Deur: Alita Steenkamp
Foto: Facebook
Freek Robinson het die voorreg gehad om saam met Koos du Plessis in Die Oggendblad se nagkantoor te werk waar Koos, toe sub-redakteur, met sy fantastiese taal- en skryfvaardighede, hom help slyp het. Vaardighede wat hy later in sy loopbaan as joernalis dikwels gebruik het. So vertel Freek Robinson, oudtelevisieman, in ʼn onderhoud op Maroela Media. Freek is tans besig om bestekopname te maak van sy veertig jaar in die joernalistiek wat wonderlike hoogtepunte insluit. As joernalis en televisieaanbieder het Freek behoorlik die wêreld deurkruis op soek na nuusstories. Sy werk was meestal in Afrikaans.
Alhoewel hy by ʼn koerant begin het, sou hy nooit ʼn tipiese joernalis kon word wat op moord en misdaad fokus nie, het hy eenmaal in ʼn onderhoud gesê. “Daar is beslis ’n plek daarvoor en iemand moet dit doen, maar dit is nie my styl nie. Ook nie om iemand aan die pen te laat ry en lekker te kry daaroor nie. So nou en dan word ek gedwing om na ’n misdaadtoneel te gaan en met ’n ma te praat wie se seun geskiet is, of iets dergeliks. Ek het egter nie sin daarvoor om so op die bloed en die ma se trane te fokus nie. Dit beteken soms jou program is nie vreeslik gewild nie, omdat dit nie skokkende beeldmateriaal bevat nie. Tog probeer ek altyd vir mense iets gee om na te kyk sonder dat hulle ongemaklik voel. Hulle moet ook nooit die idee kry ek is neerhalend of afbrekend nie.”
Vroeër vanjaar het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat Freek op die lys nominasies is om ʼn nasionale orde te ontvang, maar dit is kort na die aankondiging weer teruggetrek aangesien daar beswaar gemaak is teen Frank se nominasie. Dit was ʼn groot teleurstelling vir Freek. Later vanjaar het hy wel ʼn besonderse toekenning ontvang toe hy by die Silwerskermfees met ʼn spesiale toekenning vir sy lewensbydrae tot die Afrikaanse televisiebedryf vereer is. Freek het die toekenning ontvang met trane wat gevloei het.
“My deurlopende doelwit is egter nog steeds om te sien hoe ek deur die televisie en radio as openbare media ’n rol in die gemeenskap kan speel,.” het Freek gesê
Luister hier na die gesprek met Freek.