Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dit is nooit maklik om jou land van herkoms te verlaat en elders jou wortels te plant nie, maar dit is die realiteit van talle Suid-Afrikaners vandag, wat ook al die redes. Dit wat bekend was, vriende en geliefdes soos oumas en oupas word agtergelaat en dit is veral die kinders wat soms kan swaar trek. Tog is daar soveel positiewe verhale wat ’n mens hoor en wat ’n mens se hart laat swel van die trots – want een ding wat seker is, daar is min mense in die wêreld wat so aanpasbaar is soos ’n Suid-Afrikaner.
Vier jaar gelede het die Smith-gesin van Welgemoed in Kaapstad die groot trek Ierland toe aangepak en hulle in Roundwood, County Wicklow op ’n plaas gaan vestig. Alda Smith vertel dat dit nie ’n maklike besluit was nie en steeds nie is nie, maar omdat sy en haar man, Johann, as jongmense twee jaar lank in Ierland gewoon het, was die besluit om Ierland toe te gaan, ’n natuurlike opsie. Maar, sê sy: “Die grootste dryfkrag was maar geleenthede – vir ons en die kinders. Dit was natuurlik ’n groot aanpassing, veral vir Niamh (uitspraak: Neave) wat in ’n meisieskool op die ouderdom van 9 weer moes maatjies maak. Maar elke land het sy eie bekoring en oor tyd het ons ons voete gevind.”
En voete vind, die het Niamh (12) beslis – deur haar musiek en sang. Die baie talentvolle Niamh het sedert haar aankoms in Ierland hard gewerk en talle toekennings ontvang, soos Suid-Afrikaanse kleure vir die uitvoerende kunste. Sy is ook aangewys as die beste algehele sanger by die Talent Africa-kampioenskappe en het Ierland verteenwoordig in die Oscar Hammerstein International Music Theatre Solo-finale. Sy is ook gekies vir die kinderkoor in Irish Women and Harmony se Kersenkelsnit, het op Donncha se Two Talented verskyn en ’n solo in die 2020 Late Late Toy Show, ’n jaarlikse spesiale program op die Ierse geselsprogram, The Late Late Show, gelewer. Meer onlangs het Niamh by die Suid-Afrikaanse byeenkoms in Ierland opgetree waar sy Die Heuwels Fantasties se bekende liedjie, Klein Tambotieboom, gesing het. Niamh sê dat die liedjie haar herinner aan haar kinderjare in Suid-Afrika en omdat Afrikaans steeds haar moedertaal is, was dit vir haar baie spesiaal om die besondere liedjie in Afrikaans te sing.
Niamh vertel dat sy nog altyd gesing het, maar baie skaam is, maar dat sy as buitelander in ’n meisieskool “moes leer om my skaamgeit in my sak te steek en vir myself op te staan. Dit is ook
vir my baie makliker om voor mense te sing en op te tree as om voor mense te praat! My oudste boetie, Jesse, het altyd gesê ek lyk soos ’n bok in ’n kar se hoofligte as ek voor ’n klomp mense moet praat. Maar ek is al beter en as ek tussen my familie of maats is, kan ek ’n hond uit ’n bos uit praat!” Sy sê voorts dat sy meer opgewonde as bang is as sy voor mense moet optree en haar raad aan jongmense wat graag wil optree, maar te skaam of bang is, is eenvoudig: “Die geheim lê in ’n liefde vir wat jy sing, om ’n storie te vertel en om nie bekommerd te wees oor wat ander mense van jou dink nie – wees net jouself.”
“Dit is belangrik om vir die regte redes te sing en om jou gawe te gebruik om die lig te laat skyn op dit waarvoor jy lief is. Vir my is dit musiek, my gesin en kinders wat ’n helpende hand nodig het. Sing is maar net een klein faset van my lewe …”
Baie ouers sal saamstem dat dit soms uitdagend kan raak om so ’n besige en talentvolle kind se lewe te bestuur sodat sy nie oorweldig word nie en haar kinderlewe inboet nie. Alda sê egter dat hulle haar sang maar soos enige ander gawe hanteer. “Niamh is nie baie lief vir sport nie. So in plaas daarvan om elke dag langs die sportveld te staan soos wat so baie ouers doen, ondersteun ons haar om haar in haar sang uit te leef. Ons koester haar talent, ondersteun dit en sien dit vir die genade wat dit is. Maar ons laat haar ook mooi verstaan dat sy nie haar gawe is nie – om te sing, is maar een faset van haar as mens en dat al sou sy môre haar stem verloor, sy steeds Niamh sal wees. Dit help ook dat sy ’n middelkind tussen twee boeties is – boeties hou ’n mens plat op die aarde!” Alda reken ook dat Niamh se persoonlikheid bydra tot haar menswees – want sy neem haarself nie te ernstig op nie en lag maklik vir haarself en haar foute. Nog iets wat Niamh gebalanseerd hou, is haar ander ambisies, soos dat sy eendag ’n onderwyseres wil wees wat met kinders met spesiale behoeftes werk en as musiek deel daarvan kan wees, soveel te beter.
Niamh noem dan ook dat haar jongste boetie, Néo, ’n neurologiese probleem het wat motoriese dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, vir hom moeiliker maak. En dit is wat haar inspireer, want hy is “nogtans braaf, lewenslustig, liefdevol en baie snaaks. Hy laat my ten minste een maal per dag skaterlag. Ek kyk ook op na my oudste boetie, Jesse. Hy is verskriklik slim en was nog altyd my ‘hero’. Toe ons klein en saam in die skool was, het hy altyd vir my op die speelgrond opgekom.”
Niamh se talente sluit ook liedjieskryf in en sy vertel dat sy en ’n vriendin, ook Niamh (Noade) wat die harp bespeel, ’n Kersliedjie geskryf het met die hulp van die Ierse sanger-liedjieskrywer Luan Parle. Hulle hoop om later vanjaar die liedjie op te neem ten bate van Make-a-Wish Ireland. Niamh het juis ’n fondsinsamelingsprojek, Shine-from-Within, tot stand gebring om saam te val met die vrystelling van die liedjie. Hieroor vertel Niamh die volgende: “Die Engelse slagspreuk, “You don’t need to be in the spotlight if you shine from within”, som dit vir my mooi op. Ek wil graag my sang gebruik om ’n lig te skyn op die mense en dinge waarvoor ek lief is en wat saak maak en dis waarom ek die “Shine-from-Within”-projek saam met Make-a-Wish Ireland begin het. Die idee is dat as mense my musiek geniet, hulle ’n donasie aan die organisasie kan maak – amper soos Liewe Heksie en Blommie wat geld vir Blommeland se hospitaal ingesamel het met hul sang! My eerste ‘cover’ Klein Tambotieboom kan ook ‘gestream’ word ten bate van die organisasie en daar is meer (o.a. my eie Kersliedjie) op pad!”
En Niamh se musiekikone? “Adele. Ek is mal oor haar stem en haar liedjies vertel stories. Ek hou ook van Judy Garland, Eva Cassidy, Elvis Presley en talle ander soul-sangers.”
Dié besige meisiekind het ook ander belangstellings, soos stemspel, videoproduksie en fotografie. “Ek is ook lief vir teken en het onlangs agtergekom dat ek nogal vinnig kan hardloop en begin dit nou geniet! Ek is ook mal oor diere. Behalwe vir ons honde en kat, is hier ook baie ander diere op die plaas waar ons woon – perde, bokke, krimpvarkies, uile, jakkalse en ratels.”
Maar wat maak haar regtig gelukkig. Die antwoord is vinnig: “Familie, sjokolade en seevakansies (Sandbaai). En gunstelinggereg? Hoe dan nou anders? Dis niks anders nie as braaivleis!
Op my vraag of hulle steeds Afrikaans by die huis praat, sê Niamh: “Ja, ons praat Afrikaans by die huis – my ma praat ons aan as ons anglisismes gebruik!” Haar gunsteling- Afrikaanse woord? “Ek hou van die woord ‘straal’ – ek dink nie daar is ’n woord in Engels wat presies dieselfde betekenis het nie.”
Niamh, jy is voorwaar inspirerend. Afrikaans.com wens jou net die beste toe vir jou toekoms.
Klein Tambotieboom kan vanaf enige van die volgende platforms gestroom word: https://artists.landr.com/NiamhBTambotie ten gunste van Make-a-Wish Ireland.
Kyk ook gerus Niamh se musiekvideo (saam met haar boetie!) hier: