In Covid se inperkingstyd, toe musici se loopbane ook tot ʼn stilstand gedwing is, het Rocco de Villiers besluit om sy argief uit te sorteer. Dit is nou al die dinge wat hy in die afgelope 26 jaar as musikant gedoen het. In die regpak en wegpak het hy op baie gediggies en rympies afgekom wat hy geskryf het. Dit het al so vroeg soos sy matriekjaar begin. Rocco was gemotiveerd om ʼn digbundel uit te bring, en het gaan sit en skryf en uiteindelik het hy 63 gedigte bymekaar gekry wat hy graag in ʼn bundel wou deel. Sy debuutdigbundel, Die eiesoortiges, is verlede jaar deur Turksvy Publikasies uitgegee. Daniel Hugo het as redakteur van hierdie projek van Rocco opgetree.
Rocco het besluit om ook sy liefde vir taal en woorde met ʼn wyer gehoor te deel en het by Pretoria FM aangeklop met die idee van ʼn radioprogram wat hy wil aanbied.
Vanaf Sondag 2 Julie is Rocco weekliks aan die beurt op Pretoria FM met die program Note en Woorde. In hierdie programreeks nooi hy gaste om saam met hom in die ateljee te kuier met die idee dat hulle ook dan saam oor hulle liefde vir woorde, poësie en die Afrikaanse taal gesels. Gaste soos Lizz Meiring, Alexa Strachan en Rikus de Beer, alias Radio Raps, gaan kom inloer. Vir Rocco was dit dan ook ʼn heerlike uitdaging om ʼn programreeks aan te bied waarin meer as 50% van die program oor die woord gaan.
In hierdie gesprekke gaan Rocco sy gaste pols oor die dinge waarvan hulle hou. Daar is ook ʼn klavier in die ateljee waarop Rocco dan musiek gaan speel om te sien hoe sy gaste daarop reageer. Hierdie reeks beloof om heerlike luistergenot te wees. Skakel vanaf 2 Julie weekliks om 17:00 in op Pretoria FM om na Rocco se woorde en musiek te luister.