Skrywer: Alita Steenkamp
Waar ʼn mens deesdae gaan, kan jy die radio saam met jou neem. As ʼn draagbare FM’pie, die radio in jou motorkar, jou selfoon, jou rekenaar en jy kan selfs deur middel van jou DStv-skottel luister. Oral en op enige manier kan jy inskakel op geliefde radioprogramme. Dit was natuurlik nie altyd so nie en sestig, sewentig jaar gelede, was radio’s glad nie eers draagbaar nie. Toe moes jy voor die transistorradio gesit het, indien jy wou luister.
Die koms van die radio het natuurlik ʼn lang en interessante geskiedenis.
Reeds tussen 1886 en 1888 het ene Heinrich Rudolf Hertz daarin geslaag om elektromagnetiese golwe (radiogolwe) suksesvol deur die lug aan te stuur. Hierdie eksperiment het almal se verbeelding aangegryp, en vinnig was daar meer en meer hoopvolles wat saamgewerk het om dit uiteindelik ʼn manier te maak om inligting na elkeen wat die nodige toestel besit, uit te stuur. Hier in Suid-Afrika was daar vanaf Julie 1924 heelwat kleiner en private uitsenders wat met radio-uitsendings begin eksperimenteer het. Uiteindelik het ene IW Schlesinger almal in 1927 in die African Broadcasting Company saamgesnoer. Hy het uit Amerika na Suid-Afrika gekom en sy rykdom hier op die goudvelde bymekaargemaak. Gelukkig was Schlesinger Afrikaans goedgesind en hy het van die begin af toegelaat dat daar saans ook Afrikaanse programme uitgesaai word. Skrywers en kunstenaars soos ME Rothman, Anna Neethling-Pohl en WA de Klerk het toenemend in hierdie uitsendings opgetree en sekere skrywers soos CM van den Heever, Eitemal en Boerneef het spesiaal vir die radio begin skryf.
Die SAUK het die African Broadcasting Services oorgeneem en op 1 Augustus 1936 begin uitsaai, in Engels. Net meer as ʼn jaar later, op Woensdag 27 Oktober 1937 is die Afrikaanse Diens van die SAUK bekendgestel. Dit was die begin van ʼn lang en kleurvolle reis vir Afrikaanse uitsendings.
Die oorlogswolke het in daardie tyd begin saampak, en die SAUK het later baanbrekerswerk gedoen, aangesien hulle een van die eerste radiodienste was wat nuus vanaf die oorlogsfront uitgesaai het, met die hulp van ʼn mobiele eenheid.

Net ná die oorlog, in Oktober 1945, is die versoekprogram, U eie keuse, vir die eerste keer uitgesaai. Hierdie program, wat steeds op Saterdagaande deur Willem Pelser uitgesaai word, is die oudste radioprogram op Suid-Afrikaanse radio. Luisteraars stuur hulle versoeke van klassieke en kunsmusiek na die omroeper wat dan daaruit ʼn seleksie vir die weeklikse program maak. Verskeie omroepers het oor die jare hierdie gewilde program aangebied.
“U Eie Keuse”

Foto links: Die heel eerste aflewering van ‘U Eie Keuse’ was op Saterdag 20 Oktober 1945. Kosie Jooste was die aanbieder. Dit was sy jongste broer, Willie – toe slegs 17 jaar oud – se voorstel dat die “Baltoneel” van Joseph Hellmesberger as temalied gebruik moet word. Byna 76 jaar later en die tradisie word nog al die pad voortgesit.
Foto regs: Willem Pelser, huidige aanbieder van ‘U Eie Keuse’.
Fotos verskaf deur – RSG
Tot aan die einde van 1985 het die twee dienste bloot as die Afrikaanse en Engelse diens van die SAUK bekendgestaan. Op 1 Januarie 1986 word dit vervang met twee nuwe dienste Radio Suid-Afrika en Radio South Africa
Toe daar in 1992 begin is om in stereo uit te saai, het die radiostasie weer ʼn naamsverandering ondergaan en is dit Afrikaans Stereo gedoop. Vier jaar later, in Oktober 1996¸ kry die stasie die naam wat dit steeds dra: Radiosondergrense, oftewel RSG. Danksy moderne tegnologie is hierdie radiostasie beslis nou sonder grense, want ʼn mens kan enige plek op die aarde wees, en na die stasie luister danksy die internet.
Vandag is RSG ʼn moderne radiostasie wat ʼn wonderlike diens aan alle Afrikaanse luisteraars bied en die stasie spog met meer as 1,3 miljoen luisteraars.
Louise Jooste, besigheidsbestuurder van RSG sê daar is hierdie maand oorgenoeg rede om fees te vier, want 85 jaar se uitsending in Afrikaans is ʼn wonderlike prestasie.
“RSG en Afrikaanse radio bied ʼn uitstalvenster vir verskeie talentvolle persone om sodoende die volgehoue ontwikkeling van Afrikaanse kuns, wetenskap en kultuur te bevorder. RSG was nog altyd die voorloper op soveel gebiede en het die baken en standaard vir die res gestel om te volg. Onlangse navorsing wat voorgelê is dui aan dat radio, gedrukte media en buitelugadvertensiemediums sedert 2017 ʼn afname getoon het. Digitale media is besig om alle mediums verby te steek en dus is die kompetisie nie meer net ander radiostasies nie. Almal veg vir dieselfde verbruiker se tyd! Maar ten spyte van ʼn veranderde landskap, het RSG steeds die hoogste lojaliteitsyfer van alle radiostasies – ʼn stewige 40%. Dit beteken amper die helfte van RSG se luisteraars luister slegs na RSG en geen ander radiostasie nie, terwyl navorsing toon dat die gemiddelde persoon na twee of drie verskillende stasies luister,” sê Louise.

RSG het besondere moeite gedoen om hierdie 85 jaar wat daar in Afrikaans uitgesaai word, te vier en verskeie programme het seker gemaak dat die luisteraars kon terugloop in tyd. Terrance April het in die argiewe gaan krap vir die afgelope paar dekades se program-, sport-, geskiedenis- en luisteraarshoogtepunte en dit verpak in sy Die magiese mikrofoon. Fritz Klaaste het op Saterdagoggende die nommer 1-treffers van die afgelope 85 jaar afgetel.
Die 85-jarige feesvieringe word Saterdagaand 29 Oktober op ʼn besonderse hoogtepunt afgesluit wanneer die oudste radioprogram, U eie keuse, in die formaat van ʼn regstreekse konsert, uitgesaai word. Hierdie konsert van bykans twee ure word uitgesaai vanuit die SABC se M1-Ouditorium in Aucklandpark. ʼn Orkes en besonderse soliste gaan sorg vir ʼn ongelooflike ervaring. Die program word vanaf 20:00 tot 22:00 uitgesaai.
Louise vertel daar word ʼn hele paar spesiale dinge vir Donderdag se amptelike verjaarsdag beplan:
“Dit is die eintlike groot dag! Verskeie spesiale boodskappe sal op dié dag uitgesaai word. Die middag sal Spitstyd met Willem Pelser weer Skote Petoors aanbied – destyds ʼn baie gewilde program waar ʼn span moes raai watter beroep ʼn persoon beoefen met komiese gevolge. Later die aand, om 20:00, word ʼn opdragdrama deur die bekroonde dramaturg Lee Doubell opgevoer. June van Merch vertolk die hoofrol en Johan Rademan is die regisseur van Sou die sterre luister.
“Die volgende paar dae word daar steeds feesgevier. Vrydagaand om 20:00 is daar ʼn RSG Kunstefees argiefaanbieding van Afrika in Afrikaans, ʼn konsert met Anna Davel, Gloria Bosman en Timothy Moloi. Saterdag se RSG Sport is ook ʼn opwindende program met bekende sportsterre se verhale, die ontwikkeling van die sportbedryf, herinneringe aan bekende sportkommentators en vele ander hoogtepunte,” sê sy.
Ons kyk met groot dankbaarheid in ons hart terug op 85 jaar se radiovreugde wat die Afrikaanse radiodiens, deesdae RSG, aan oud en jonk gebring het.
Daar was aktualiteit en nuus, drama, stories, kinder- en jeugprogramme, godsdiens- en opvoedkundige programme, sportuitsendings, saampraatgeleenthede, musiekprogramme oor die hele wye spektrum, letterkundige programme en boekvoorlesings en bowenal het die radio nog altyd geselskap gebring. Veral daar waar iemand iewers stoksielalleen voor die radio sit. Baie geluk aan RSG! Ons sien uit na die volgende 15 jaar se uitsendings, sodat ons in 2037 ʼn glasie op 100 jaar van Afrikaanse radio kan lig.
Die akteurs en regisseur van “Sou die sterre luister” deur Lee Doubell.

Vlnr is Marissa Claasen (Harpo), Johan Rademan (regie), Anrich Herbst (Johan), Dean Balie (Raylin), Anna-Mart van der Merwe (Odele), June van Merch (Maria) en Johann Nel (Arrie).
Foto verskaf deur – RSG.