ʼn Splinternuwe teaterproduksie om musiek, teater en die rol wat musiek in ons lewens speel te vier, is eersdaags op die planke. Afrikaans in Styl, ʼn elegante, tydlose konsert met drie topmusikante op die verhoog, word op Saterdag 27 Augustus en Saterdag 3 September aangebied.
Karen Zoid, Nataniël en Stef Bos gaan die gehoor in hierdie eiesoortige musikale produksie bekoor. Die briljante Steinway-pianis, Charl du Plessis, tree as musikale regisseur op en sal self in aksie gesien word. Matthys Maree, die organiseerder van hierdie vertoning, sê ná die afgelope twee en ʼn half jaar waarin kunste byna tot ʼn stilstand gekom het weens die Covid-pandemie, is daar ʼn groot behoefte aan ʼn produksie soos hierdie.
Kunstenaars is honger om weer voor groot sale vol mense op te tree, en die publiek het ʼn behoefte om kunstenaars van hierdie gehalte regstreeks te sien optree.
Wat Afrikaans in Styl so uniek maak is dat dit in ʼn teaterstyl aangebied word, maar hierdie keer in ʼn groot arena formaat.
Die vertoning in Pretoria vind op 27 Augustus in Time Square se SunBet Arena plaas. Kaapse gehore kan op 3 September in die Grand Arena, GrandWest na die besondere produksie gaan kyk.
Elk van die drie kunstenaars bied ʼn vertoning van sy of haar eie aan en nooi ook ander kunstenaars om saam met hulle die verhoog te deel. Dit alles bly ʼn heerlike verrassing. Nataniël wat bekend is vir sy flambojante kostuums maar ook indrukwekkende musiek, gaan veral glans aan die vertoning verleen. Karen Zoid het al deur en deur bewys dat sy ʼn gehoor in die palm van haar hand kan hou, en sal met hierdie vertoning ook nie teleurstel nie. Stef Bos het pas weer in Europa vol sale getrek en is ʼn gerekende kunstenaar in die Lae Lande. Hy is die eerste buitelander wat ʼn toekenning ontvang het vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en musiek. Om kaartjies vir Afrikaans in Styl te bespreek, besoek https://www.seatme.co.za/tc-events/afrikaans-in-styl-main-event-page/