Ouerskap kan op vele maniere nogal onseker wees. As ouers voel ons dikwels angstig oor goed soos ons ouerskapstyle, ons kinders se emosionele toestand en die toekoms – alles meestal die dinge wat ons nie kan beheer nie.
Heelwat angstige gevoelens is die gevolg van ons gedagtes oor die toekoms en wat dit kan inhou. Daarmee bedoel ons in plaas daarvan om in die oomblik saam met jou kind te wees, is jy vasgevang in denkpatrone en bekommernisse oor hulle toekoms. Dit veroorsaak dat ons nie ten volle in die oomblik saam met ons kinders is nie – juis wanneer ons kinders nodig het dat ons daar vir hulle moet wees. Dit lei dan tot onwerklike of onrealistiese verwagtinge van onsself, ander, en ons kinders. Die probleem is dat wanneer daar nie aan hierdie verwagtinge voldoen word nie, ons soos mislukkings voel, en dat ons kinders voel dat hulle nie aan ons verwagtinge voldoen nie.
So, hoe kan ons ons verwagtinge bestuur?
Hier is so ’n paar gedagtes hieroor:
- Raak bewus van die verwagtinge wat jy dalk het. Om gefrustreerd of teleurgesteld te voel is tipiese gevoelens wat voortspruit uit verwagtinge waaraan daar nie voldoen is nie. Probeer om meer bewus te wees oor wat besig is om met jou sintuie te gebeur.
- Raak bewus van die gedrag. Gedrag wat ons as onaanvaarbaar beskou, laat ons ongemaklik voel; vra jouself of jy reageer op die onaanvaarbare gedrag weens onrealistiese verwagtinge wat jy aan jouself gestel het.
- Wees bedag daarop wanneer jy jou kind etiketteer. Die etikette wat ons so maklik gebruik en om ander hang, word dikwels deur ons verwagtinge gegenereer. Wanneer jy jou kind as stout etiketteer, kan dit gewoonlik toegeskryf word aan ’n verwagting wat jy van jou kind het wat nie nagekom word nie. Probeer altyd om bewus te wees van die verwagting voordat jy jou kind dissiplineer – is dit moontlik dat hulle verwagting van hulleself dalk van joune verskil?
- Hanteer altyd onaanvaarbare gedrag eers as jy kalm is, opnuut gefokus en bewus is van al die moontlike verwagtinge rondom jou.
- Verander die verwagting en probeer om ’n ander manier te kry om na die wêreld rondom jou te kyk. Die enigste ding wat jy kan beheer, is wat op daardie oomblik gebeur.
- Probeer om jou gedagtes te beheer. Ons het nie beheer oor die “wat as”-oomblikke van die lewe nie, maar ons het wel beheer oor die gedagtes wat op daardie oomblik in ons koppe is.
Om vas te klou aan onrealistiese verwagtinge verwyder ons van die huidige oomblikke wat ons met ons kinders kan deel terwyl hulle nog jonk is (hulle gaan nie vir altyd by ons wees nie). In plaas daarvan, lei dit tot angstige gedagtes en ouerskapbesluite wat gemaak word uit vrees vir die toekoms wat ondoeltreffend is in die hier en nou wanneer ons kinders meer as ooit ons teenwoordigheid nodig het.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.