’n Opwindende projek waarmee vanjaar se Innibos Kunstefees afgeskop is, is die klankdrama wat op Woensdag 28 Junie in die Silver Mist Kapel op Kaapsehoop uitgesaai is. Die idee hiervoor is gebore toe Kobus Burger, RSG se programhoof, in Augustus 2022 ’n klankdramaslypskool op Kaapsehoop aangebied het as deel van Innibos se kleiner projekte. Dit sou fantasties wees om die verskillende klankdramas wat tydens hierdie slypskool deur die aspirantdramaturge geskep is, op te neem met professionele stemkunstenaars en byklanke, was die algemene gevoel na afloop van die kursus. Annamarie van der Walt, wat aan die stuur van die Boeke-afdeling van Innibos staan, het besluit dit sou die ideale opset wees om so iets met die Innibosfees te laat saamval. ʼn Borgskap van die Dagbreek Trust het hierdie produksie moontlik gemaak.

Daar is natuurlik vanjaar vir die eerste keer in drie jaar weer volstoom feesgevier in die Laeveld. Ses skrywers, wat 2022 se slypskool bygewoon het, het op Dinsdag 27 Junie weer in die sjarmante kapelletjie op Kaapsehoop bymekaar gekom vir ʼn verfrissing van Kobus Burger se uitstekende slypskool: Goddank vir klank! Hulle is Louise Schoeman, Veronica van der Walt, Alita Steenkamp, Frances van Niekerk, Christelle Olckers en Thea Boshoff. Kobus het temas gegee, en binne twintig minute moes die skrywers dan ʼn klankdrama van ongeveer drie minute lank skryf. So gesê, so gedaan. Ná vier ure se skryf was daar genoeg materiaal vir 14 mini-dramas. Op Woensdagoggend 28 Junie het ses stemkunstenaars van Nelspruit op Kaapsehoop opgedaag vir die klankopnames – Lynette Holtzhausen, Sanett Oosthuizen, Roelf van Jaarsveld, Daniël Scheepers, Ronel Basson en Stephan van Zyl. Roelf van Jaarsveld is ʼn gerekende radio-omroeper met jare se ervaring, maar selfs die twee jonges, Daniël en Ronel wat nog op skool is, het gewys dat hulle geensins terugstaan vir ervaring nie. Die opnames is gemaak met Johann Pieterse van RSG as die tegniese en akoestiese regisseur. Die kapel was in sagte kerslig getooi en alles was gereed vir die groot oomblik. Al 80 kaartjies vir die vertoning is uitverkoop, maar nog sowat 20 mense het by die deur kom soek na kaartjies. Daar is lekker styf teen mekaar gesit, en selfs die ouderlingbankie en orrelstoeltjie voor in die kapel het sitplek gebied. Die ligte is gedoof en die kerse het saggies bly flikker om die regte atmosfeer te skep. Hierna is die een na die ander opname van die klankdramas gespeel en die gehoor is behoorlik bederf met 14 verskillende stories wat hulle in hulle gedagtes moes sien afspeel. Sommiges skreeusnaaks, ander roerend. Almal in die gehoor het met harte vol emosie by die kapel uitgestap. Op Donderdagoggend 29 Junie het een van die stemkunstenaars, Sanett Oosthuizen in ʼn onderhoud op Radio Laeveld meer van hierdie heerlike ervaring vertel. Hopelik sal so iets in die toekoms weer ʼn keer kan plaasvind.

‘n Propvol kapel. Foto Kobus Burger

Al die skrywers saam met Kobus en Johann van RSG. Foto Linzetta Calitz – Laevelder Burger

Die kersies flikker in die kapel. Foto – Alita Steenkamp







