“Afrikaans is ’n taal wat vriende wen waar daardie wortels ook vastrapplek kry.”
William Horne, Netwerk24-joernalis in residensie by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, skryf op 2 Desember 2023 op Netwerk 24 oor sy indrukke oor die rykwydte en veerkragtigheid van Afrikaans soos wat hy dit tydens die Festival Voor Het Afrikaans in Den Haag ervaar het. Akademici, gassprekers en kunstenaars asook almal wat lief is vir Afrikaans, trek tydens die fees saam, “gebind deur hul gedeelde belangstelling in en liefde vir Afrikaans.”
Horne vertel dat die Teater De Regentes waar die fees gehou is, eens ’n openbare swembad was. “Op die gladde teëls van die swembad het ons vir die openingseremonie gly-gly met wankelende bene gestaan en geglimlag – bitter ver van waar die taal ter sprake gebore is.” Sê Horne verder: “Ek kon nie help om te dink dat die byeenkoms in daardie swembad die realiteit van Afrikaans se stryd so goed weerspieël nie.” Hy sê dan ook dat ondanks die stigma wat daar steeds hier en daar aan die taal kleef, die weerstand om die “taal van apartheid” te ondersteun wat soms uit politieke kringe ontstaan en kwessies soos die Bela-wetgewing wat deur talle gesien word as ’n soort aanslag teen Afrikaans, “besef ’n mens ook dat Afrikaans se wortelstelsel verder strek as die Kaap of daar agter die Boereworsgordyn. Dis ’n taal wat veel verder groei en – nes sy mense – wêreldwyd versprei.”
Prof Wannie Carstens, hoogleraar aan die Noordwes-Universiteit was ook by die fees en het in ’n paneelbespreking tydens die fees met entoesiasme uitgebrei oor die Projek oor Variasie in Afrikaans (ProVaria). Hierdie projek het ten doel om die talle variante van Afrikaans in samewerking met verskillende taalgemeenskappe saam te vat, te ontleed en ten volle te dokumenteer. Carstens het gesê dat hulle geweldig geleer het uit die “omvangryke dokumentering van Nederlands en dat dit ongelooflike waarde vir ProVaria se doelwit toevoeg, naamlik om dieselfde vlak van dokumentering vir Afrikaans te verskaf”.
Horne skryf verder dat toe Vusi Madonsela, Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland in die afsluiting van sy openingsrede aangehaal het uit JRL van Bruggen se gedig “Heimwee” met die woorde: “Ek wil terug na die vrye ruimte, waar ’n siel in woon, wat verstaan …” hy self werklik verstaan het. Sê Horne: “Afrikaans kan nie sterf nie. Die taal se siel sit in sy mense. Mense van verskillende rasse in Suid-Afrika en – kom ek toe agter – wêreldwyd. In daardie siel sit Afrikaans se veerkragtigheid en skuil die taal se toekoms – al lyk dit nie soos sy verlede nie. En dalk juis omdat die nie soos sy verlede lyk nie.”
Die volledige artikel kan hier gelees word: Brief uit Amsterdam: Ek ontdek Afrikaans se siel in ’n swembad in Den Haag | Netwerk24
Die groei en opbloei van Afrikaans in Nederland
Afrikaans.com het prof Wannie Carstens genader om sy indrukke oor die groei van Afrikaans in Nederland met ons te deel. Prof Carstens sê die volgende:
“Die Festival voor het Afrikaans is reeds vyf keer aangebied. Ek was by vier uit die vyf betrokke en elke keer het ek opgelet die verskeidenheid raak groter en die mense word meer. Die atmosfeer tydens die fees is ook altyd lekker en gemoedelik.
“Daar is talle inisiatiewe waar Afrikaans die nodige aandag kry en Zuid-Afrikahuis in Amsterdan skep talle geleenthede en daar is ook ander instansies en plekke met noue bande met Suid-Afrika en wat hulle beywer vir Afrikaans. Afrikaans as akademiese taal word ook in Nederland aangebied en gedoseer en studente word op die manier bewus gemaak van Afrikaans en die moontlikhede van Afrikaans as akademiese vak.
“Sedert 2015 word Afrikaans as vak by die Universiteit van Leiden gedoseer en daar is ook ’n leerstoel by die Universiteit van Amsterdam – hierdie leerstoel strek reeds oor 90 jaar. In Vlaandere by die Universiteit van Gent was ek self in 2018 by die leerstoel betrokke – op sigself ’n positiewe ervaring. Afrikaans word ook in Antwerpen gedoseer. As ek dink aan die tagtiger- en selfs negentigerjare en dit met die stand van sake vandag vergelyk, het die belangstelling gegroei en het dit groot verandering meegebring. Daar gebeur baie. Maar … as ’n mens dink dit is enorm, maak jy ’n fout. Dit is nie so groot nie, maar daar is groei. Dink daaraan: Jy begin met ’n saadjie en ’n saadjie word algaande groter. Daarom is ek positief oor wat kan gebeur. Ek werk al sedert 2005/6 sporadies in Nederland en elke keer as ek hierheen kom en met mense praat en lesings gee – soos nou onlangs in Gent – ervaar ek dit uiters positief. Dus, jy probeer maar die inligting versprei waar jy kan …”
Die Festival Voor Het Afrikaans
”’n Tweejaarlikse fees van taalkunde en literatuur wat deur Zuid-Afrikahuis in samewerking met die Stichting Afrikaans en de Lage Landen bestuur word. Die fees het ten doel om die Nederlandse en Vlaamse publiek van die rykdom van die Afrikaanstalige kultuur in te lig en kunstenaars van Nederland, België en Suid-Afrika ’n platform te gee om voor ’n groeiende gehoor van Afrikaanse taalliefhebbers hul kuns uit te leef.”
Vanjaar is die Fees weer gereël deur Ingrid Glorie. Mense soos Antjie Krog, Frazer Georgio Barry en Deniel Barry, Amanda Strydom, Dean Balie en Bianca Flanders Balie, Stef Bos, Lee-ursus Alexander, Marita van der Vyver en Marlo Minnaar was net sommige van die bekendes wat die gehoor betower het.
Lees ook op Voertaal oor 2023 se Fees (teks in Nederlands)
ProVaria
“ProVaria skyn die lig op die blindekolle van Afrikaans – die groen lote van die groei en vooruitgang van Afrikaans ten spyte van uitdagings.”
– Frazer Barry, radio-omroeper en kunstenaar van Kleinmond
Die projek is begin om navorsing oor die variëteite van Afrikaans beter te koördineer, sowel as om navorsingsbehoeftes uit te wys en samewerking tussen akademici te bevorder. Die projek se aanvanklike doel is om sy eerste opname van die belangrikste tekste van die bestaande navorsing oor die variëteite van Afrikaans in ’n bundel deur die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) uit te reik.