Is jy iemand wat daarvan droom om in Afrikaans met jou woorde te woeker? Maak dan ’n draai op Skryfnet, ’n gesamentlike projek van Maroela Media en Akademia. Skryfnet bied die geleentheid vir skrywers, professionele persone of skoolleerders om hul skryftalent te ontwikkel met verskeie kursusse wat deur die jaar aangebied word. Skryfnet span saam met van die land se mees talentvolle en suksesvolle mense in die skryfbedryf om kursusse van hoogstaande gehalte te ontwikkel en aan te bied. Dit sluit mense soos prof. Hans du Plessis, Madri Victor, Carina Diedericks-Hugo, Christien Neser, Corlia Fourie en François Bloemhof in.
Liedjieskryfkursus
Een van die opwindende kursusse wat Skryfnet eersdaags aanbied, is ’n liedjieskryfkursus wat op 2 Mei vanjaar afskop. Deon Meiring, bekende liedjieskrywer, gaan hierdie kursus aanbied. In hierdie kursus, wat deur Clive Ridgway ontwikkel is, gaan Deon Meiring jou leer om betekenisvolle musiek te skep. Deon het reeds as laerskoolseun sy eerste liedjies begin skryf. Van sy musiek is al in rolprente en op televisie gebruik. Hierdie kursus is ’n aanlynkursus wat oor vier weke strek. Op 9 en 10 Junie word die kursus met ’n praktiese werkswinkel wat oor twee dae strek, afgesluit. Dit word in Pretoria aangebied. Tydens hierdie werkswinkel gaan daar gesellig om ’n lekker koolstoof gekuier word en deelnemers sal dan die kans kry om hulle skeppings met die ander te deel. ’n Prys word vir die beste liedjie uitgeloof. Die doel met die werkswinkel is dan om aan kursusgangers die geleentheid te bied om die liedjie of liedjies wat hulle geskryf het af te rond totdat dit ’n werkbare liedjie is wat vir opname voorgelê kan word.
Om in te skryf, klik hier.