”’n Einde”, die tienertoneelstuk van Helpmekaar Kollege het verlede jaar tydens die ATKV se Tienertoneelkompetisie ’n algehele derde plek verower. Die twee akteurs wat die hoofrolle in ”ʼn Einde” vertolk, Zonika de Vries en Vian Singleton, is tydens hierdie landsfinaal wat in Kaapstad gehou is, aangewys as die beste aktrise en beste akteur in ’n hoofrol.
Eersdaags maak ”’n Einde” geskiedenis wanneer dit die eerste toneelstuk deur tieners is wat deel gaan vorm van die Oppiwater Kunstefees. Hierdie kunstefees, aan boord van die luukse MSC Orchestra, vind vanaf 11 tot 15 April plaas. Die luukse skip vertrek vanaf Kaapstad hawe na Walvisbaai. In hierdie vyf dae op water word daar verskeie teater- en toneelstukke, musiek, sang, komedie en dansvertonings aangebied. ’n Volwaardige kunstefees wat aangebied word in die luukse teaters aan boord van die skip.
Die tieners van Helpmekaar Kollege is deel van hierdie program. Vian Singleton is bekend vir sy rol as Thomas in 7 de Laan. Hy het ook die rol van Benjamin Komoetie in die verhoogproduksie van Fiela se Kind vertolk. Hy is vanjaar in matriek aan Helpmekaar Kollege. Zonika de Vries het in 2019 die rol van Racheltjie de Beer in die rolprent “Die storie van Racheltjie de Beer” vertolk. Nico Scheepers is die skrywer van ”’n Einde” en die regisseur is Linda-Beth van Niekerk.