Skrywer: Alita Steenkamp
Asof die grootmaak van twee seuntjies onder die ouderdom van twee jaar oud nie ʼn groot genoeg uitdaging is nie, het Lara Atson nie ʼn oomblik gehuiwer toe die geleentheid opduik om nog ʼn groot taak aan te pak nie. Sy het op 1 April vanjaar, in die jong ouderdom van 39 jaar, in die redakteurstoel van Kuier ingeskuif, en sien geweldig baie uit na hierdie taak wat op haar wag.
Lara beskryf haarself as ʼn storieverteller in murg en been. Iemand wat daarvoor leef om ander mense se stories te vertel. Sy doen dit al vir vyftien jaar lank, en kan nie genoeg daarvan kry nie.
“My liefde vir stories vertel, kom ʼn lang pad. Die saadjie is beslis geplant deur my ma se jongste suster, Warda Meyer, wat ook ʼn joernalis is. Destyds was my oupa baie bekommerd toe sy sê dat sy ʼn joernalis wil word. Almal het maar onderwys of verpleging of so iets gedoen en daarom het hy gedink dit is dalk ʼn beter opsie. Tog het sy voortgegaan en joernalistiek geswot. Een van die eerste plekke waar sy gewerk het, was by KFM. Al die mense wat sy ontmoet het en met wie sy gesels het, het altyd so exciting geklink. Dit kon dus nie anders nie, ek wou ook ʼn joernalis word,” vertel Lara.
Lara het haar B.Phil-graad in Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal en in 2007 het sy met haar internskap by Die Burger begin. Om as ʼn groentjie in te val by hierdie publikasie was ʼn behoorlike vuurdoop, maar een wat sy goed deurstaan het. In 2008 het sy na Huisgenoot gegaan, ook vir ʼn internskap, maar die jaar daarna is sy permanent aangestel.
“Dit was ʼn heerlike leerskool. By Huisgenoot het ek alles gedoen: van nuus, tot celebs, tot leefstylartikels. In 2017 het ek assistentredakteur geword en ek was 15 jaar deel van die Huisgenoot-span voor Kuier oor my pad gekom het,” sê sy.
Lara vertel dat Yvonne Beyers, redakteur van Huisgenoot, baie geleenthede vir haar geskep het om te groei. Een van dié geleenthede was om as mentor op te tree vir die jong joernaliste wat hulle internskap by hierdie tydskrif gedoen het. Hulle was almal deel van die Media24 Academy. Lara het dit haar uitgangspunt gemaak om seker te maak die jonges moet hulle werk geniet. Een van die dinge wat sy as ʼn doelwit vir haarself gestel het, is juis om vir jong mense ʼn mentor te wees. Om dan hierdie jongmense te help om hulle voete te vind, en hulle stem te vind in Afrikaans, was beslis ʼn groot lekkerte. Lara het ook in 2019 die geleentheid gekry om by die tydskrif TV-Plus te gaan uithelp as waarnemende redakteur, voordat sy weer teruggekeer het Huisgenoot toe. Alhoewel sy nooit daaraan gedink het om uiteindelik ʼn redakteur te word nie, het hierdie instaantydperk beslis haar siening verander. Sy het dit besonder baie geniet, en het geweet dat indien die geleentheid vir ʼn redakteurskap oor haar pad kom, sal sy dit aangryp.
“Een van my sterk punte is om kalm te bly, dit maak nie saak wat die situasie is nie. Dit is beslis nodig as jy as redakteur soms in onmoontlike situasies beland. Dan is ek ook een wat van uitdagings hou. Ek het byvoorbeeld by Huisgenoot die kosafdeling help bestuur en ʼn resepteboek daar aangepak as ʼn handelsmerkuitbreiding. Om beter te verstaan watter uitdaging dit was, moet jy weet dat my suster my altyd spot en sê dat ek so min weet van kosmaak af dat ek seker nie eers water kan kook nie. Maar, I love challenges en ek voel jy is nooit te oud om te leer nie. Dan moet ʼn mens natuurlik kan staatmaak op ondersteuning. Yvonne Beyers het vir my ongelooflike geleenthede geskep, en ek onthou toe sy my daardie tyd gevra het om as TV-Plus se redakteur in te staan, het ek vir haar gevra of sy mal is. “Ek kyk televisie, maar wat weet ek nou daarvan om ʼn tydskrif se redakteur te wees?” het ek vir haar gevra. Tog het ek gegaan, en soveel geleer en besonder baie gegroei. Ek dink wanneer mense jou hard in ʼn rigting druk, maar hulle is bereid om jou te ondersteun, dan sal jy net groei.”
Oor haar planne vir Kuier wil sy nie veel verklap nie.
Hierdie tydskrif het immers ʼn wenresep bemeester en is besonder gewild. Wat dit veral so gewild maak, is dat gewone mense ook die geleentheid kry om hulle stories in ʼn tydskrif te kan vertel. Dit sal altyd ʼn belangrike deel van Kuier wees, sê sy dan.
Al erken sy dat sy ʼn totale werkolis is, is haar gesin vir haar besonder kosbaar en belangrik. Sy is al die afgelope 13 jaar getroud met Haroon Khatieb. Hulle eersteling, ʼn seuntjie, is in Oktober 2021 gebore. Die vreugde was groot, want sy wou altyd baie graag ʼn ma wees. Hulle was van plan om net die een seuntjie te hê, maar tot haar verbasing het sy gou weer swanger geraak en haar tweede seuntjie is in Oktober verlede jaar gebore. Sy sê dit was veral in die tyd van COVID-19 waarin twee mense wat baie na aan haar was, gesterf het, wat sy onder die besef gekom het van die waarde van familie en hoe kosbaar tyd wat jy met hulle deurbring, is. Sy sal nooit weer anders na haar hartsmense kan kyk nie.
Lara het grootgeword op Bredasdorp en gematrikuleer aan Hoërskool Napier. Hier het sy reeds die geleentheid gekry om te skryf vir die skool se koerantjie met die oulike naam: Die Patatrankie. Haar liefde vir tale kom beslis van skool af, maar Afrikaans bly nou maar een maal besonders omdat dit ook die taal is wat sy aan moedersknie geleer het.
“Afrikaans is deel van my kultuur en my identiteit. Dit vorm die brug tussen die verlede, die hede en die toekoms. Ek voel ek druk myself die heel beste in Afrikaans uit. Dit maak nie saak hoe jy dit praat nie, dis net lekker om Afrikaans te praat en te skryf en ek is dankbaar dat ek my brood en botter in Afrikaans kan verdien. Afrikaans het al vir my soveel deure oopgemaak in die werkplek en ek wil graag deel wees van ʼn beweging om vir die volgende generasie ook sulke geleenthede in Afrikaans te skep.
“Ek is getroud met ʼn Engelsman, maar hy het gou besef hy sal moet aanpas en die Afrikaanse taal leer. Ek hoop werklik die Afrikaanse taalsaadjie word ook by my seuntjies geplant dat hulle ook eendag hulle ma se hart sal bly maak. Hoe oulik sal dit nie wees as hulle ook kan dink dat Afrikaans cool is nie!” sê Lara.
Tans is haar fokus daarop om die lesers van Kuier nog beter te leer ken en die pad met hulle te stap. Sy wil graag hierdie tydskrif na verdere hoogtepunte neem. Kuier het in 2009 vir die eerste keer verskyn en Kay Karriem het in 2010 as redakteur oorgeneem. Sy het ʼn fantastiese werk gedoen, sê Lara. Dis ʼn bekostigbare tydskrif wat die taal van die lesers praat en sy sal baie graag wil voortgaan om die lesers te laat voel dat Kuier hulle beste vriendin is.
“Ek moet myself nog elke dag knyp dat ek nou die geleentheid gekry het om die redakteur van hierdie besonderse tydskrif te wees,” sê Lara. “Kay Kariem is ʼn formidabele vrou en om by haar die leisels oor te neem, is regtig iets groots. Maar nou ja, ek skrik mos nie vir ʼn uitdaging nie. Ek sien sommer baie uit hierna.”