Skrywer: De Wet Potgieter
Agt jaar het reeds verstryk sedert die laaste keer wat Christo Davids te sien was as Errol Pieterse in 7de Laan, maar daar gaan feitlik nie ’n dag verby wat iemand hom nie voorkeer en groet met ’n “Hi Errol” nie. Hieroor lag hy maar net. 7de Laan het beslis ʼn baie belangrike rol gespeel in die lansering van sy loopbaan. Hy was egter sommer net ʼn jong seuntjie van elf jaar oud toe hy vir die eerste keer sy buiging voor die kameras gemaak het in die televisiereeks Onder Engele. Vandag, op 40 lê sy spore in ons vermaaklikheidswêreld diep. Hy en sy skryfspan is onlangs weer beloon met ʼn SAFTA-toekenning vir die reeks Good Men. Die prys was vir Best Scriptwriting. Hy het vyf van die episodes van die reeks geskryf, en was ook die regisseur. Oor ʼn toekenning soos hierdie sê hy dat dit ʼn besonder groot eer is, maar dat ʼn mens nie te veel mag luier oor die idee dat jy beloon is nie.
Bly net getrou aan wat jy doen, en sorg dat jy altyd jou heel beste gee.
Deesdae kry ʼn mens maar min te sien van Christo op die kassie. In die reeks Hartklop wat in Oktober klaargemaak het op kykNET, was hy wel te sien as Solly, ʼn man wat alles probeer om sy mooi doktervrou te behou, maar uiteindelik nie daarin kan slaag nie en tevrede moet wees wanneer sy nuwe verloofde vir hom die kind kan gee waarna hy so gesmag het.
Hy lag oor die vraag of hy vir homself die rol gegee het soos wat groot regisseurs soms doen wanneer hulle vinnig ʼn draai op die skerm maak in ʼn kameerol. “Hulle het my darem gevra om die rol te vertolk en ek het dit nogal baie geniet. Dit bly lekker om te act en ek geniet dit elke keer wat ek dit doen. Dit is immers waar alles vir my begin het,” sê Christo.
Waar dinge eintlik vir Christo begin het, was toe sy oupa, die bekende akteur Goliath Davids, hom opdrag gegee het om Afrikaanse gedigte te leer en dit vir hom te kom voordra. Dit terwyl sy maters buitekant gerinkink het en bal kon skop. Toe het hy altyd gewonder hoekom hy so gestraf word, maar vandag besef hy die waarde daarvan. Hy het immers aan die voete van ʼn meester geleer.
In die afgelope agt jaar het Christo hom met ʼn hele paar dinge besig gehou, vertel hy.
“My loopbaan is nou versprei oor verskillende afdelings. Ek skryf, tree as regisseur vir televisiereekse op, soms as vervaardiger maar is ook baie betrokke by teaterproduksies waar ek ook as regisseur optree. Ons het pas klaar gemaak met die stuk Orphans wat in die Baxter Teater in Kaapstad gespeel het. Tans skryf ek ook aan ʼn nuwe play Laaitie met die biscuit waarmee ons kunstefeeste toe wil gaan.”
Laaitie met die biscuit waaraan hy tans werk, is gebaseer op die lewensverhaal van Nathaniel Julies, die 16-jarige Downsindroom seun wat op ʼn omstrede wyse geskiet is deur die polisie. Christo sê dat die toneelstuk nie bloot net die lewensverhaal van Nathaniel vertel nie, maar dat dit ook universeel kyk na die groter prentjie. Vir hom was dit nog altyd belangrik om stories te vertel van die wat nie ʼn stem het om dit self te vertel nie. Hiervoor werk Nathaniel Julies se verhaal uitstekend.
“Ek takel hierdie goed omdat ek ʼn opinie het daaroor of omdat daar iets is wat ek self wil uitfigure. Dan help so ʼn toneelstuk of movie of televisiereeks jou om antwoorde op jou vrae te kry. Ek fokus op gemarginaliseerde gemeenskappe. Die mense wat nooit rêrig ʼn stem kry nie. In een van my toneelstukke, Queenie-hulle, gaan dit weer oor ʼn groep bergies. Hulle vind uit hulle mag nie in die verkiesing stem vir die president nie want hulle het geen vaste adres nie. Mens wonder net of hulle ooit hiermee gehelp sal kan word,” sê hy.
Op die vraag wat die moeilikste is van al die werk wat hy tans doen, kom die antwoord: “Om ʼn toneelstuk te regisseer want die oomblik wat jy daardie toneelstuk moet present, sit daar ʼn gehoor van 300 mense wat daarna kyk. Ek glo elke regisseur of skrywer of akteur beleef dit ook so. Jy kry sulke klein angsaanvalletjies want dit voel elke keer asof jy geboorte gee aan ʼn vorm van hierdie kuns, maar daar is 300 mense wat elkeen anders daarna kyk en sy of haar eie opinie vorm. I hope that I stay trueful to what I do and to who I am.
Ek hoop dat ek nooit my eie waarheid sal verloor in enige werk wat ek doen nie. Dis vir my belangrik om te bly wie ek is en die regte tipe stories te kies wat ek voel ek wil vertel. Op daardie manier sal ek graag wil bydra tot die industrie,”voeg hy by.
Christo sê al is sy werk vir hom ontsettend belangrik, laat hy nooit toe dat dit die fokus van sy gesin wegneem nie. Hy en sy vrou Cindy woon in Olivedale in Johannesburg en hulle het twee kinders, die 6 jarige Elijah en die driejarige Leia. Hulle is beslis die lig in sy lewe, en hy sien ook sy taak hier om hulle groot te maak as baie belangrik. Om met die twee te gaan stap of te speel bly die hoogtepunt van elke dag.
ʼn Mens kan nie met Christo gesels sonder om hom te pols oor 7de Laan wat aan die einde van die jaar tot ʼn einde kom nie. Hy was immers vir ses jaar lank deel van die sepie: as akteur en regisseur. Hoe voel hy daaroor”
“Ek is baie hartseer dat dit klaarmaak. Sommige mense sal dalk sê All good things come to an end, maar hierdie saak is veel ingewikkelder.
Dit was nie die vervaardigers se besluit om die produksie te stop nie maar dis net die wanbestuur van die SABC. Dit is eintlik baie sad want daar is baie mense by die sepie betrokke vir wie ek baie lief is. Daar is soveel mense wat moet gesinne onderhou. Mense wat al vir twintig jaar daar werk. Al daai dinge maak dat dit vir my ʼn baie slegte situasie is dat die sepie gaan toemaak. Die SABC is maande agterstallig met 7de Laan se betalings en daar is geen vervaardiger in die hele wêreld wat ʼn produksie vir so lank kan dra nie,” sê hy ferm.
As vryskutwerker sorg Christo die hele tyd dat hy vir homself werk skep. Dit behels die skryf van televisietekste, verhoogdramas en rolprenttekste. Dan is hy ook in die regisseurstoel met talle hiervan. Dit bly ʼn uitdaging om ʼn gesin op hierdie manier te onderhou, maar dit bly terselfdertyd uitdagend en kreatief.
“Ek sal eendag onthou wil word as iemand wat stories vertel het wat saakmaak” sê Christo. “Ek sal baie graag onthou wil word as iemand wat ʼn rol gespeel het in die vooruitgang van die standaard van teater in ons land. Iemand wat nie gekom het om net volgens die standaard van ander te werk nie, maar dit juis uit te daag en nog beter te vaar. ʼn Mens moet jouself immers altyd harder druk!