Al ons drome kan waar word, mits ons die moed het om dit na te jaag. Met hierdie woorde het die suksesvolle filmmaker Walt Disney al baie jongmense geïnspireer. Baie keer sit ons egter met drome, maar ons weet nie hoe en waar om te begin nie. Theodore Roosevelt, ʼn voormalige Amerikaanse president, het egter ook wyse raad hiervoor gehad: “Begin waar jy is. Gebruik wat jy het. Doen wat jy kan,” was sy woorde. Om sukses in jou lewe te behaal, is dit egter nodig om so vroeg as moontlik hierdie raad te volg. AfriForum het in 2019 besluit om ʼn kompetisie in te stel waarmee jong entrepreneurs aangemoedig kan word om reeds van ʼn jong ouderdom af entrepreneursvaardighede te ontwikkel. Die AfriForumbesigheidsbytjies-kompetisie, soos dit bekendstaan, se mikpunt is om kinders en jongmense aan te moedig om ʼn verskil in die gemeenskap te maak deur een of ander entrepreneursprojek. AfriForum poog ook om kinders te laat besef dat niks in jou pad kan staan wanneer jy jou eie idee vat en hard werk om ʼn sekere doelwit te bereik nie. Dié aanlyn kompetisie is intussen uitgebrei sodat hoërskoolleerders, sogenaamde juniorpreneurs, ook hieraan kan deelneem. In die moeilike ekonomiese tye waarin ons lewe is dit nou meer as ooit nodig om entrepreneurskap aan te moedig en te ontwikkel.
Skryf vandag nog in
Besigheidsbytjies is vanjaar weer volstoom aan die gang. Inskrywings vir vanjaar se kompetisie sluit op 11 Oktober en inskrywingsvorms kan hier afgelaai word. Daar is groot kontantpryse op die spel in elkeen van die verskillende kategorieë.
Besigheidsbytjies word verdeel in twee afdelings – Hommelbytjies met die onderafdelings Grondslagfase (graad 1 – 3) en Intersenfase (graad 4 – 6). Die ander afdeling is Juniorpreneurs wat onderverdeel word in Seniorfase (graad 7 – 9) en VOO-fase (graad 10 – 12). Die kompetisie het ook vanjaar twee ekstra kategorieë gekry. Die eerste is die AfriForum Wêreldwyd wat onderverdeel word in ʼn kategorie vir kinders 7 tot 12 jaar en ʼn ander kategorie vir 13 tot 18 jaar. Enige jongmens wat in die buiteland woon en deel van hierdie ongelooflike ervaring wil wees, kan hiervoor inskryf. Die ander nuwe kategorie is die Saai-kategorie wat deel is van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI). Jongmense wat belangstel in die landbou kan hiervoor inskryf. In hierdie kategorie is daar ook twee onderafdelings. Een vir laerskool- (graad 1 – 7) en een vir hoërskoolleerders (graad 8 – 12).
Besoek die webtuiste www.besigheidsbytjies.co.za vir ʼn gids met al die reëls en vereistes om aan die kompetisie deel te neem. Daar is ook waardevolle inligting oor entrepreneurskap en wenke vir enige jong entrepreneur om aan die gang te kom met ʼn idee, en volstoom daarmee voort te gaan. Hier kan jy ook leer hoe om ʼn besigheidsplan op te stel. ʼn Besigheisplan is immers die ruggraat van enige suksesvolle onderneming.
Vir enige navrae oor vanjaar se AfriForumbesigheidsbytjies-kompetisie, stuur ʼn e-pos aan besigheidsbytjies@afriforum.co.za