In Kaalkop sonder tuiste verwoord Johan Allers sy verhaal van ’n jong seun met ’n droom groter as hyself, sy werk by die SAUK en sy omswerwinge as buitelandse korrespondent in Duitsland en Nederland. Hy vertel van sy ontmoetings met van die wêreld se grootste leiers, onder andere Nelson Mandela en gesels oor gebeure wat die wêreld verander het. Met Johan se eerlike vertellings trek hy die luisteraar in en bied hy ’n persoonlike en unieke blik op mense en gebeure waarvan ons slegs die voorreg het om in koerante te lees. In die komende maande sal daar weekliks ’n nuwe episode van Kaalkop sonder tuiste op Afrikaans.com beskikbaar gestel word.
Episode 1: Ontmoeting met Nelson Mandela
In die eerste episode vertel Johan van sy ontmoeting met oudpresident Nelson Mandela. In hierdie episode leer ken ons op ’n subtiele manier die man agter die bekende wêreldleier. Luister gerus saam.
Episode 2: Johan vertel meer oor sy werk as joernalis
In hierdie episode van Kaalkop sonder tuiste vertel Johan van sy werk as joernalis in Suid-Afrika en die besef wat hom laat streef het na ‘n lewe buite ons land se grense: “Ek is klein. Klein teen die wanorde van die lewe.”
Episode 3: Johan vertel oor sy lewe in die buiteland
Met R6000 in sy beursie en slegs die adres en telefoonnommer van ‘n Duitse vriend in sy sak, land Johan in ‘n Air Luxembourg-vliegtuig op ‘n vliegveld net buite die stad. Hy het sy werk bedank, sy Mercedes Benz vir ‘n paar honderd rand verkoop en sy klere in een sak gepak. ‘n Lewe in die buiteland wag op hom.
Episode 4: Johan in Duitsland
Johan bevind hom in Duitsland. Die land, die kos en die kultuur is ‘n vreemdheid vir dié Afrikaanse seun wat nie weet wat die dag van môre gaan bring nie.
Episode 5: Johan saam met sy vriende in Duitsland
Dit is ‘n maand na sy aankoms uit Hamburg en Johan begin sy voete vind. Maar sy vermoedens oor die vriendelike, innemende Duitser by wie hy gereeld in Johannesburg gekuier het begin groei.
Episode 6: Johan, die onwettige immigrant
Johan se retoerkaartjies na Suid-Afrika het verval en hy bevind hom as onwettige immigrant. Interessante inligting kom na vore oor Ulrich en sy nuuskierigheid groei.
Episode 7: Johan bevind hom in ‘n woonstelletjie met die vrou van ‘n “internasionale boef”.
Hy kan nie help om terug te dink aan die nagtelike uitstappies, die geheimsinnige afsprake in duur hotelle en die bottel whiskey (altyd toegedraai in ‘n bruin papiersak) nie. Iets in hom sê hy moet hier wegkom.
Episode 8: Johan is uiteindelik wettig in Duitsland.
Hul karige meubels is veilig geberg in die bak van die trokkie wat hulle gehuur het. Daar is trane in sy oë. Hy verlang na die huis. Op daardie dag het hy sy vriend belowe dat hulle eendag sal huis toe gaan. Miskien oor 10 jaar as Suid-Afrika nie meer Suid-Afrika is nie.
Episode 9: Dis die jaar 1989 – ook bekend as die jaar waarin Johan hom gevestig het as “ons man in die buiteland”.
In hierdie episode van Kaalkop sonder tuiste vertel Johan van die val van die Berlynse muur en sy beriggewing oor hierdie historiese gebeurtenis.
Episode 10: Berlyn, die Paleis van trane.
Die val van die Berlynse muur is Johan se eerste groot storie. Die Koue Oorlog het tot ‘n einde gekom en hulle het net ‘n paar uur om opnames te maak. Hy vertel van hul stryd om die muur te bereik en die atmosfeer wat hierdie dag geheers het.
Episode 11: Tyd van politieke onrus.
In hierdie episode van Kaalkop sonder tuiste praat Johan van sy ervaring as Suid-Afrikaner in die buiteland in ‘n tydperk van politieke onrus in ons land. Hy gesels ook oor sy besoek aan Rusland en die noue ontkoming wat hy daar gehad het.
Episode 12: Kinderjare.
In hierdie episode van Kaalkop sonder tuiste gee Johan ‘n besondere blik op sy kinderjare.
Episode 13: In Lima, Peru.
Johan is in Lima, Peru waar hy besig is met ‘n dokumentêr oor kokaïensmokkelary. Dit veroorsaak dat hy homself dikwels in ongemaklikse situasies bevind. Luister saam!
Episode 14: Reis saam met Pik Botha.
In hierdie episode vertel Johan van sy reis saam met Pik Botha en deel sy stresvolste oomblik saam met die destydse minister van buitelandse sake.
*Die inhoud, kommentaar en menings soos in hierdie potgooi verwoord, is die van die skrywer en aanbieder en nie van Afrikaans.com nie.
Wie is Johan Allers?
Johan is in 1957 in Lydenburg, Mpumalanga in Suid-Afrika gebore. Vanaf kleintyd af al aan ’n liefhebber van die stories wat agter die berge skuil en van self stories vertel.
Johan se joernalistieke loopbaan het by die ou Transvaler en later by die SAUK afgeskop. In 1986 het die noodtoestand in Suid-Afrika sowel as die druk wat destyds op die SAUK toegepas is, hom genoop om sy vlerke te sprei en sy voete in Duitsland en later in Nederland te vind.
In sy tyd as buitelandse korrespondent het hy na meer as 50 lande gereis om stories te vertel en het hy die voorreg gehad om van die grootste figure uit die politieke-, kuns- en kultuurwêreld te kon ontmoet. Die lys is té lank. Hoogtepunte sluit onderhoude in met Kofi Annan, Boutros Boutros Ghali (beide voormalige sekretaris-generaals van die Verenigde Nasies), Tony Blair, Martti Ahtisaari, die voormalige president van Finland en die ontvanger van die Nobelprys vir Vrede. Johan het onder andere ook die voorreg gehad om te berig oor geskiedkundige gebeure soos die val van die Berlynse muur, die oorlog in Kosova (hy doen self verslaggewing vanuit Bosnia Herzegovina), die ineenstorting van die Sowjetunie en volg die verhaal van die eeu en die demokratisering van Suid-Afrika vanuit die buiteland.
“Vir my draai alles in die lewe om stories,” vertel Johan. “Stories skryf, stories vertel.”
Gedurende hierdie tyd ontvang hy twee Artes-nominasies, en kry hy ook die geleentheid om onderhoude met talle wêreldleiers van sy tyd te voer, insluitend Nelson Mandela, Thabo Mbeki en die hele grand elite. Sy laaste werk vir Suid-Afrika was twintig jaar gelede – Trippe Trappe Trone vir KykNET saam met Amanda Strydom en daarna ’n kort reis deur die suide van Amerika saam met Valiant Swart (Veertig Dae deur die Delta).
Na die vervaardiging van hierdie suksesvolle reekse, vervaardig hy ook ’n verskeidenheid dokumentêre programme vir Nederlandse televisie, onder andere saam met Prinses Laurentien. Hierdie dokumentêre programme was daarop gemik om bewusmaking onder immigrante te skep rakende die belangrikheid van lees en skryf. Een van Johan se bekendste programme, Dance of Life, het ook die ondersteuning van beide Aartsbiskop Desmond Tutu en Kofi Annan geniet. Hierdie suksesvolle internasionale program het bewusmaking oor Vigs geskep.
Buiten vir die erkenning wat hy vir hierdie reekse ontvang het, ontvang hy ook in 2010 die Nederlandse Onderwys- Innovasie-prys vir ’n onderwysprojek wat hy in samewerking met verskeie mediaplatforms aangepak het.
’n Terugkeer na sy hartstaal
Na twintig jaar keer Johan terug na sy moedertaal toe hy deur dr Fanie Marais van Cordis Trust genader is om die digbundel Gelykmaker, die eerste digbundel in Afrikaans oor COVID, in vers en klank aan te bied.
“Ek was skielik weer by die huis. Tuis in my taal. Dit is Cordis Trust, Fanie Marais, die digter Myra Lochner en die skrywer en uitgewer Nico Schamrel wat my geïnspireer en gemotiveer het om weer agter die mikrofoon in te skuif. Na al die jare is ek weer terug by my groot liefde, my taal en RADIO!”
Johan se weeklikse radioprogram AllesAfrikaans word tans op talle plaaslike radiostasies in Suid-Afrika uitgesaai en word in samewerking met Ns. Skrywershuis vervaardig.
Johan ontvang die Orde van die Goue Pen
In 2022 ontvang Johan die Orde van die Goue Pen van die Cordis Afrikaanse Woordkunsakademie. Hierdie prestige toekenning word toegeken aan diegene wat ‘n buitengewone langtermynbydrae tot die bevordering van Afrikaanse woordkuns gelewer het.
“Dit is deur sy lojaliteit, harde werk, opofferings en veral vir sy liefde vir Afrikaans dat Cordis Trust hom vereer met die Orde van die Goue Pen – vir uitmuntende aktuele joernalistiek en die uitbou en verryking van Afrikaans, deur die skep van blootstelling en mediadekking vir bydraes van talentvolle woordkunstenaars, m.b.t. prosa, poësie, sang en drama,” sê Fanie Marais, trustee van die Cordis Trust. “’n Welverdiende eer, maar ook ’n beëdiging van ’n suksesvolle visie waarin ’n droom, groter as hyself, tot gestalte gekom het.”
Oor hierdie groot eer sê Johan: “My werk is my identiteit en my identiteit is die somtotaal van my lewenspad, die plek en tyd van my koms na hierdie aarde, my taal en kultuur en die soms mooie en soms minder mooie kronkelpaaie van ons bestaan. Afrikaans is die taal waarin ek die boek van my lewe leef en skryf. Die Orde van die Goue Pen is ‘n onverwagse juweel, ‘n skitterende blink klippie wat die reisiger in die woestyn ontdek. Jy hou dit vir altyd in jou broeksak, want dit gee jou krag, moed en durf. En ‘n stukkie geluk, trots en tevredenheid. Dit is in-spi-rasie, diep asemhaal en vorentoe kyk.”
Johan het ook onlangs die Kaapstad Radio se 2022-toekenning vir Beste Potgooi ontvang (vir AllesAfrikaans – sy radioprogam).
Johan Allers was ook die stem agter die gewilde Padkampstories op Afrikaans.com. Klik hier om te luister.