Skrywer: Alita Steenkamp
Foto: Netwerk24
Twee van die mooiste stories uit die kinderdae van skrywer Annelie Botes, is hoe sy as driejarige ʼn renosterbosstokkie gevat het en op haar ma se Peter Stuyvesant-papiertjies “stories” geskryf het. Sy wou silwer stories skryf. Natuurlik kon sy nie rêrig skryf nie, maar het met swierige krulle haar “stories” op die papiertjies gekrabbel en dit dan in die grond begrawe. Dit was op die plaas Grootfontein in die Kammanassie naby Uniondale. ʼn Paar jaar later, toe sy skool toe moes gaan, het sy vas geglo dat sy sommer die heel eerste dag al gaan leer lees, en groot was haar teleurstelling toe dit nie gebeur het nie.
Stories en woorde was dus van baie jongs af deel van haar lewe.
In haar geseënde loopbaan het daar al 17 boeke uit haar pen verskyn. Dit is onder meer romans, kortverhale, bundels van haar rubrieke en biografiese vertellings. Onlangs is haar nuutste fiksie, Katvis, gepubliseer wat uitstekende resensies kry. Maar nou het Annelie gesê dat Katvis haar laaste boek sal wees.
Annelie het die afgelope paar maande deur ʼn besonder moeilike ervaring gegaan. Haar regterbeen is in Maart vanjaar hoog bokant die knie geamputeer, en daarna het sy weer in die hospitaal beland met ʼn erge infeksie van haar kolon, blaas en bloedstelsel.
Sy het letterlik by die dood omgedraai, en die verligting was groot om te hoor dat sy uiteindelik uit die Aurora-rehabilitasiehospitaal in Gqeberha ontslaan is.
Netwerk24-lesers moet nou al vir ʼn geruime tyd klaarkom sonder hierdie gewilde skrywer se aangrypende en egmenslike rubrieke. In die briewekolom het ʼn paar lesers dan ook aangedui hoe baie hulle Annelie se rubrieke mis, en dat hulle hoop om binnekort weer hierdie bydraes te kan lees. Die joernalis Mariska Spoormaker het by Annelie se huis gaan inloer na haar ontslag en ʼn potgooi van hierdie gesprek is op Driesestig op RSG uitgesaai.
In hierdie rou en eerlike gesprek, vertel Annelie van ʼn ervaring wat sy in die hospitaal gehad het. Sy vertel dat die dokters en verpleegpersoneel haar twee keer uit die dood moes gaan terughaal. Met een van hierdie kere het sy ʼn eienaardige droom gehad. In haar droom het sy vir 42 jaar in ʼn woestyn in Japan verdwaal. Op daardie tydstip was daar reeds niks van haar oor nie. Sy het nie meer oë, ʼn lyf of tande gehad nie. Tog kon sy nog vlieg en het sy uit die houthuisie waarin sy gebly het, ontsnap. Sy het geland op die oewer van ʼn rivier en daar ʼn klein dogtertjie sien sit. “Wat is jou naam?” wou sy by die klein dogtertjie weet. “Ek is Annelie Basson,” het die kind vir haar gesê. Op daardie moment het Annelie besef dat sy dood is, want haar nooiensvan was Basson. Tog was dit ʼn draaipunt, want net daar het sy begin veg om te bly lewe.
Annelie verduidelik ook haar besluit om nie weer ʼn boek te skryf nie. Sy sal egter nie ophou skryf nie, maar wel nog rubrieke skryf.
Sy het met hierdie hele ervaring besef hoe kosbaar die lewe is. Sy wil eerder die dae en weke en maande wat sy oor het, vir haar man Chris gee. Die ou Gryse, soos sy hom noem, het soveel opgeoffer met haar siekte en hy is ongelooflik goed vir haar. Sy wil dus eerder saam met hom koffie drink en kuier as om haar in eensaamheid af te sonder om weer voltyds aan ʼn boek te werk. Alhoewel hierdie besluit van haar ʼn groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde is, gun ʼn mens haar hierdie kwaliteittyd saam met haar geliefde. Annelie, dankie dat jy vir soveel jare onbaatsugtig jou stories met ons gedeel het. Ons is dankbaar dat jy wel nog jou rubrieke sal skryf.