Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.

Skrywer: Chrislynn Sias
Kuier – 28 Oktober 2021
Foto verskaf
MUSIEK IS SY MAAT
Sy hart klop al op die maat van musiek sedert geboorte en hy beplan om nog vir baie lank liedjies te maak.
Frazer Barry (46), welbekend as deel van die groep Tribal Echo, betower al vir meer as 20 jaar nasionale en internasionale gehore met Afrika-klanke en hy is nie van plan om binnekort op te hou nie.
Dié bekroonde liedjieskrywer, sanger en komponis van Kleinmond in die Wes-Kaap het ’n fyn aanvoeling vir sielvolle musiek met ’n sterk Afrika-aanslag. Sy musiekrepertoire wissel van Afrika-ritmes, blues, funk, folk, reggae, jazz, riel-musiek en hip hop tot opgewekte tradisionele Bolandse en Kaapse klanke. Maar Frazer sing nie net omdat sing, sing is nie. Hy teken protes aan en gee aandag aan kwessies soos geweld. Alles goed waaroor hy ’n opinie het en ’n boodskap oor wil uitdra.
Hy is ook ’n TV-aanbieder en was in 2021 te sien in die Toyota US Woordfees-produksie Smeltkroes. Hy is ook die direkteur van sy eie produksiemaatskappy, OEPS! Ons Eie Produksie.
LIEF EN LEED
Dit is egter wanneer hy oor sy musiek praat wanneer sy liefde daarvoor tasbaar is. Hy lag en die heimwee is hoorbaar in sy stem wanneer hy praat van die eerste dag wat hy regtig met musiek connect het. “Ek het by my ouma se kombuistafel gesit en daar het musiek op die radio gespeel. Ek het die musiek in my kop begin hoor en het my ore toegedruk in ’n poging om die klank buite te hou, maar dit het nie gehelp nie. Die musiek wou net nie ophou speel nie. Ek was eintlik ’n bietjie bang, want ek het gedink my kop raas. Daar het verskillende melodieë en klanke in my kop gespeel en dit wou eenvoudig nie ophou nie. En dit was my ontmoeting met musiek.”
Frazer lag lekker voor hy sê hy skryf sy liefde vir musiek toe aan die feit dat hy ’n dag ná Krismis gebore is. “Toe ek by die huis kom van die hospitaal af toe speel die musiek heel waarskynlik. Om nie eers te praat dat ons hele familie musikaal aangedrewe is nie.”
Frazer sug diep voor hy sê hy het al tydens die negentigs musiek begin skryf. “Maar kyk, daai tyd het ek my gedagtes en skrywery styf teen my bors vasgehou. Om liedjies te skryf, was nie ’n baie manlike ding om te doen nie en daar was liewer van my verwag om rugby te speel. So, ek het aanhou skryf en dit stilgehou.”
Toe kom Frazer agter daar is nog van sy vriende wat hou van musiek maak. En dit is hoe Tribal Echo gebore is. Tribal Echo is ’n bekroonde en lewendige Suid-Afrikaanse orkes met hul eie Afrikaanse musiekstyl wat hulle “KlipKopRock” noem. Die band geniet dit om eg Suid-Afrikaanse verhale te skep en hierdie verhale in hul musiek te verweef. Die orkes het by Suid-Afrika se grootste feeste opgetree en in Nederland getoer en opgetree. Hulle het al twee albums Grafte oppi Vlakte en Onner Afrika Son uitgereik.
Frazer kan die opgewondenheid nie beteuel wanneer hy praat oor die musiek wat Tribal Echo gemaak het en hoe dit mense raak nie. “Wanneer iemand wat op dwelms was, kontak maak en sê een van ons liedjies het ’n verskil gemaak of iemand wat sê maar ’n liedjie het heling in sy lewe gebring, dan besef ’n mens opnuut weer hoekom jy doen wat jy doen. En dit is die verskil wat Tribal Echo maak. Dit is die verskil wat Frazer Barry altyd probeer maak.”
Frazer sê voorts hy skryf en sing nie net vir die lekkerte daarvan nie, maar omdat hy wil hê sy musiek moet ’n weerspieëling wees van die samelewing en die omstandighede waarin ons mense hulself bevind.
“Al die ander goed is ongelooflik, die prestasies, maar dís vir my die grootste en die lekkerste.”
Hoewel Frazer nou gelukkig en geborge is, vertel hy dat die lewe glad nie maklik vir hom was nie. Hy was net 8 maande oud toe sy pa selfmoord pleeg. En hy het later sy ma en ouma twee maande uitmekaar verloor. Hy en sy twee susters moes self sien kom klaar. “Daai tyd moes ek al leer dat die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie en dat dit jou op draaie gaan neem wat jy soms glad nie gaan verstaan nie. Die ding is net dié – jy moenie gaan plat lê nie. Jy moet nie nee vat vir ’n antwoord nie.”
Ná sy ma en ouma se afsterwe het Frazer en sy sibbe in ’n wendyhuis gebly. Daarna het hulle aansoek gedoen vir ’n huis en ná ’n paar jaar het hulle ’n huis van die staat ontvang. “My susters was gelukkig ouer as ek en kon gaan werk om brood op die tafel te sit en dit is hoe ons maar van dag tot dag oorleef het.”
Hoe hy moes oorleef as jong kind, het Frazer gehelp toe al sy shows gekanselleer was gedurende die pandemie. “Ek ken van met min klaarkom en toe die pandemie ons slaan, kon ek gelukkig leef van my spaargeld en ook die geld wat ons van die Tribute-fonds ontvang het. Die moeilikste was om nie op die verhoog te kon wees nie. Musiek is daardie multikulturele komponent wat ons almal saambind.”
TROTS OP SMELTKROES
En dit is ook hoekom Frazer so opgewonde was om aan ’n produksie soos Smeltkroes te kon werk. Die produksie het heerlike en hartroerende stories vertel, treffende en soms snaakse gedigte, musiek met Kaapse flair, ballades wat die hart raak, Klopse klanke, tong-in-die-kies dog ernstige kletsrym, ripping solo’s deur Henry Steel (kitaar), Ramon Alexander (klavier) en Lorenzo Blignaut (trompet). Daar was iets van alles. Mense kon ook dinge leer wat hulle nooit voorheen geweet het nie.” Digters en sangers, Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode, en die akteurs en sangers Devonecia Swartz en Breyten Treurnicht het deel van die produksie gevorm.
Luna Paige, vervaardiger van die produksie, het die volgende gesê: “Smeltkroes gaan nie net oor die mense van die Kaap nie, maar oor Suid-Afrika en haar mense – die stories oor ‘skaamfamilies’, liefde en leed in die tyd van slawerny en die invloed wat hierdie ryk geskiedenis op ons hedendaagse taal, gebruike, kos en musiek het. Ons vertel dié stories om te wys dat ons almal op een of ander wyse aan mekaar gebind is. Dat ons almal mens is, en dat ons almal lief is vir hierdie land waarin ons daagliks woon, en uiteindelik dieselfde wil hê – om gesien en gehoor te word, om gerespekteer te word, om te floreer en te voel of ons behoort – maak nie saak hoe ons verlede daarna uitsien nie.”
Frazer sê hy is nog lank nie klaar met die vermaakbedryf nie.
“Ek wil klank ontwikkel vir Suid-Afrikaanse films en daardie spasie betree. Wanneer ’n mens na plaaslike films kyk, gebruik hulle internasionale klank, maar hoekom kan hulle nie van die talent op eie bodem gebruik maak nie? Ons het ons eie unieke klanke wat eie is aan ons. My lewensroeping is om heling te bring deur middel van die stories wat ek vertel deur musiek. Ek sal dit aanhou doen tot die dag wanneer ek my oë toemaak . . .”