Op Sondag, 14 Augustus, vier ons Taaldag. Alhoewel Afrikaans nie ʼn spesifieke geboortedag of -plek het nie, word 14 Augustus as viering van die ontstaan van ons taal uitgesonder, want dit is die dag waarop die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig is. Hierdie organisasie se stigting was belangrik, want hulle was ʼn dinamiese dryfveer agter die beweging om Afrikaans as ʼn amptelike skryf-, skool- en kanseltaal erken te kry.
Afrikaans is beslis een van die jongste tale in die wêreld.
Byna 7 miljoen mense in Suid-Afrika praat Afrikaans as hulle huistaal. Dit is ʼn volle 13,5% van die Suid-Afrikaanse bevolking en is veel meer as Engels wat deur 4,8 miljoen mense as moedertaal in Suid-Afrika gepraat word.
Die prestasie van Afrikaans ten opsigte van poësie, prosa, drama en lirieke, gee ons soveel om op trots te wees.
Wanneer jy na ons taal se naam kyk, sien jy dat die woord “Afrika” die kern van die woord “Afrikaans” vorm.
Ons taal is beslis ʼn kosbare skat, gewortel in die suidpunt van Afrika.
Gaan koop ʼn Afrikaanse boek op Sondag 14 Augustus, verlustig jou in die skoonheid van ons taal op vele terreine. Afrikaans is die taal van soveel mense hier aan die suidpunt van Afrika, en dit is meer as genoeg rede om te vier.