Skrywer: Alita Steenkamp
PEN Afrikaans het aan die einde van Junie ʼn reeks video’s bekendgestel waarin drie jong skrywers meer vertel oor hulle skryfwerk en hoedat wêrelde deur skryf en lees oopgaan. Al drie gesels oor hulle onderskeie skryfreise, maar gee ook hulle opinie ook wat die waarde van lees is. Afrikaans as taal is ʼn groot gemene deler en ʼn heerlike stuk gereedskap in elkeen van hierdie drie jong skrywers se arsenaal.
Joha van Dyk
Iemand wat al van jongs af skryf, is Joha van Dyk wie se eerste boek, Branderjaer, gepubliseer is toe sy maar 23 jaar oud was. Sy het grootgeword in Namakwaland se Weskus waar sy altyd omring was met storievertellers. Besoekers aan haar ouers se gastehuis op hulle plaas, Die Houthoop, het beslis gesorg dat sy kennis maak met interessante karakters en sy kon haar verbeelding vrye teuels gee. Sy was bloot 8 jaar oud toe sy haar eerste Word-dokument op ʼn ou rekenaar oopgemaak het, en haar eerste storie begin skryf het. Haar hoërskooljare het sy deurgebring aan Hoërskool Stellenbosch en sy was aktief besig met drama, kultuur en die skoolkoerant. Gedurigdeur was daar ʼn stukkie papier naby haar om gedagtes vir ʼn storie neer te skryf.
In haar derde jaar op universiteit het Human & Rousseau ʼn manuskrip van haar aanvaar. Die verhaal is egter nooit gepubliseer nie, maar in dieselfde tyd het die woord branderjaer by haar kom aanmeld. ʼn Branderjaer is ʼn jong mens wat doodsveragtende toertjies doen en aan waaghalsigheid nuwe betekenis gee. Sy het daarop begin fokus en die storie het vinnig vorm aangeneem. Binne drie maande was die eerste weergawe klaar geskryf. Daarna het die redigeerproses begin en daarvoor het sy 2020 se inperkingstyd vrugbaar gebruik.
Joha wat ʼn meestersgraad in Engels het, het altyd gedink sy sou eendag in Engels skryf, maar in haar tweede jaar op universiteit het sy al hoe meer begin om Afrikaans te lees en selfs Afrikaanse gedigte te skryf. Meteens was dit vir haar heerlik om in Afrikaans te skryf en toe die karakters van Branderjaer by haar aanmeld, het sy geweet sy wil hierdie storie ook in Afrikaans vertel. In Junie vanjaar het Vuurvreter uit haar pen verskyn. Dit is die tweede boek in die Branderjaer-sage.
Vir Joha is dit besonder lekker om op ʼn jong ouderdom te kon publiseer, want daar is nog soveel stories wat sy wil vertel. Sy moedig alle jongmense met ʼn droom om te skryf aan om die kans te waag en hulle werk vir publikasie in te stuur. Kyk hier na Joha se video:
Ashwin Arendse
Ashwin Arendse is ’n digter, akteur en dramaturg. Hy het op Malmesbury grootgeword en drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. In 2018 behaal hy sy dramagraad. Toe reeds het hy lankal gedigte geskryf. Sy debuutdigbundel, Swatland, verskyn in 2021 by Kwela. Die gedigte in hierdie bundel volg die skrywer van sy grootwordjare in Malmesbury, tot by sy universiteitsjare op Stellenbosch. Ashwin het homself uitgesonder as een van die eerste studente wat in Kaaps ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfkuns kon verwerf. Dit was in 2020 aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het egter reeds die gedigte van Swatland klaar geskryf gehad toe hy met sy meestersgraad begin het.
Sy debuutdigbundel bevat hoofsaaklik verse oor Malmesbury en later Stellenbosch en dit word as outobiografiese verse beskou. Hierdie bundel is in Kaaps geskryf. Hy gebruik ook ʼn g met ʼn kolletjie om die Swartlandse bry, wat deel is van hierdie area, aan te dui. Die skrywer en digter Nathan Trantraal het ʼn belangrike invloed op die skryfwerk van Ashwin Arendse en hy beskou beide Nathan en sy vrou, Ronelda Kamfer, as goeie vriende.
Die UJ-debuutprys is in April 2022 aan Ashwin toegeken vir Swatland. Hy het hierdie prys gedeel met die skrywer Frederik de Jager wat dit vir sy bundel kortverhale Man op ʼn fiets êrens heen gekry het. Hy het hierdie prys wat aan hom toegeken is, beskryf as ʼn oorwinning vir almal en was besonder dankbaar vir vriende en familie, mentors en die omgewing waarin hy grootgeword het. Dit alles speel ʼn baie belangrike rol in sy poësie.
Ashwin is huiwerig om homself ʼn digter te noem, juis omdat hy vir homself skryf. Hy skryf uiteindelik om sin te maak van die dinge in sy kop, en die dinge om hom. Vir hom is die geleentheid om te kan dig, die kans om homself te kan uitdruk. Voordat hy vir enigiemand anders skryf, skryf hy vir homself. Kyk hier na ʼn video waarin Ashwin gesels oor sy skryfwerk.
Crystal-Donna Roberts
Crystal-Donna Roberts het op die ouderdom van 38 reeds lankal haar stempel op die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf afgedruk. Sy het selfs al ʼn draai op die rooi tapyt by internasionale filmfeeste gemaak. Die een keer was vir haar rol as die Khoi-prinses Krotoa in Krotoa, en die ander keer vir die rol as Tiny Solomons in die fliek The Endless River. Tydens die 2018 SAFTA-toekennings is sy bekroon as beste aktrise vir haar rol in Krotoa. Televisiekykers ken haar natuurlik ook goed as die karakter Janice Mortlock in Arendsvlei, ʼn rol wat sedert 2018 hare is.
Alhoewel sy as aktrise die geleentheid kry om stories te vertel, het Crystal baie lankal daarvan gedroom om te skryf. In 2013 het sy begin om elke dag ʼn bietjie te skryf. Alhoewel sy niks met hierdie skryfwerk gedoen het nie, was dit die nodige oefening om haar skryffiks te kry. In 2021 het sy deelgeneem aan die Jakes Gerwel-skryfprogram, ʼn program wat jong skrywers bemagtig. Hierna het sy kans gesien om een van haar manuskripte na ʼn uitgewer te stuur. In 2022 is Crystal se eerste tienerverhaal, Speurder Sammi – Die blou steen, by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Sy het van kleins af graag speurverhale gelees en het dadelik geweet dat wanneer sy publiseer, dit in hierdie genre sal wees. ʼn Mens skryf die tipe boek wat jyself sal wil lees, sê sy.
Haar idee met die 13-jarige Speurder Sammi was om ʼn karakter te skep wat nog heelwat avonture kan beleef. Alhoewel Crystal hierdie boek in Afrikaans geskryf het, het sy eintlik Engels grootgeword. Dit was in die tydperk wat sy drama aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het, waar sy besluit het om haar Afrikaans op te skerp. Sodoende sou sy verseker wees van meer geleenthede op die verhoog.
As alles volgens plan verloop, sal daar beslis nog verhale van Speurder Sammi uit haar pen verskyn, beloof Crystal-Donna. Kyk hier na die video oor haar skryfwerk.