Skrywer: Alita Steenkamp
Sedert Julie 2022, is Afrikaanse televisiekykers bekend gestel aan oorgeklankte Turkse telenovelas en dit het vinnig ʼn reuse-aanhang gekry. Hierdie menslike stories, propvol drama en intrige, is ook gewild in lande soos Portugal, Swede en Spanje. Die groot lekkerte hiervan is dat die Turkse stories in Afrikaans vertel word. Afrikaans soos wat almal dit praat. Die oorklankings van hierdie telenovelas word in Johannesburg en Kaapstad gedoen.
Telenovelas is veel korter as sepies en het ʼn definitiewe struktuur met ʼn storielyn wat opbou tot by ʼn interessante klimaks, en dan volg die slot. Anders as sepies wat vir jare aangaan en kort-kort ʼn nuwe storielyn het om die kykers te behou. Hierdie Afrikaanse telenovelas word op DStv se kykNET&Kie-kanaal uitgesaai. Op 5 Julie begin ʼn splintenuwe verhaal, Verbode liefde, wat om 20:00 uitgesaai word. Dit kom in die plek van Jy is my seun.
Verbode liefde vertel die verhaal van die beeldskone Zümrüt wat in ʼn fabriek van die magtige Demirkan-familie werk. Sy is smoorverlief op Serhat Demirkan en die twee beplan om te trou wanneer Serhat klaar is met sy militêre diensplig. Dan ontvang sy nuus dat Serhat gesterf het. Serhat se neef, Adil Demirkan, is smoorverlief op Zümrüt, en hy vra haar dan om met hom te trou. Zümrüt se ma plaas druk op haar om met Adil te trou om so van armoede te ontsnap en sy stem in. In ʼn dramatiese wending word Adil op hulle huweliksnag vermoor. Dit blyk ook dat Serhat nie werklik dood is nie.
Die stemkunstenaars wat gebruik is vir die oorklanking van Verbode Liefde is Sue Pyler wat vir Zümrüt laat Afrikaans praat, Rowlen von Gericke is Serhat se stem en David Johnson is vir Adil se stem verantwoordelik. Charl van Heyningen is die stem van Abbas Demirkan, die oudste broer in die familie. Ander bekende stemme wat in Verbode Liefde gehoor word, is Karin Retief as Azimet Demirkan, Marijke Coetzer as Doné Kilic, Natasja Jacobs as Fitnat Gulseven, Danielle Retief as Meliha Kuloglu, Sanli Jooste as Nevcihan Demirkan, André Retief as Rustem Kuloglu, Alicia van Emmenis as Saniye Arsoy, Mari Molefe as Suhandan Demirkan en Elma Potgieter as Ulfet Kuloglu. Verbode liefde se oorspronklike Turkse titel is Zümrüdüanka. Die Engelse titel is The Phoenix en die reeks, wat uit 84 episodes bestaan, is die eerste keer in 2020 uitgesaai. Dit is in Nevsehir in Turkye verfilm.







