Foto: Sandra Prinsloo, Marlene le Roux en Anroux Marais saam met ‘n klein groep gaste.
Skrywer: Nicolette Kritzinger
’n Diverse groep gestremdes, wat weens hul gestremdheid en sosio-ekonomiese omstandighede baie beperk word, is onlangs met ’n teateropvoering by Kunstekaap (Artscape) bederf.
Die inisiatief van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is reeds in 2019 geneem, maar kon weens die Covid-pandemie eers hierdie jaar deurgevoer word. Altesaam 15 persone in rolstoele van die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum en hul helpers asook 22 siggestremdes, wat deur gidshonde gelei word, hul honde en hul metgeselle het Spertyd, wat deur veteraan-aktrise Sandra Prinsloo opgevoer word, bygewoon. Prinsloo is ook die voorsitter van die SBA.
Mense in rolstoele en diegene met gidshonde het voor die opvoering in afwagting by die Chandelier Foyer en Theatre Foyer Well rondgesit. Die atmosfeer was gelaai met opwinding.
Vir baie gaste was dit hul eerste teaterervaring.
Baie van die gaste wat voorheen ‘n vertoning by Kunstekaap bygewoon het, is dit eens dat die “luuksheid van teater” nie altyd toeganglik is nie.
Dr. Marlene le Roux, direkteur van die Kunstekaap-teater en dr. Niel le Roux, hoof van die SBA, het die gaste verwelkom. “Ons is trots op die SBA wat dit moontlik gemaak het om julle vandag hier te hê,” het Marlene voor die vertoning gesê.
Peter Rooy (62) van Bishop Lavis hou van teater. Rooy is deel van die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum se pasiënte. Hy het in 2013 ’n beroerte gehad en moes daarna ‘n rolstoel of soos hy dit noem ‘n “4×4” gebruik. “Ek is baie dankbaar vir die SBA vir die geleentheid om weer by die teater te kon uitkom.”
Na afloop van die opvoering was die gehoor sigbaar aangedaan deur die storielyn en Prinsloo se goeie toneelspel.
“Dit was briljant! Dit was my eerste keer by die teater en ek het dit baie geniet,” het Jody Africa van Bishop Lavis gesê.
Maatje Kloppers, ’n arbeidsterapeut en bestuurder by die sentrum, sê dit was ’n fantastiese vertoning. “Dit was ’n baie lekker geleentheid vir ons pasiënte om uit te kom en om blootgestel te word aan kultuur.”
Elna Durr, Rinette von Mollendorf, David Jacobs en Wentzell Barnard het ook die vertoning gesien. Von Mollendorf het ’n gidshond genaamd Lexis. Jacobs het vir Durr (siggestremde) en Von Mollendorf na die opvoering geneem.

Wentzel Barnard met Lexis, Elna Durr, Anroux Marais en Rinette von Mollendorf. In die agtergrond is dr. Marlene le Roux.

Niel le Roux en Marlene le Roux.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Die storielyn van die verhoogstuk is so relevant, veral vir vandag se gaste.”
Johan Pretorius, provinsiale bestuurder van DoofBlindSA, het na afloop van die vertoning die SBA geloof. “Ek kan net my hande saamslaan in verwondering en dankbaarheid oor die SBA en Sandra se teateraanbieding in die Artscape! Almal het die uitstappie en teaterervaring terdeë geniet – veral al die gidshonde ook!”
Stephne Botha van Innovation for the Blind, sê woorde is nie genoeg om dankie te sê nie. “Die samewerking met SBA laat my steeds in verwondering. Daar is ’n oorgawe in die wyse waarop hierdie geleenthede geskep word vir persone met visuele gestremdhede asook persone wat doofblind is, wat regtig prysenswaardig is.”
Nuhraan Davids van die South African Guide Dogs Association for the blind, het ook die SBA bedank. “Dankie dat julle ons gidshondeienaars na die produksie genooi het. Ons het soveel goeie terugvoering gekry. Ons personeel wat daar was, het dit ook vreeslik baie geniet.”
Die gidshonde wat die voorste sitplekke in die teater ingeneem het, het hulle deur die hele vertoning goed gedra.
Sandra is werklik spesiaal. Ek het nie woorde om te beskryf hoe ek voel dat sy so iets gedoen het nie. Dankie aan die twee Le Roux’s ook.