Skrywer: Nicolette Kritzinger
Foto’s: Eugene le Roux
Bouwer Bosch se splinternuwe album getiteld Briewe uit die argiewe is einde verlede jaar (2022) vrygestel en het sedertdien groot hoogtes bereik. Die album kom na die vrystelling van verskeie enkelsnitte vanaf die album, naamlik “Soos ek doen feat. Abby”, “Sambreel” en Bouwer se nuutste enkelsnit “Skemer”.
Briewe uit die argiewe is geskryf oor die laaste drie jaar, en dis ook die rede vir die titel van sy derde solo-album. Meeste van die liedjies kom uit Bouwer se argiewe, met baie van die liedjies wat vir ander kunstenaars geskryf is, maar nooit gebruik is nie.
“Ek het musiek op my rekenaar gevind wat ek in 2019 geskryf het, en gevoel die tyd is nou reg om hierdie stories te vertel. Ons lewe is ook een groot argief; met foto’s en herinneringe van hoe ons grootgeword het of net dinge wat ons laasweek gedoen het. Argiewe is deel van ons DNS.”
– Bouwer Bosch.
Die album is vervaardig deur Francois de Klerk, Austin Hlume, Tjaardt van der Walt, Ruan Graaff, Deon Volschenk en Bouwer Bosch self. Bouwer beskryf dit as ’n ongelooflike ervaring om soveel verskillende breine betrokke te hê by jou musiek. Die album is opgeneem by sy studio in Johannesburg.
“Ek dink daar is ’n hongerte in my wat ek lanklaas beleef het rondom musiek, en ek wou net weer stories vertel met musiek. My lewe het baie verander toe ek begin TV- en filmwerk doen; ek het musiek afgeskeep omdat daar nie tyd was nie, so ek wou net die laaste drie jaar se gebeure in my lewe vasvang en dit deel,” sê Bouwer.
Die album bevat ’n verskeidenheid van samewerkings met onder andere sangers soos Almero, Loufi, Henru (’n nuwe kletsrymer van die Kaap) en Abby, en aanhangers kan uitsien na ’n mengsel van pop- en danstreffers, sowel as dieper en ernstiger liedjies. Om saam met nuwe kunstenaars te werk, was nog altyd ’n groot liefde vir Bouwer; elke samewerking bring iets anders na die tafel, hy kan by almal iets leer en die resultaat is ’n opwindende album.

Afrikaans.com het besluit om by Bouwer in te loer en te gesels oor wat hom dryf, waar die saadjie vir sy sukses geplant is en watter oomblikke in sy lewe hom help vorm het.
Hierdie reeks is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors, waar 11 vrae ingespan word om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Deelnemers aan die reeks besluit self watter van die vrae hulle wil beantwoord.
Wat is die boek (of boeke) wat jy die gereeldste as geskenk gegee het en hoekom? Of, wat is een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
Outliers van Malcolm Gladwell is nogal ’n boek wat my lewe, die manier hoe ek kyk na my lewe en die manier hoe ek dinge doen, verander het. Atomic Habbits is die nuutste een waarmee ek besig is en dan David & Goliath van Malcolm Gladwell. Ek is maar ’n sucker vir die underdogs in die lewe. Dalk is dit omdat ek myself as een sien, so ek assosieer maar meestal met boeke en stories oor underdogs.
Watter aankoop van ’n R1000.00 of minder oor die afgelope 12 maande het ’n groot impak op jou lewe gehad?
Ek het vir lank tennis gespeel toe ek jonger was en maar net opgehou soos ek ouer geraak het. Toe besluit ek ek wil begin padel speel om weer iets aktief te doen en toe koop ek vir my stoute tennistekkies. Ek het nie regtig oefentekkies gehad nie, so toe besluit ek maar net ek gaan die sneller trek op ’n paar tekke wat my weer gaan lus maak om bietjie aktief op die tennis- of padelbaan te wees.

Watter mislukking of skynbare mislukking het later vir jou sukses ingehou?
Voor Straatligkinders begin het, het ek op my eie musiek probeer maak en gekyk of ek as solo-kunstenaar aan die gang kan kom. Dit was nie ’n groot sukses nie. Ek het hier en daar in Potch musiek probeer maak en ’n show of twee gedoen, maar ek kon niemand oorreed om vir my ’n kans te gee nie. Gelukkig het die ouens van Straatligkinders van my geweet en my gevra of ek deel van hulle band wou word omdat hul geweet het ek maak musiek. Die res is geskiedenis. Partykeer moet jy maar eers ’n paar keer jouself verneder voor iemand jou raaksien.
As jy ’n massiewe advertensiebord (billboard) iewers kon opsit wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê?
“Moet nooit te lief raak vir iets wat nie lief kan raak vir jou nie.”
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het? Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
Toe ek 20 was, het ek geld by die bank gaan leen vir ’n kamera, want ek wou musiekvideo’s maak vir al die bands in Potch. Daai R20 000 wat ek geleen het destyds, het my die geleentheid gegee om visuele stories te begin vertel deur musiekvideo’s, wat later op universiteit komediesketse geword het. Hierdie komediesketse het later ’n kortfilm vir kykNet geword, wat toe daarna ’n volledige rolprent geword het en wat my deesdae aan die lewe hou. Deesdae skep ek komiese inhoud vir handelsmerke met ons advertensie-maatskappy. So ek dink dit is ’n kombinasie van geld en tyd wat ek belê het, want ek het myself net omring met storievertellers en ek wou net die stories binne my uitkry, maak nie saak hoe groot of klein die begroting was nie.
Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurds wat jy mal oor is om te doen?
Ek hou nie baie van vlieg nie. Ek moet gereeld vlieg vir werk, maar dis nie my eerste keuse van vervoer Kaap toe nie. Ek doen nogal gereeld die absurde deur met ’n motorfiets Kaap toe te ry as ek moet gaan skiet daar. Ek het al vier keer met verskillende motorfietse Kaap toe en terug gery. Van die N1 en die N12 tot allerhande vreemde agterpaaie. Ek is baie lief vir motorfietsry en ons land is ook net te mooi om heeltyd vanuit die lug te sien.
In die laaste vyf jaar, watter nuwe gewaarwording of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Om as ek aan iets snaaks of aan ’n liriek dink, dit dadelik neer te skryf, of ’n stemopname daarvan te maak. Jy weet nooit wanneer jy daai idee gaan nodig hê nie. Toe ek jonger was, was ek baie lui en ongehoorsaam wanneer daardie idees na my toe kom. Deesdae reageer ek dadelik, al kom dit in my slaap. Ek sal myself wakker maak, dit neerskryf of op my foon opneem en dan verder slaap. So daai klein, nuwe gewoonte help my baie om meer te skep en by die “goud” uit te kom.
Watter advies sal jy vir ’n jong gedrewe persoon gee wat op die drumpel is om die sogenaamde regte wêreld te betree?
Omring jouself met mense wat doen wat jy wil doen, en omring jouself met mense wat beter is as jy. Karakter is net so belangrik soos kwalifikasies. Bly altyd leerbaar – wanneer jy dink jy weet als raak dinge gevaarlik vir jou en as jy baie weet, deel dan met dié wat nie so baie weet nie. Om ander te help is ’n voorreg. Die wêreld het jou regtig nodig. Moenie dat iemand jou ooit anders vertel nie.
Wat is slegte advies wat jy al gehoor het in jou lyn van werk/kundigheid?
Dat jy ’n dramagraad of skryfdiploma moet hê om in die vermaaklikheidsbedryf te wees. Ons bedryf gaan oor netwerk en gesindheid. As jy die gesindheid het om te leer en om onder te begin, gaan jy een of ander tyd bo uitkom. Wat musiek betref, jy kan dit ook op jou eie aanpak. Die meerderheid kunstenaars het nie platekontrakte nie. As mens regtig iets wil doen, sal mens ’n manier vind om dit af te pull.
Oor die afgelope vyf jaar, wat is nou makliker om voor “nee” te sê? (Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe gewaarwordings het jou gehelp om dit te doen? Enige ander raad?
Ja-nee kyk, om “nee” te sê het een van die waardevolste woorde in my lewe geword. As jy jonger is, dink jy konstant jy moet elke geleentheid vat, want daar gaan nie nog wees nie. Maar die realiteit is dat as jy aanhou om goeie werk te doen, sal mense altyd aan jou deur kom klop. Balans is belangrik. Net so hard as wat jy werk, so hard moet jy ook rus. Die probleem met heeltyd “ja” sê, is jy doen dit meer om almal om jou gelukkig te hou, en dan is jy op die ou einde ongelukkig, want jy is moeg of uitgebrand. Wat ek wel kan sê wat vir my gewerk het, was om mense om my te kry wat my help en glo in my idees en drome en wat help om dit te maak werk. As jy mense het wat jou kan help dan kan mens soms by meer goed uitkom.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek skryf neer wat belangrik en dringend is. Daar is nogal ’n verskil tussen die twee. Ek kry dan eers die dringende goed van my tafel af en dan tackle ek die res. Dit help my soms om die goed op papier te sien, dan lewe ek nie so baie in my kop nie. Jou brein kan mos gou op jou draai en dis maar net ’n manier om my brein te fnuik.
