Ons weet almal tegnologie maak ’n groot deel uit van ons kinders se lewens, veral ons kinders wat hulle in die tussen-in fase van tienerwees bevind. Ons sogenaamde “tweens” wat elke dag net nog meer onafhanklik en tegnies-kundig raak. Hoewel ons nie ons kinders heeltemal kan weghou van tegnologie nie, kan ons hulle wel leer om verantwoordelik daarmee om te gaan. Hier is ’n paar wenke oor hoe om op ’n positiewe en gesonde manier met jou kind oor die kwessie te kommunikeer en om grense te stel:
- Gesels oop en eerlik oor tegnologie. Vra jou kind om te verduidelik wat dit is wat tegnologie vir hom so aantreklik maak en waarvoor hy dit gebruik. Deel jou bekommernisse en luister na sy mening en siening. So ’n gesprek kan help dat julle mekaar se perspektiewe daaroor beter verstaan en saam ’n plan wat vir alle partye kan werk, kan beraam.
- Stel duidelike reëls en grense vas en bepaal dan riglyne ten opsigte van daaglikse toegelate skermtyd, watter webtuistes en apps buite perke is en watter toestelle gebruik mag word. Maak seker jou reëls is ouderdomsgepas en afdwingbaar.
- Moedig gesonde gewoontes aan. Moedig jou kind aan om ’n breek weg van skerms te neem, betrokke te raak by fisiese aktiwiteite/oefening en ook fisies tyd saam met vriende en familie te spandeer. Jy as ouer kan hier die voorbeeld stel.
- Monitor jou kind se aanlyn aktiwiteit. Hou ’n ogie waarmee hy aanlyn besig is, met wie hy praat en wat hy deel. Wees deursigtig in jou optrede en verduidelik aan jou jou kind wat jy monitor en hoekom jy dit doen.
- Wees buigsaam en oop vir onderhandeling. Namate jou kind ouer en meer volwasse word, sal sy tegnologie-behoeftes en -belangstellings ook verander. Indien nodig, pas jou reëls en beperkinge aan en wees altyd bereid om na jou kind se insette hieroor te luister.
Onthou, die sleutel tot gesonde kommunikasie met jou kind oor tegnologie, is om ontvanklik te wees en die kwessie met ’n gesindheid van opregtheid en vriendelikheid te benader. Deur duidelike reëls en grense neer te lê en gesonde gewoontes aan te moedig, kan jy help dat jou kind tegnologie op ’n verantwoordelike en veilige manier gebruik.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.