Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Joshua na die Reën (JNDR) oor hoe belangrik dit is om in die oomblik te lewe.
Die vrae in die volgende artikel is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors, waar 11 vrae ingespan word om beter te verstaan hoe die persoon dink en leef. Deelnemers besluit self watter van die vrae hulle wil beantwoord.
Afrikaans.com het die gewilde Afrikaanse liedjieskrywer en musikant Jacques de Villiers (verhoognaam: Joshua na die Reën) gevra om ons vrae te beantwoord. Sy verhoognaam JNDR, “verwys na ’n uitsonderlike band met die natuur, asook die temas van eerlikheid en hoop”. Sy debuuutalbum Joshua na die Reën is in 2013 bekendgestel en het in 2014 twee Ghoemas vir beste nuweling en beste Afrikaanse kontemporêre album ontvang. In 2017 is hy vereer met ’n SAMA vir die beste kontemporêre musiekalbum vir Die wêreld binne my. Someraarde is in 2019 vrygestel. Sy jongste album Die Vallei, is middel Oktober 2023 aanlyn vrygestel en die twee enkelsnitte en musiekvideo’s “By my” en “Iemand soos jy”, kan ook oor die radio en digitale platforms gehoor word.
Vrae:
- Wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
Die drie boeke – eintlik vier – wat die grootste invloed op my lewe gehad het en steeds het, is The Prophet en Jesus, the Son of Man deur Kahlil Gibran. Laasgenoemde is ’n ongelooflike boek waarin Jesus beskryf word gesien deur die oë van al die karakters in sy lewe, soos sy ma, sy vriende, en so meer. Dit was vir my ongelooflik en interessant. Dan is daar ook ’n skrywer met die naam Théun Mares wat ’n reeks boeke oor die Toltec Teachings vrygestel het. Die eerste boek van die reeks (Volume 1) is Return of The Warriors wat my asem weggeslaan het. Dit gaan oor die filosofie oor die lewe. En dan natuurlik Die Bybel. Die Bybel het die grootste invloed op my lewe en my alledaagse besluite.
- Watter aankoop van ’n R1 000 of minder oor die afgelope 12 maande het ’n groot impak op jou lewe gehad?
Daar is ’n kursus wat ek gekoop het met die naam “Breath is Life”. Dit het my baie geleer oor hoe ons in die westerse wêreld nie altyd geleer word hoe kragtig dit is om jou asemhalingstegnieke te verstaan nie en ook watter invloed dit op jou lyf het. Dit het ’n taamlike invloed op my lewe gehad die afgelope 12 maande in terme van om te ontspan of as ek deur ’n stresvolle tyd gaan. Dit is nuttig om dit ’n daaglikse aktiwiteit te maak, selfs net voordat jy gaan slaap om jou te laat deel raak van die oomblik (m.a.w. om “present” te wees).
- Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking, het later vir jou sukses ingehou?
So ’n “mislukking” wat op my loopbaan van toepassing is (persoonlike lewe ook) is my heel eerste toer toe ek net begin het met Joshua na die Reën. Ek het vir my en my band ’n toer van Margate af tot in Kaapstad geboek – groot venues – soos spesifiek die Riversdal Stadsaal wat 1 500 mense kan huisves – en toe is daar daardie aand net 10 mense by die optrede en hulle sit so in die eerste ry en ons was nege mense op die verhoog – so ons was darem gebalanseerd (haha). Maar ek onthou ook voor die show was dit vir my so ’n ongelooflike oomblik om saam met my musikante agter die gordyne te kan staan en saam die besluit te neem dat ons nooit ooit musiek sal maak om ’n gehoor te vermaak nie. As ons dit nie die meeste geniet nie dan het ons gefaal. Ek moet erken, dit was ’n groot keerpunt in die psige van ’n Joshua na die Reën-vertoning, want dit het daar begin verander en ons boodskap het verander. Ons het dit nie vir mense gedoen nie, maar ons vertonings was meer ’n uitvloeisel na die mense toe van dit wat ons persoonlik beleef.
- As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Wat vir my die afgelope paar weke in my lewe regtig uitstaan, is die feit dat ’n mens baie keer dink jy moet so hard werk sodat jy jouself kan bevorder in die lewe, of sodat jy meer suksesvol kan wees, maar ek dink ware sukses lê eintlik maar daarin om ander mense bo jouself te plaas. So ek dink die sinnetjie op ’n advertensiebord moet wees: “Ware geluk lê daarin om ander mense se behoeftes bo jou eie te plaas.”
- Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Die grootste belegging wat ek in my lewe kon maak was om God te soek buite die strukture van kerk of samelewing, maar in die manier hoe ek en Hy met mekaar ’n verhouding kan hê en ook die vryheid wat daarmee saamkom. Ek dink dit is ’n pad wat nooit ophou nie, so ek dink dit is ’n belegging wat ’n mens aanhou maak. Vir my is dit die mees lewensveranderende ding wat ek ooit kon doen – om te vertrou in die misterie van Hom en om nie altyd te probeer verstaan nie en om net eerder te gaan met die vloei van wie Hy is. Die rede hoekom ek sê dis buite die vloei van kerk of samelewing, is omdat ek voel God praat met almal op hulle eie manier. As jy dus net altyd gaan luister na een persoon se opinie gaan jy glo dis wie God is en is dit wat Hy vir jou gaan wees en dan gaan jy nooit self uitvind wie Hy regtig vir jou is nie.
- Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Ek loop omtrent altyd kaalvoet en ek kom agter dis iets wat almal altyd oplet. Ek dink ook as ek in die oggend opstaan, is die eerste ding wat ek wil doen, om uit gaan. Ek wil buite wees en my voete op die gras voel. Dan het ek ook Tai chi-bewegings wat ek doen om die vloei van my liggaam los te kry vir die dag.
- In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
In die laaste vyf jaar het daar nogal baie goed in my verander. Eerstens, om fisies beter na myself te kyk. Alhoewel ek nog altyd geoefen het, dink ek die integrasie van alles en die besef dat ons geskape is om nie net liggaam te wees nie, maar ook gees en siel, is belangrik. Daarom, as jy ophou kyk na jou liggaam dan val daar iets plat. So ook, as jy ophou kyk na jou geestestoestand, val daar weer op ’n ander manier iets plat. Ek dink daarom is die samevloei daarvan vir my belangrik.
Ek lewe ook nou baie meer bewustelik en wat ons moet en kan doen om hierdie aarde op te pas. Byvoorbeeld, van hoe baie vleis jy eet tot hoe baie plastiekprodukte jy koop en watse moeite jy doen om nie ’n takeaway-koppie te gebruik by ’n restaurant nie, maar eerder jou eie herbruikbare koppie te gebruik en ook om nie ’n strooitjie te gebruik nie. So ek dink dit gaan oor ’n soort selfopvoeding om jouself bewus te maak van wat jou invloed op die aarde en omgewing is. ’n Ander gewoonte wat ek het, is om myself elke dag af te vra of ek besig is om goed te doen aan dit wat rondom my is. Nog ’n gewoonte wat ek het, is om asemhalingsoefeninge te doen.
Ek dink om myself en my sieninge te verbreed oor soveel moontlik dinge as wat ek kan, en om te besef ’n mens dink dalk jy verstaan ander kulture, maar dat jy nie regtig weet waaroor dit gaan nie en om daarom regtig die moeite te gaan doen om self uit te vind wat dit is wat ander mense glo en wat vir ander mense belangrik is. As jy dan mooi gaan kyk, dan vind jy dat ons as ’n mensdom eintlik baie dieselfde is en die meeste mense daarbuite goeie mense is wat ’n goeie lewe wil leef. Ons kyk so maklik vas in die 2% slegte mense wat daar in die wêreld is en mis dan 98% van die goeie mense.
- Watter advies sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde regte wêreld te betree? Watter advies moet hulle ignoreer?
Die belangrikse advies is dat ’n mens altyd moet luister na wat binne-in jou aangaan. Ek weet dit klink na ’n vreemde konsep, maar ons word nie altyd in ons kultuur geleer hoe om dit te doen en wat dit behels nie. As jy gaan kyk na die oosterse kulture word daar op ’n baie diep en tasbare manier tyd spandeer om te gaan soek wat dit is wat jy moet doen om uit te vind wie jy is. As jy egter nie eers tyd het om ’n uur lank onder ’n boom te gaan sit en dink nie, dan dink ek nie daai gedagte sal ooit na jou toe kom nie. So ek dink, maak tyd om te dink oor wie jy is en wie God wil hê jy moet wees, en dan doen jy dit. Advies om te ignoreer, is die advies wat mens deur sosiale media kry, want dit is dikwels nie goeie advies nie. Ek ken soveel mense persoonlik wie se lewens op sosiale media heeltemal anders lyk as in die “regte” lewe.
- Wat is slegte advies wat jy al ten opsigte van jou beroep gehoor het?
Slegte advies in my loopbaan is dat ’n mens jouself eksklusief moet hou en dat jy altyd moet seker maak dat jou band nie meer aantreklik is of meer aftrek kry, as jy op die verhoog nie. Dit laat my lag en was letterlik die vreemdste ding wat ek al ooit gehoor het, want vir my is die lewe nie so nie en as die lewe dit is, wil ek regtig nie deel wees daarvan nie.
- Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee? Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Oor die afgelope vyf jaar het ek net regtig besef dat tyd saam met my gesin regtig belangrik is. Waar ek in die verlede omtrent na elke media-uitnodiging of mediatoekenningsaand sou gaan, is dit nou vir my ’n maklike besluit om te sê dat alhoewel dit belangrik is vir my loopbaan, ek nie die pa wil wees wat sy kinders nooit sien, of afskeep nie.
- Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Wanneer ek oorweldig of ongefokus voel, dink ek altyd wat my boetie sê: “Verbeel jouself jy kyk uit die ruimte uit na hierdie aarde toe en dan besef jy eintlik hoe klein is die dinge waaroor jy worry en wat is nou die ergste wat eintlik kan gebeur.” Ek dink dan besef ’n mens wat belangrik is, is om die lewe en dit wat jy doen, te geniet, want selfs die dinge waaroor jy stres, soos ’n optrede of ’n onderhoud, is iets wat jy moet geniet. Anders mis jy die gedeelte wat jy eintlik moet geniet en dit omdat jy oorweldig voel of bang/bevrees is. Dan dink ek ook om die seisoene te ken is belangrik, want daar is ’n seisoen vir alles – ook om oorweldig te voel. Ek dink nou terug aan die maand toe ek my album vrygestel het. Dit was omtrent twee of drie maande van regtig oorweldig voel in my hart, maar ek het heeltyd vir myself gesê dit is die seisoen van oorweldigheid – so voel dit en ervaar dit, want daarna is dit weer geluk wat wag.