Elke jaar vind die groot trek water toe hier aan die begin van Desember plaas. Die mense is moeg, die humeure is nog kort en die son steek! Daar is lang toue motors en mense, die baba kry warm, sussie is karsiek en die kinders wil om elke hoek en draai vermaak word. Ai … wat het dan geword van heeldag op die strand lê, swem, braai en moeg in die bed of slaapsak kruip? Hoe ook al … uiteindelik ontspan almal en so tussen die redekawel, seer verbrande skouers en gekoesterde oomblikke geniet almal dit. En volgende jaar? Dan maak ons weer so!
Of ’n mens nou besluit om die Tuinroete in jou eie tuin aan te durf en jou nabye omgewing te verken en of jy die langpad aandurf kus toe om te kamp of te glamp, of by familie te gaan kuier – elke bestemming het sy eie lys van topdinge om te doen – die enigste bepaler is maar net hoeveel gaan dit kos of is dit dalk gratis! Beplan dus as jy kan voordat jy gaan. Gaan loer na jou bestemming se toerismeblaaie en maak ’n kort lysie van moet doen- en dalk doen-dinge. Daar is mos maar altyd iets aan die gang, veral in die vakansieoorde – of dit nou koedoedrolspoeg is of wie die verste op een beentjie kan spring of sy asem die langste kan ophou. Dan is daar natuurlik ook die georganiseerde feeste met bekende kunstenaars wat elke jaar sorg vir uitstekende vermaak. Hier is so paar geleenthede wat Afrikaans.com raakgelees het en wat vir ons uitgestaan het:

Afrikaans is Groot in Hartenbos en Stilbaai
Hierdie fees bied vermaak vir die hele gesin. Daar is ook kosstalletjies en ekstra vermaak vir die kinders. ‘n Kort oorsig:
- Die Afrikaans is Groot-buitelugkonsert vind op 22 Desember in Hartenbos en op 23 Desember in Stilbaai
Konserte sluit kunstenaars soos Demi Lee Moore, Riaan Benade, Riana Nel, Brendan Peyper, Ruhan du Toit, Corlea en Bobby van Jaarsveld in.
- Alternatief is Groot word op 26 Desember in Stilbaai gehou en op 27 Desember is Hartenbos aan die beurt. Hier kan konsertgangers uitsien na kunstenaars soos Francois van Coke en Die Piesangskille en nog vele ander verrassings.
- Die Grootjol gaan op gepaste wyse die oujaar groet en die nuwe jaar afskop met ’n konsert in Hartenbos op 30 Desember en nog een in Stilbaai op 31 Desember. Kunstenaars soos Ricus Nel, Riaan Benade, Dodo, Samantha Leonard, Jay, Appel, Karlien van Jaarsveld en Bok van Blerk gaan die verhoog aan die brand sing.
Kaartjies (itickets.co.za) is billik teen R200 per persoon as jy vroegtydig bespreek en R50 vir kinders tussen 2 en 12. Gaan loer gerus op hulle webtuiste vir meer inligting. Tickets | Hartenbos Groot Fees | Afrikaans is Groot Buitelug in Hartenbos, ZA | iTickets


Mosselbaai Somerfees
Van 22 Desember tot 1 Januarie 2024 word daar hard feesgevier in Mosselbaai by die Van Riebeeck Stadion. Feesgangers kan onder andere uitsien na nege produksies, ’n kaas-en-wyntuin, biertuin, Mnr en Mej Somerfees, Kindervermaak en meer. Kunstenaars sluit in: Steve Hofmeyr, Dana Winner (Hofmeyr en Winner gaan op 29 Desember saam konsert hou!), Bernice West, Kurt Darren, Jo Black, Robbie Wessels, Loufi, Neon Dreams, Nicholas Louw, Droomsindroom en nog baie meer.
Gaan kyk op hul webtuiste (HOME | Mosselbaai Somerfees) of by vtickets.co.za om jou kaartjies te koop sodat jy nie droëbek sit wanneer die res van die mense makietie hou nie.


Potchefstroom se Liggiefees by die Abraham Kriel Kinderhuis is elke jaar ’n hoogtepunt. Dit vind vanaf 1 – 31 Desember plaas. Hekke maak 18:30 oop en jy kan tot 22:00 kuier. Kaartjies is by die hek beskikbaar. R40 per persoon. Jy kan ook ’n tafel bespreek om na die vertonings te kyk. Kunstenaars om na uit te sien is: Appel, Eloff, Leah en meer. Klik hier om jou kaartjie te koop of tafel te bespreek. Buy Tickets – Liggiefees
Kyk hier vir die program en meer inligting Home – Liggiefees

Die Weskusfees – 15 – 17 Desember 2023
Met ’n nuwe feesterrein net buite Darling, beloof vanjaar se Weskusfees op 15 – 17 Desember vermaak vir oud en jonk. Van die kunstenaars om na uit te sien, is Rooksein, Die Heuwels Fantasties, Deon Groot, Tarryn Lamb, Steve Hofmeyr, Bok van Blerk en nog vele meer.
Lees meer op Faceboek. https://www.facebook.com/weskusfees en kry sommer nou reeds jou kaartjies. Jy kan kies uit: ’n Naweekkaartjie, dagkaartjies, en Kwaggafeesbesoekerskaartjie.

Hartklop in die Kaap – 29 Desember 2023
Die fees vind op die Universiteit van Kaapstad se rugbyvelde plaas op Vrydag, 29 Desember van 09:00 tot 22:00. Van toptreffers tot sielvolle melodieë deur kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Die Heuwels Fantasties en Kurt Darren, sal jy nie anders kan as om saam te sing en dans nie. Kunstenaars soos Appel, Bok van Blerk, Rian Benade, Jay, Bernice West is ook vanjaar te sien. Daar is kosstalletjies vir elke smaak en voorkeur. Vir meer inligting of om kaartjies te koop, gaan kyk hier Book tickets for Hartklop in die Kaap (quicket.co.za). “Early Birds betaal R120 vir kinderes, R270 vir volwassenes en R600 vir die VIP-area.

Stellenbosch Straatsoirees – ontspan onder die eikebome
Stellenbosch hou vanjaar weer hul gewilde straatsoirees. Op 6 Desember is die volgende een aan die beurt en dan weer in 10 en 24 Januarie, 7 en 21 Februarie en 6 en 20 Maart 2024. Drostdystraat in die Eikestad is op daardie dae van 18:00 tot 20:00 die plek om te wees en saam te kuier met wyn en goeie kos. Dis nou ’n straatpartytjie met klas! Koste beloop R190 per persoon. Gaan kyk hier.
Nou ja … al wat oorbly is om te sê: Lekker vakansie hou, lekker “rus” en ry veilig. 2024 is op ons!