Skryf sommer vandag nog in!
Die gewilde Woordfeeskortverhaalkompetisie is weer aan die gang en inskrywings vir hierdie kompetisie word ingewag. Hierdie kompetisie en die Woordfeeskortverhaalbundel wat uitgegee word met die 25 wenverhale daarin, het al ʼn instelling op die literêre kalender geword. Die Woordfeeskortverhaalkompetisie is in 2016 vir die eerste keer geloods. Verlede jaar was daar nagenoeg 366 inskrywings en Lynthia Julius is as wenner aangewys. Vanjaar is die prysgeld weer R30 000 vir die wenner. Die skrywers van die ander nagenoeg 25 verhale wat in die feesbundel opgeneem gaan word, wen elk R5000 vir hulle kortverhaal. Slegs Afrikaanse kortverhale word aanvaar en die verhale moet tussen 1500 woorde en 3000 woorde lank wees. Die kompetisie is oop vir enige skrywer, die wat reeds gepubliseer het asook beginnerskrywers. Die verhale wat vir die kompetisie ingeskryf word, moet nuutgeskryf wees en mag nie voorheen op enige ander platform verskyn het nie. Daar is geen beperkings op die tema vir hierdie kortverhale nie en elke skrywer het die vryheid om self te kan kies. Die inskrywings vir hierdie kompetisie sluit om 17:00 op 31 Mei 2023. Inskrywings word elektronies ingedien op die Woordfees se webblad. Klik hier vir die volledige kompetisieriglyne sowel as die inskryfvorm.