Die bekroonde skrywerjoernalis Herman Lategan uit wie se pen boeke soos Opstokers, fopdossers en tweegatjakkelse en Binnekring van Spookasems verskyn het, se aangrypende en meesleurende memoires, Hoerkind, is binnekort op die planke. In hierdie lewenvershaal vertel Herman van sy grootwordjare wat vol swaarkry was, maar ook opwindende hoogtepunte ingehou het. Sy pad is vol dongas en slote en hy land selfs in ’n kinderhuis. Hy moet lewenslank stoei teen albei sy ouers se verslawing, verbete veg om uit die greep van ’n pedofiel te bly en dit alles het ’n ernstige impak op sy eie lewe. Tog is hierdie ook ’n verhaal van iemand wat weier om te bly lê wanneer hy struikel en val. Hoerkind is ’n verhaal van vorentoe beur, kop omhoog!
Margit Meyer-Rödenbeck het hierdie besonderse verhaal gekies om as eenmanstuk ’n ander lewe te gee. Sy is ook die regisseur van die produksie met die titel Hoerkind. Die titel van die boek en die verhoogstuk verwys na die neerhalende kwetswoord waarmee Herman kleintyd verkleineer is. Geon Nel, ’n gerekende akteur wat veral bekend is vir televisierolle in Nêrens Noord-Kaap, Die Boekklub en die onlangse Mooiweer en warm, vertolk die hoofrol in hierdie uitdagende stuk. Die première van Hoerkind is by die Suidoosterfees wat vanaf 26 April tot 1 Mei in die Kunstekaap plaasvind. Francois Toerien het Herman Lategan se lewensverhaal in ’n verhoogteks omskep. Na afloop van die Suidoosterfees reis die stuk ook na ander venues soos Die Boer Teaterrestaurant (16 tot 18 Mei) en Die Koelkamers – Paternoster op 19 Mei.