As ouers sit ons dikwels met ons hande in die hare, voel ons oorweldig en weet ons nie mooi watter kant toe volgende nie. Tog, om “ja” te sê op elke versoek, lei dikwels daartoe dat ons ons eie behoeftes en prioriteite afskeep. Wanneer ’n mens egter leer om op doeltreffende wyse “nee” te sê, laat dit ons toe om gesonde grense te stel en opnuut beheer oor ons tyd en energie te verkry.
Hier is so ’n paar praktiese wenke vir ouers om dit makliker te maak om “nee” te sê:
Verstaan die uitdaging
Om “nee” te sê, kan om verskeie redes uitdagend wees. Ons is dalk bang om iemand teleur te stel, of is bekommerd dat ons iemand se gevoelens gaan seermaak. Deur bewus te wees van die struikelblokke, is die eerste stap om hulle te oorkom. Onthou, om “nee” te sê, maak jou nie ’n slegte ouer nie; dit stel jou in staat om dit wat werklik saakmaak, eerste te stel.
Selfgeldende kommunikasie is jou geheime wapen
Indien jy op doeltreffende wyse “nee” wil sê, moet jy jouself laat geld. Deur jou besluit duidelik en met selfvertroue oor te dra, stel jy duidelike grense terwyl jy respek vir jouself en ander behou. In plaas van vae antwoorde soos “Ek kan nie” of “Ek is te besig”, sê liewer iets soos “Ek het besluit om dit nie te doen nie” of “Ek verkies om dit nie te doen nie”. Op dié manier neem jy eienaarskap van jou besluit en het die ander party begrip daarvoor.
Stel grense en stel jouself eerste
As ouers is dit maklik om vasgevang te word in die nimmereindigende eise van ons kinders en die verantwoordelikhede van die gesinslewe. Om grense vas te stel is egter noodsaaklik vir ons welstand. Neem ’n oomblik om te besin oor jou behoeftes, waardes en doelwitte. Besluit hoeveel tyd, energie en hulpbronne jy aan jouself kan toewys terwyl jy jou ouerlike pligte nakom. Hou in gedagte, selfversorging is nie selfsug nie; dit is noodsaaklik om die beste ouer te wees wat jy kan wees.
Praktiese wenke om met selfvertroue “nee” te sê:
- Neem ’n oomblik en dink eers daaroor: Stem die versoek ooreen met jou prioriteite en waardes? Haal eers diep asem en luister na jou instinkte voordat jy reageer.
- Wees eerlik en bondig: Dra jou besluit duidelik en eerlik oor. Vermy onnodige verduidelikings en regverdigings. ’n Eenvoudige “Ek kan my nie op die oomblik daartoe verbind nie” of “Ek het ander prioriteite op die oomblik”, is dikwels voldoende.
- Oefen om aktief te luister: Luister aandagtig na die persoon wat die versoek rig en erken hulle behoeftes. Reageer dan selfgeldend terwyl jy jou eie beperkinge en grense in gedagte hou.
- Bied alternatiewe, indien moontlik: As jy werklik wil help, maar nie aan die versoek kan voldoen nie, stel alternatiewe oplossings voor of bied hulp aan binne jou vermoëns. Dit wys dat jy bereid is om ondersteuning te bied, maar binne jou beperkinge.
- Beoefen selfdeernis: Onthou dit is goed om jou en jou gesin se welstand eerste te stel. Om “nee” te sê maak nie van jou ’n slegte ouer nie; trouens dit wys juis dat jy weet wat die beste vir jou is en waar om die streep te trek.
Om te leer hoe om “nee” te sê as ’n ouer is ’n waardevolle vaardigheid wat jou in staat stel om in beheer te wees van jou tyd, energie en welstand. Onthou, om “nee” te sê, is nie selfsugtig nie; dit is om dit wat werklik saakmaak om ’n harmonieuse en vervullende gesinslewe te skep, eerste te stel. Leer om “nee” te sê en geniet die reis van ouerskap terwyl jy jou eie behoeftes deurentyd koester.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
