Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Hoe weet ‘n mens wanneer die woorde, “ek wil nie meer lewe nie!” uit jou kind se mond rede is tot kommer of net tipiese tienergedrag is? Kinders so jonk as ses spreek soms selfdoodgedagtes uit. Maar beteken dit jou kind gaan nou tot die daad oorgaan? Is jou kind werklik depressief? Of is sy optrede bloot ’n soeke na hulp? Dui die gereelde klagtes oor maag- of hoofpyn op werklike ongesteldheid of siekte, of is dit psigosomatiese simptome gekoppel aan depressie? En wat is die moontlike oorsake dat jou kind of tiener aan depressie ly? Hoe behandel ‘n mens dit?
Statistiek deur die SA Depressie- en Angsgroep, skets ’n somber prentjie, want daarvolgens is 9% van sterftes onder tieners weens selfdood. Volgens die sielkundige Dalene du Plessis het “kinders so jonk as sewe jaar al hul eie lewe geneem”. So ook toon van die jongste navorsing in Amerika dat kinders tussen 10 en 12 se selfdoodpogings vanaf die jaar 2000 tot 2020, meer as vervierdubbel het. Afrikaans.com het so bietjie dieper gedelf en die volgende belangrike inligting opgesom:
Moontlike oorsake van depressie
- Depressie is dikwels oorerflik.
- Dit word veroorsaak deur ’n chemiese wanbalans in die brein.
- Dit is ‘n traumarespons.
- Druk van ouers, onderwysers, medeleerders op skool om te presteer.
- Gebrek aan ondersteuning van ouers.
- Disfunksionele huislike omstandighede.
- Omgewingsfaktore, soos stres, spanning by die huis, verlies (aan ‘n troeteldier of geliefde familielid of ‘n beste maatjie wat wegtrek), ouers wat skei, die tiener word afgesê.
- Kind word geboelie.
- Sukkel om aan te pas en raak dan depressief.
- Leer- en leesprobleme kan tot depressie lei, want die kind kom agter hy presteer nie so goed soos sy maats nie.
- Kinders wat sukkel met ander geestesgesondheidkwessies, soos aandaggebrek-hiperaktiwiteit, is soms meer vatbaar vir depressie.
Waarna om op te let
- Verandering in gedrag.
- Jou kind kla gereeld oor hoof- of maagpyn en dit word nie juis beter met behandeling nie. Dit kan dus psigosomaties wees. Onthou egter: die pyn is werklik – die oorsaak is net nie altyd iets fisiek nie.
- Jou kind is uiters geïrriteerd, kry woedebuie en tree agressief op.
- Jou kind kan homself nie dereguleer nie, m.a.w. hy kan nie sy emosies reguleer nie. Byvoorbeeld: Hy kan nie ophou huil nie, gooi goed rond, slaan goed, skree op ander, is oordrewe hartseer, ens.
- Jou kind onttrek, wil nie meer uitgaan en sosialiseer nie en is dikwels huilerig.
- Slaappatrone word geraak – slaap baie of ongereeld.
- Eetprobleme – eet te min of te veel.
- Skoolwerk gaan agteruit.
- Luister na onderwysers – hulle sien dalk iets raak wat nie by die huis merkbaar is nie.
- Jou kind se selfbeeld is nie na wense nie – hy/sy maak negatiewe aanmerkings oor hom-/haarself.

Let op die volgende tekens:
Die voorskoolse kind:
- Die aktiewe kind word skielik minder aktief en slaperig en die rustige kind word skielik hiperaktief.
- Kla oor maag- en hoofpyn.
- Is buierig/prikkelbaar.
- Gereeld hartseer en huilerig.
- Wil nie meer aan aktiwiteite deelneem nie.
- Klou oormatig aan ouers – wil nie van ouers geskei wees nie.
- Verandering in eet- en slaappatrone.
Die laerskoolkind:
- Wil nie meer skool toe gaan nie en is angstig.
- Slaap- en eetpatrone verander – gewigsverlies of -toename.
- Kla oor maag- en hoofpyn. Dit is werklike pyn en word nie versin nie, maar die oorsaak is waarskynlik psigosomaties eerder as fisies. Alhoewel, kinders kan maagsere kry.
- Is die heeltyd bekommerd oor goed.
- Sukkel met selfbeeld.
- Raak aggressief sonder behoorlike rede.
- Gebrek aan motivering wat tot swak punte in skoolwerk kan lei.
Die tiener:
- Lyk verwaarloos en gee nie meer om oor voorkoms en netheid nie.
- Sukkel om te konsentreer.
- Is die heeltyd moeg.
- Onttrek en wil nie met maats/familie meng nie en ook nie aan aktiwiteite deelneem nie.
- Loop gereeld weg.
- Ontwikkel selfdoodgedagtes of wend selfs poging aan.
- Uiters sensitief teenoor ander se mening.
- Kan nie mislukking (al is dit net ‘n persepsie) hanteer nie.
- Swak selfbeeld.
- Verandering in eetgewoontes.
- Raak aggressief en buierig.
- Is dikwels huilerig.
- Eksperimenteer met drank en dwelms.

Hoe behandel of hanteer ‘n mens depressie by jou kind of tiener?
Ouers en onderwysers moet bedag wees op die kind se emosionele welstand en dadelik optree as hulle vermoed alles is nie pluis nie. Kinders is geneig om soms uitlatings te maak, soos “Ek wil nie langer leef nie!”, en so meer, maar dit beteken nie noodwendig hulle oorweeg selfdood nie. As jy egter enigsins twyfel of daar is tekens, tree op en raadpleeg ’n sielkundige.
Oorweeg psigoterapie (praat-terapie) – in gesinsverband, maar ook afsonderlik. Dit is moeilik vir veral jong kinders om hulle gevoelens in woorde uit te druk en daarom is die bystand en kundigheid van ‘n terapeut van onskatbare waarde.
As jou kind gediagnoseer is, stel die skool/onderwysers in kennis sodat hulle met empatie by die skool hanteer word.
Kommunikeer en luister. Jou kind moet die vrymoedigheid hê om oor enige iets met jou te gesels. Dit is daarom noodsaaklik om nie veroordelend te wees nie en van jongs af geleenthede te skep om met jou kind te gesels.
Gee erkenning aan jou kind se emosies. Dit is nie sommer net kinder- of tienertwak nie.
Waak teen skuldgevoelens. Jou kind kan maklik skuldig voel oor sy toestand en dit kan lei tot dieper depressie. Moet dus nie druk op die kind sit om homself uit die situasie te dink nie of sy gesindheid te verander nie.
As daar konflik by die huis is, tree onmiddellik op en kry oplossings.
Onvoorwaardelike liefde en ondersteuning is uiters noodsaaklik.
Stel steeds duidelike grense. Kinders wat binne grense moet optree, voel veiliger, want hulle weet wat om te verwag as hulle nie by die reëls hou nie.
Maak seker die terapeut en jou kind vind aanklank by mekaar. As die kind nie met die terapeut/sielkundige klaarkom nie of gemaklik in sy/haar teenwoordigheid voel nie, moet jy onmiddellik iemand anders kry, want die vertrouensverhouding tussen die pasiënt en die terapeut is belangrik vir suksesvolle behandeling.
Gereelde ontspanning en oefening. Moedig jou kind aan om steeds stokperdjies te beoefen en gereeld oefening te doen. Daardie goedvoelhormone doen wondere vir die gemoed.
Medikasie of nie?
Die sielkundige/psigiater sal na die hele prentjie kyk en dan diagnoseer. Indien moontlik, probeer ’n mens eers sonder medikasie behandel. Tog is dit dikwels nodig om medikasie te gebruik en dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie en kan jou kind werklik help. Omdat dit ’n chemiese wanbalans is, is medikasie saam met terapie dikwels aangewese en maak dit die behandeling en terapie makliker en dikwels vinniger.
Wat jy moet weet
- Depressie is ’n kliniese toestand gekenmerk deur negatiewe verandering van gemoedservaring.
- Depressie word dikwels nie raakgesien nie en nie behandel nie.
- Dit is nie maklik om kinders te diagnoseer nie, maar gaan dikwels gepaard met ongelukkigheid en dan oor- of onderaktiwiteit, gedragsprobleme en psigosomatiese probleme.
- Indien jou kind as depressief gediagnoseer is, en behandeling ontvang, is dit belangrik om elke episode en insident te behandel.
- ’n Depressie-siklus duur ongeveer 18 maande, waarna die kind/tiener met die regte behandeling gewoonlik beter begin voel.
- Die langtermyngevolge van depressie is baie werklik en ’n kind wat nie behandel word nie sal langer depressief bly.
Hou in gedagte, die depressiewe kind se selfbeed is swak, hy glo nie in homself en sy vermoëns nie, en nie alle omstandighede kan altyd verander nie. Dit is alles kwessies wat die volgende depressie-siklus aan die gang kan sit. Dit is daarom noodsaaklik dat elke depressie-insident behoorlik behandel moet word.

Persoonlike ervarings word gedeel
Afrikaans.com het met twee persone gesels oor hul ervaring van depressie. Die een persoon, nou reeds ‘n suksesvolle volwassene, het haar ervaring as tiener gedeel. Die ander persoon is ’n mamma van ’n depressiewe laerskoolkind wat met depressie gediagnoseer is en behandeling ontvang. (Skuilname is gebruik.)
Karla (40) wat as tiener depressief was, vertel:
“Ek was 15 toe ek eendag uit die bloute, ’n vreemde ervaring gehad het. Skielik het hierdie ongelooflike hartseer gevoel oor my gedaal. Ek was eintlik nogal objektief daaroor en het gedink dat dit dalk depressie kon wees, want ek het geweet depressie bestaan, maar tog, destyds is daar nie openlik oor hierdie kwessies gepraat nie en was daar ’n soort stigma daaraan verbonde. Die gevolg was dat dit dikwels ongesiens gebly het – deur ouers, onderwysers, vriende en die gemeenskap – en die tiener het daarom nie sommer daaroor gepraat nie. Ek het toe ook weer vinnig beter gevoel.
“Ek was 16 toe dinge verander het. Skielik kon ek nie slaap nie en moes klaarkom met 1 tot 2 ure slaap per nag en was ek op daardie stadium ook ernstig depressief. Ek het egter nie gevoel dat ek dit met enige iemand kon deel nie, want het gedink hulle sou tog in elk geval nie verstaan nie. Hoe verduidelik ’n mens aan iemand dat jou hele liggaam en wese in pyn is? Ek het sonder enige hoop gevoel en het selfs oorweeg om my eie lewe te neem. Wat my redding was, is dat ek terselfdertyd begin hoofpyne kry het. Hier was iets fisies wat ek met my ma kon deel. Sy het my dadelik dokter toe geneem. Hy het ’n lae dosis van ’n spesifieke medikasie vir my hoofpyne voorgeskryf wat grootliks gehelp het daarvoor. Toevallig was die medikasie ook ’n ligte antidepressant en het dit bygedra om my depressie te laat afneem – hoewel daar niks oor depressie tydens die konsultasie genoem is nie. Na ses maande moes ek die medikasie los, maar omdat ek toe op ’n goeie plek was, was ek oukei. My ma het ook op daardie tydstip die boek “Natural Way” van Mary-Anne Shearer gelees en ons het besluit om die raad in die boek te volg. Vir my was dit die keerpunt – want dit het nie net gehelp met my gesondheid en welstand nie, maar ook sommer gehelp vir velprobleme, en so meer – alles dingetjies wat ’n tiener se selfbeeld kan beïnvloed.
“Ek was gelukkig om op ’n jong ouderdom hieroor te leer en om te besluit wat vir my werk. Daarom wil ek graag vir tieners sê om nie moed te verloor nie. ’n Mens ondergaan soveel verandering in jou lewe en liggaam en is voortdurend besig om te groei en te ontwikkel – soms tot na 30. Hierdie gevoelens is tydelik en deel van die groeiproses. ‘n Mens weet nie vooruit wat die toekoms inhou nie, maar jy is nie alleen nie. Dit sal beter raak, mits jy daaroor praat en indien nodig, behandeling ontvang.
“Vir my was dit ook my geloof wat my staande gehou het. Nie aanvanklik nie, maar later. Die dag toe ek besef het dat daar Iemand is wat werklik omgee en besef wat ek deurgaan en my bystaan, het dit makliker geword en bly dit die een ding wat my deurdra tot vandag toe.”
Belinda deel haar ervaring as ma van ’n depressiewe kind (11)
“Die keerpunt het gekom toe ons dogter (toe 10) op ’n dag ’n mes uit die laai gehaal het en haar pols probeer sny het.”
Belinda vertel dat hul dogter altyd eiewys en hardkoppig was en hulle besef het sy gaan ’n handvol wees. Sy was ook baie na aan haar oupa wat baie betrokke was by haar daaglikse lewe. Hy is ongelukkig in Julie 2021 aan covid oorlede. Dit het haar ernstig geraak en sy het gesukkel om by die nuwe omstandighede aan te pas. Sy was ook die slagoffer van boeliery en onregverdige optrede by die skool.
Deur die loop van die jaar het dinge net erger geraak en haar gemoedskommelinge en gepaardgaande uitbarstings het al hoe erger geraak – sy wou eenvoudig nie ander se redenasie insien nie. Sy het geskree op ander en goed rondgegooi in haar kamer. Die res van die gesin is negatief geraak en die ouer kind moes uit sy kamer trek en in die spaarkamer intrek net om sy huiswerk te doen en te kan slaap. Sy het ook gereeld gekla van maag- en hoofpyn en na mediese toetse is vasgestel dat die simptome psigosomaties was.
Hulle het besluit om haar een keer per week na ‘n sielkundige toe te neem – iets wat nie dadelik gehelp het nie, omdat dit ‘n proses is. Na ‘n besondere moeilike dag (dit was die ouer kind se verjaarsdagpartytjie) het sy skielik gesê dat sy nie meer wil leef nie en het genoem dat sy “maar net ‘n mes uit die laai sal haal …”. By die huis aangekom, het sy ook dadelik die daad by die woord gevoeg en reguit kombuis toe geloop, ‘n mes uitgehaal en haar pols probeer sny. Haar pa het die mes afgeneem waarna sy kamer toe is en goed begin rondgooi het. Die sielkundige het haar nog dieselfde dag gesien wat effens gehelp het, maar die gedrag het nie verander nie en daar was gereelde episodes – onder andere het sy haarself ook ‘n paar keer probeer wurg. Belinda vertel dat sy wel besef het dat haar kind dit nie sommer sou regkry nie en hoogstens sou flou word. Die gevolg op Belinda self was egter ook kommerwekkend en sy moes self dokter toe gaan om haar antidepressant se dosis te verhoog. Die res van die gesin het ook swaar gekry en hulle moes deurentyd versigtig optree rondom die jongste.
Op daardie stadium het hulle dit selfs oorweeg om haar in ‘n psigiatriese inrigting te laat opneem, maar daar is nie privaat instansies wat sulke jong kinders opneem nie – iets wat Belinda beskou as ‘n leemte in ons gesondheidstelsel. Hulle het toe probeer om ‘n afspraak by die bekende kindersielkundige dr Belsham te kry en deur die genade kon hy hulle redelik vinnig sien.
Sy word tans behandel met ‘n gemoedstabiliseerder en ‘n antidepressant – die medikasie moes ‘n keer of wat verander en aangepas word, maar dit word geleidelik gedoen. Na maande is die diagnose steeds dat sy bipolêr is (depressie is deel van die toestand) en is sy ook steeds op behandeling vir aandaggebrek-hiperaktiwiteit omdat dit nie onder beheer is nie en verdere angstigheid veroorsaak.
Belinda reken dat daar op die stadium niks spesifiek is wat die episodes veroorsaak nie – dit kan letterlik enige iets wees wat ‘n uitbarsting tot gevolg kan hê. Na ’n jaar van behandeling en menige sessies is hulle al op ‘n beter plek, maar beslis nog nie waar hulle moet of wil wees nie.
Sy het ook van skool verander en is nou in ‘n privaat skool met kleiner klasse en sonder die boeliery en mededinging waaraan sy in haar vorige skool blootgestel was. Spanning is steeds ‘n groot faktor en sy word maklik geraak deur wat ander mense/kinders sê en op die manier word “onskuldige goed ’n berg”. Belinda vertel dat haar kind nou heelwat gelukkiger is as ‘n jaar gelede en dat die nuwe skool en skoolhoof haar met empatie behandel en goed dophou.
Sê Belinda: “Ons is op die punt waar ons haar probeer weghou van situasies waar iets ‘sleg’ kan gebeur om haar eers mooi te leer oor hoe om sulke situasies te hanteer en dit nie persoonlik op te neem nie. Sy het ook begin om meer geredelik met my te praat as iets pla en is ons darem nou meer voorbereid op die moontlike uitbarstings. Sy het ook intussen tegnieke aangeleer om haarself te kalmeer (te reguleer) en hoef ons haar nie meer die heeltyd met handskoene aan te hanteer/benader nie.”
Slotgedagte
Onthou, daar is niks om oor skaam of ongemaklik te voel as ’n persoon met depressie gediagnoseer word nie. Dit is nie iets wat jy as ouer verkeerd gedoen het nie. Depressie is soos om diabetes te hê – die insulientekort moet behandel word. So ook moet die depressiewe persoon se wanbalans behandel word.
Daar is ook verskillende vlakke van depressie – en juis daarom is dit nodig om ’n kundige te raadpleeg sodat die regte behandeling toegepas kan word. Saamwerk en ondersteuning is die antwoord. Kennis is mag – lees oor die onderwerp, gesels met kundiges, vra hulp. As ’n mens weet wat om te verwag, wat om te doen en nie te doen nie, hoe die brein werk, en so meer, is dit soveel makliker om dit te bestuur en te weet hoe om te reageer en wanneer om werklik in te gryp.
Baie belangrik om te onthou: Die depressiewe kind of tiener kan hom nie self regruk of sy denkpatrone verander en net so is die depressie nou weg nie. Depressie verg die regte behandeling deur kundiges, met die nodige ondersteuning, empatie en begrip.
Bronne:
Depressie in kinders | Health24 (news24.com)
Keer só depressie en selfdood by jong kinders | Netwerk24
Jou kinders en depressie | Huisgenoot (netwerk24.com)
Tienerdepressie het ernstige gevolge | Springs Advertiser
Moenie depressie in kinders afmaak nie | Netwerk24
Luister ook na die volgende potgooi op RSG – 27 Januarie 2022. Johan van Lill gesels op Groeipyne met opvoedkundige sielkundige Katherine van Heerden oor kinderdepressie.