Hier is die pryswenners van vanjaar se Andrew Murray-prysfonds
Die wenners van vanjaar se Andrew Murray-prysfonds se pryse en toekennings is op Maandag 17 April bekendgemaak. Die volgende pryse is toegeken:
Die Andrew Murray-prys vir teologiese boeke in Afrikaans.
In sy boek Publieke teologie as profetiese teologie? bespreek die skrywer Martin Laubscher die verband tussen profetiese teologie en publieke teologie. Die werk is deur African Sun Media uitgegee. Martin Laubscher is vereer met die Andrew Murray-prys vir teologiese boeke in Afrikaans vir hierdie werk van hom.
Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir algemene Christelike publikasies in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika
Retief Muller wen in hierdie kategorie die prys vir sy boek The Scots Afrikaners: Identity Politics and Intertwined Religious Cultures. Hierdie boek fokus op die Skotse sending en die invloed daarvan op die NG Kerk. Die boek is uitgegee deur Edinburgh University Press.
Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika.
An-Mari do Carmo verower hierdie prys met haar jeugverhaal Toe als groen was. Hierdie debuutwerk van An-Mari word deur die beoordelaars beskryf as ʼn jeugroman wat lesers van alle ouderdomme sal aanraak. Toe als groen was is deur LAPA Uitgewers onder hul nuwe Christelike druknaam, LUCA, gepubliseer.
Die Andrew Murray-FAK-Toekenning vir Christelike musiek
ʼn Gerekende Afrikaanse liedjieskrywer en musiekvervaardiger, Johan Vorster, is met hierdie prys bekroon vir sy “Kerslied” waarmee kykNET se 2022 Kersfeesblyspel afgesluit is. Die pragtige lied fokus op gesinne en deel ʼn wonderlike boodskap oor saamwees en hoop.
Die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir omgewingsbewaring en -geregtigheid
Professor Johan Buitendag het die eerste Suid-Afrikaner geword om ʼn doktorsproefskrif oor teologie en ekologie te skryf. Hy is die voormalige dekaan van die fakulteit teologie en religie aan die Universiteit van Pretoria. Prof Buitendag is die outeur of mede-outeur van 38 artikels oor skepping en ekologie en lewer daarmee ʼn beduidende bydrae tot ʼn omvattende teologiese benadering tot die ekologie en verdien dus hierdie toekenning wat aan hom gemaak word.
Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir versoening, eenheid en geregtigheid
Vanjaar gaan hierdie toekenning aan dr. Marlene le Roux, die uitvoerende hoof van die Kunstekaap-sentrum. Hierdie besonderse toekenning word aan haar gemaak vir die wonderlike werk wat sy doen om die Kunstekaap-sentrum toeganklik vir alle gemeenskappe en kunsvorme te maak. Op elke terrein waar sy werksaam is, streef sy na versoening, eenheid en geregtigheid.
Die toekenningsgeleentheid vir hierdie pryse en toekennings is op 26 Mei in die Desmond Tutu-sentrum in Kaapstad
Wat is die Andrew Murray-prysfonds?
In 1978 het die gemeenskap van Wellington in die Wes-Kaap die 150ste herdenking van die geboortedag van dr. Andrew Murray gevier. Hy was vanaf 1871 tot 1917 die predikant van die NG Gemeente Wellington. Dr. Murray was ʼn produktiewe skrywer van Christelike boeke en uit sy pen het daar ongeveer 250 boeke verskyn. Tydens hierdie feesvieringe in 1978 het die idee ontstaan om ʼn prys in die lewe te roep vir die bekroning van Christelike publikasies van hoogstaande gehalte. Dit moes dan die naam van Andrew Murray dra om erkenning te gee aan sy invloed as skrywer en godsman in Suid-Afrika, maar ook reg oor die wêreld. Die nodige toestemming is verleen en vanaf 1980 is daar jaarlikse pryse in die volgende afdelings toegeken: Afrikaanse Christelike literatuur, Afrikaanse Christelike joernalistiek, Afrikaanse Teologiese artikels, Afrikaanse Teologiese boeke. Op 8 September 2006 het die Beheerraad van die Andrew Murray-prysfonds aangekondig dat afgesien van die Andrew Murray-prys vir Afrikaanse media, daar ook voortaan gereeld ʼn nuwe reeks mediapryse toegeken sal word. Hierdie nuwe pryse is dan vir godsdienstige en teologiese boeke, Christelike joernalistiek, en radio- en klank-en-beeld-produksies in alle amptelike tale van Suid-Afrika. Dit sou bekend staan as die Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse.
Vir verdere inligting besoek die webblad