten minste 60%.
Jy kan nie bloed uit ’n klip tap nie …
Wees eerlik met jouself en ken jou beperkinge. Dink nugter oor jou voorneme. Hoe lank het dit jou geneem om die 30 kg gewig aan te sit? Een jaar? Twee jaar? Nou hoe kan jy dan verwag om die gewig binne ses maande of selfs ’n jaar af te skud? Maak liewer jou doelwitte kleiner en besluit jy wil graag binne ses maande 10 kg verloor. Dis mos nou meer realisties en haalbaar!
Stel doelwitte
Oukei, jy wil elke maand spaar, maar jy noem nie ’n bedrag nie. Dalk is jy anders as die meeste van ons, maar ons het al geleer, die eerste maand spaar jy R400, volgende maand dalk weer, maar daarna … jy het darem regtig daardie nuwe paar skoene nodig – so dalk spaar jy die maand net R200, en so aan en so aan. Nee, skryf jou doelwit neer of stel jou rekening so op dat daar outomaties elke maand byvoorbeeld R400 in ’n spesiale spaarrekening ingaan. Op die manier, weet jy amper nie van die geld nie, en is dit “veilig” teen impulsiewe besluite.
Nog iets: Skryf hierdie doelwitte neer en/of stel ’n “moodboard” saam waarop jy foto’s plak, aanhalings skryf sodat jy gereeld daarna kan kyk – alles goed wat jou verder sal inspireer.
Dis spanwerk
Jy wil graag ten minste drie keer per week oefen. Kry dan iemand om dit saam met jou te doen. Julle motiveer mekaar en kan saam lag (of huil) oor die bloedsweet wat dit kos om fiks te word. Daardie “gewete” wat deur die ander party verteenwoordig word, maak dit makliker om by jou program te hou. Gedeelde pyn … en lyding!
Hou jou vordering dop
Elke paar weke is dit raadsaam om jou vordering/doelwitte in oënskou te neem. Jy kan dan besluit of jou doelwitte steeds haalbaar is of liewer aangepas moet word. Dalk kan jy dit anders aanpak. Wat belangrik is, is om wel iets te bereik. Jy kon dalk nie die 1,5 kg per week baasraak nie, maar wat van 1 kg per week?
Klop jouself op die skouer
Jy moet jouself gereeld beloon as jy sukses behaal het. Stel dus mylpale en sodra jy dit bereik het, doen dan iets net vir jouself. Al is dit net om ’n borrelbad met ’n glas sjampanje te geniet, of om jouself te bederf met koffie en koek of jou te laat pamperlang met ’n pedikuur. Jy verdien dit!
Ons hoop die raad werk, want dit lyk nie asof die feit dat ’n mens die voornemens met ander om die braaivleisvuur deel, eintlik enigsins daartoe bydra dat ’n mens daarby hou nie. Onthou net, wat jy ook al doen, doen dit omdat jy wil en doen dit vir jouself – nie vir jou man, vriendin of kinders nie. En hou jou lysie kort – Een of twee uit drie klink darem heelwat beter as twee uit tien.
Voorspoed vir die nuwe jaar!