
Spier Arts Trust Union House, Kaapstad.
19 Oktober – 1 Desember 2023.
Die bekende kunstenaar Hanneke Benadé se uitstalling getitel ‘Sense of Place,” open 19 Oktober 2023 by die Spier Arts Trust Union House in Kaapstad.
Met hierdie uitstalling word die figure in haar werk teen ’n landskapgtergrond geplaas. Dit is nuut tot haar werk wat gewoonlik geen verwysing na plek en omgewing aangedui het in die verlede nie. Daar is ’n verskuiwing. Benadé verduidelik: ‘Die figuur sit nou in ’n spesifieke plek en neem ’n plek op in ruimte, in die geval is die plek ‘n landskap. Daar is ’n verhouding tussen die landskap en die model. “Die landskappe in die agtergrond is meer van ’n herinnering aan ’n landskap en nie noodwendig bloot ’n realistiese weergawe van ’n plek nie. Dis meer ’n denkbeeldige plek. Dis hoe ek ’n landskap onthou en nie ’n weergawe vanaf ’n foto nie.”

Die uitstalling beeld ’n interspel van emosies, herinneringe en ervarings uit, wat gesamentlik ons sin van plek vorm. Die figure sit almal op ’n spesifieke meubelstuk, ’n rusbank of ’n stoel, wat daarop wys dat die ruimte opgeëis is – ’n plek vir rus, refleksie en ’n gevoel van behoort.
’n Installasie van 20 klein werke van objekte van alledaagse voorwerpe, wat as een werk gesien kan word, hang saam met die groter landskapswerke. Die objekte van enkele items in die kunstenaar se huis staan in kontras met die wye landskappe. Die objekte is uitgebeeld gesien deur ’n baie nou lens teenoor die landskappe se wye lens. Hierdie voorwerpe, wat wissel van tuinrose, lepels en eetgerei, het ook hul unieke plekke in die kunstenaar se onmiddelike omgewing, al is dit binne meer beperkte en minder gedefinieerde ruimtes. ’n Binnelandskap.
Benadé het ’n kenmerklike styl en haar medium is steeds sagte poeierpastel op wit katoenpapier. Benadé se werk lewer nie sosiale kommentaar nie. Haar werk nooi die kyker uit na ’n kontemplatiewe ruimte, wat ’n persoonlike dialoog tussen die kunswerk en die waarnemer aanmoedig. In haar eie woorde is haar kuns soortgelyk aan ’n stil fliek of ’n vriesraam – ’n oomblik wat in tyd opgeskort is.
Die uitstalling kan gesien word in Kaapstad Union House, Commercialstraat 25, vanaf 19 Oktober tot 1 Desember 2023. Die uitstalling sal oop wees vir die publiek van Maandag tot Vrydag, tussen 09:00 en 16:00.
Biografie
Hanneke Benadé is in Pretoria gebore. Sy voltooi haar BA Beeldende Kunste-graad in 1993 aan die Universiteit van Pretoria. Sy is tans ’n voltydse kunstenaar wat in Robertson, Wes-Kaap, woon en werk. Sy het die afgelope 20 jaar aan menigte plaaslike, asook buitelandse uitstallings deelgeneem en 16 solo-uitstallings gedoen. Benadé het onder andere ’n merietetoekenning by die ABSA Atelier en ’n Brett Kebble-toekenning in 2003 ontvang. In 2008 ontvang sy twee KANNA-toekennings by die KKNK in Oudtshoorn en is in 2016 as Feeskunstenaar by die Innibos Nasionale Kunstefees aangewys. Sy het al residensies in Frankryk voltooi en haar werk is in ’n aantal private- en korporatiewe versamelings opgeneem o.a versameling van die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Johannesburg; asook Spier Holdings, Rand Aksepbank, SAB, Hollard House, Pretoria Kunsmuseum, Iziko Museum Kaapstad, Die Gauteng Provinsiale Regering, British American Tobacco Company, Sanlam, Sasol, Telkom en ABSA.
Kontak nommer: Spier Arts Trust: 021 461 2679.
Sosiale media:
https://www.instagram.com/spierartstrust/
https://www.facebook.com/spierartstrust/
Hanneke Benadé sosiale media:
Instagram: @hanneke_benade

