ʼn Lieflike Smörgåsbord van Kersmusiek
Een van die wonderlike uitvloeisels van die COVID-tyd toe teaters en gehoorsale tydelik hulle deure gesluit het, is die Aubade-konserte wat maandeliks in samewerking met Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied word. Nou in Kerstyd word daar ʼn spesiale Aubade gevul met Kersmusiek aangebied en musiekliefhebbers word genooi om op Sondag 4 Desember die laaste Aardklop Aubade vir 2022 by te woon. Kersfees met Ockie Vermeulen en vriende beloof om gehore te betower en in ʼn oogwink in die regte luim vir Kersfees te kry. Die briljante musikante, Ockie Vermeulen (orrel), Charl du Plessis (klavier) en Lizelle le Roux (viool) gaan instrumentele verwerkings van die mooiste Kersmelodieë speel.
Charl du Plessis, wêreldgehalte pianis, sê hierdie konsert duur net een uur lank en maak dit die ideale geleentheid vir ʼn oggend se ontspanning ná kerk of voor ʼn heerlike ete. Aubade beteken immers ʼn liefdeslied bestem vir die oggend. Hy sê dat hierdie eenmalige konsert een is wat jy nie durf misloop nie. “Daar is nie so baie musiekproduksies hierdie tyd van die jaar wat Kersmusiek vier met instrumentale musiek nie. Die meeste van hierdie aanbiedings het kore of sangers wat deel is van die musikale aanbod. Wanneer ʼn Kerslied in ʼn spesifieke taal gesing word, maak jy eintlik die belewenis kleiner. Instrumentele musiek leen hom tot jou eie interpretasies. Wanneer jy die melodie van “Stille Nag” hoor, kan dit vir jou jou eie herinneringe bied, dit kan ook Stille Nacht of Silent Night wees wat vir ʼn Duitssprekende of Engelssprekende persoon ander herinneringe bied. ʼn Mens kan dus eintlik jou eie storie in jou kop maak.”
Hierdie musiekproduksie word vind om 11 uur die oggend in Afrikaanse Hoër Seunskool se skoolsaal plaas. Dié pragtige saal spog met ʼn uitstekende orrel en klavier. Daar is ook ʼn koffiewinkel op die terrein waar jy iets kan eet of drink voor of ná die uitvoering. Nog ʼn bonus is dat daar hope veilige parkering op die terrein is.
“Die baie interessante kombinasie van die klavier en orrel lok elke keer wat ek en Ockie saamspeel in ʼn konsert soveel komplimente uit. Die krag en grandiose klank van die orrel kombineer manjifiek met die klavier. Voeg daarby Lizelle le Roux se flair en briljansie op die viool, haar positiewe energie wat sy uitstraal en jy kan verseker wees van ʼn uur propvol heerlike vermaak. Dit is wêrelde verwyder van ʼn formele, stywe en swaar tipe konsert, maar die verwerkings is van so ʼn aard dat selfs fynproewers tevrede sal voel. Iemand wat dus na kwaliteit wil kom luister, sal nie teleurgestel wees nie,” sê Charl.
Van die melodieë wat gehoor sal word, sluit onder meer die immergewilde “Stille Nag”, “Bethlehem Ster”, “O Holy Night”, “Last Christmas” en “Somerkersfees” in. ʼn Ware Smörgåsbord van Kersmusiek. Kaartjies vir die konsert sal by die deure beskikbaar wees maar indien jy jou plek wil verseker, kan jy vooraf kaartjies by Ticketpro koop.